Die sosialemedia-platform Pinterest het sy 100 Report uitgereik waarin voorspel word wat die komende jaar gewild gaan wees, onder meer wat ons gaan eet en drink. As ons na dié paar topneigings kyk, lyk dit asof die wêreld se obsessie met gesond eet voortgaan.

Suiwelvrye nageregte

Smaakgenot vir veganiste ná ete is hoog op die lys. Veganisme word aangeprys as een van die gesondste maniere van eet. Aangesien dit deur beroemdes soos Miley Cyrus, Beyoncé en Jennifer Lopez onderskryf word, volg ál meer mense die leefstyl waar geen diereprodukte gebruik word nie.

’n Volle 329% meer mense het vanjaar "vegan desserts" gebêre (“save”) op Pinterest; daarom glo smaakskeppers dat suiwelvrye nageregte in 2018 ’n uiters gewilde neiging gaan wees.

Proteïenkoffie

Proteïenverbruik, eens liggaamsbouers se gebied van kundigheid, het ’n leefwyse geword vir gimpoppies. En volgende jaar sal die gewildheid van proteïenkoffie toeneem.

Soekers vir "gesonde koffie" het in so ’n mate toegeneem dat 218% meer gebêre is as verlede jaar. Borrie- en Macakoffie sal na verwagting groot nuus wees.

Sop

Versapping is ou nuus. In 2018 gaan almal sop maak. 

Sopsoorte is 306 keer meer gebêre, en mense verkies om sop tuis te maak in hoeveelhede wat ideaal is vir koue weer en wat propvol opbouende groente en peulgroente is.

Braai-met-lug

Vergeet ongesonde diepvetbraaitoestelle – braai-met-lug is hoogmode en sal net gewilder raak.

Dit is vanjaar 1 809% meer keer gebêre, met lugbraaitoestelle wat heerlike kos, soos slaptjips, sonder die vet van die tradisionele braaiproses gaarmaak.

Suiker-ertjies

Vanjaar is 273 keer meer na suikerertjies gesoek. Dit lyk asof meer mense aan suikerertjie-skyfies wil peusel. Jy kan glo in die komende jaar nog meer geure en soorte verwag.