Volgens dr. Nico Lourens, ’n uroloog aan die Urologiehospitaal in Pretoria, kan die kleur van jou urine belangrike inligting oor jou gesondheid verklap. 

“Wanneer ’n persoon min vloeistof drink, hou die niere water terug in die bloed om bloeddruk en normale sirkulasie te handhaaf. Hoe langer die menslike liggaam sonder vloeistofinname gaan, hoe donkerder word die urine,” vertel dr. Lourens. 

Algemene kwale

Pasiënte besoek gewoonlik ’n uroloog omdat hul urine brand, onwelriekend is of somtyds bloed bevat. “Pasiënte kla ook soms van urine wat lek, byvoorbeeld wanneer hulle hoes, lag of swaar voorwerpe optel.

Dié simptome kom veral by ouer vroue voor. Party pasiënte sukkel ook om te urineer,” vertel hy.

Daar is moontlike afleidings wat 'n mens uit die kleur van jou urine kan maak. Moet dus nie bang wees om ’n ogie daaroor te hou nie; en raadpleeg jou dokter as die kleur opmerklik verander. Let wel: Hierdie kategorieë is net riglyne; gaan spreek jou dokter as jy oor enigiets bekommerd is. 

Gesond 

Liggeel

Liggeel is waarskynlik die algemeenste kleur met 96% van urine wat uit water bestaan en die res afvalstowwe. Dié kleur kom van ’n geel pigment, urochroom, ’n neweproduk in die afbreek van die groen gal wat vertering bespoedig. Urochroom dien nie regtig ’n doel nie, maar die uroloog Marc Laniado van Windsor Urology, Engeland, verduidelik dat dit nuttig is om te kyk hoe verwater urine is. 

“Die ideaal is dat as urine in ’n deurskynende bottel is, jy ’n koerant of iPad daardeur kan lees. As jou urine donkerder is, kan dit daarop dui dat jy meer water moet drink,” het hy aan Mail Online verduidelik.

Aanvaarbaar 

Heldergeel

As jy heldergeel urine het, kan dit ’n aanduiding wees van ’n oormaat vitamiene. Mense wat aanvullings inneem, sal die kleur van hul urine sien verander omdat die tablette meer vitamiene bevat as wat die liggaam kan absorbeer, maar as jy by vrugte en groente as natuurlike bronne van vitamiene hou, sal die verkleuring minder opmerklik wees.

“Die liggaam kan vitamiene B en C vinnig absorbeer, maar kan dit nie opberg nie; daarom moet dit in urine uitgeskei word,” het Neal Patel van die Britse koninklike aptekersvereniging oor die wateroplosbare voedingstowwe gesê. Blou lig laat ook jou urine helderder lyk.

Blou of groen

Ander vreemde kleure soos blou of groen hoef jou nie regtig te bekommer nie omdat dit kan wees weens gekleurde kos soos koek. Dieselfde geld vir rooi of pienk urine. Medikasie kan ook ’n rede wees hoekom jou urine ’n buitengewone kleur het.

Kommerwekkend

Oranje

Oranje kan aandui dat jy ontwater is, wat dalk soggens die geval kan wees as jy heelnag niks gedrink het nie. Of jy eet dalk te veel souterige kos wat veroorsaak dat jou natriumvlakke ongebalanseerd word en jou niere meer water opgaar en jou urine verdonker.

Net so kan jou galbuis geblokkeer word deur iets soos ’n sist of, in ernstiger gevalle, ’n gewas wat geelsug kan veroorsaak.

Pers

Pers urine kan ’n aanduiding wees van die skaars genetiese afwyking porfirie. Dit gebeur wanneer jou liggaam te veel van die pers pigment porfirien vervaardig wat bloedselle suurstof in die liggaam help versprei. Wit of troebel urine moet ook ernstig opgeneem word omdat dit op ’n bakteriële ontsteking kan dui.

Wanneer moet jy ’n dokter besoek? 

Wanneer enige urienwegsimptome (byvoorbeeld branderigheid, bloed in die urine of onwelriekendheid) nie binne ’n dag of twee verbeter nie, en veral as dit opnuut opvlam, moet daar nog ondersoeke gedoen word, maan dr. Lourens. 

Aangesien die niere tesame met die hart, lewer en brein die liggaam se totale vogbalans beheer, kan dit gebeur dat ander siektes ook hulself met urienwegsimptome voordoen.

"Diabetes is ’n goeie voorbeeld. Mense wat ongediagnoseerde diabetes het, kla gewoonlik dat hulle pal dors is en die hele tyd wil urineer. Dit is een van die gevaarligte van diabetes waarvoor ’n mens moet uitkyk," sê dr. Lourens. 

"Bloederige urine moet ondersoek word, veral in ouer mense met ’n familiegeskiedenis van kanker aangesien dit ’n moontlike eerste teken van kanker kan wees."

“Ander waarskuwingstekens of gevaarligte sluit in wanneer die simptome met koors, skielike gewigsverlies, pyn of bloederige urine gepaardgaan. Enige urienwegsimptome in kinders en mans moet ondersoek word. Antibiotika kan kortstondige verligting bring, maar as die simptome aanhou, moet daar liefs by ’n kundige aangeklop word," sê hy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!