Voel jy dikwels moeg, lighoofdig en geïrriteerd? Dié simptome, tesame met gereelde hoofpyn, droë vel en hardlywigheid kan ’n gevolg van ontwatering wees.

Die atnwoord op jou probleme is dalk so eenvoudig as om meer water in te neem – of in party gevalle ’n mondelingse rehidrasie-soutoplossing wat elektrolietbalans herstekl  en rehidrasie steun. 

Dis hoekom ons daagliks genoeg water moet drink: 

Ons is grotendeels water

Ons liggaam bestaan uit sowat 60 persent water. Elke dag verloor ons daarvan deur sweet, urine en selfs net asemhaling.

As jy nie gereeld aanvul wat verlore word nie, het jou liggaam nie genoeg water om sekere funksies te onderhou nie en probeer dit deur middel van boodskappe van dors, hoofpyn en moegheid vir jou sê.  

Water speel ook ’n belangrike rol om volwassenes en kinders op warm dae koel te hou. Dit help met breinwerking, dra suurstof deur die liggaam en help van afvalprodukte ontslae raak.

Ontwatering oor ’n lang tydperk kan tot nierversaking, hittesteek, skade aan die senustelsel, hartversaking en ’n verswakte immuunstelsel lei.

Smering van gewrigte

Die kraakbeen wat in ons gewrigte voorkom en die skywe in die ruggraat het water nodig om gesmeer, gekussing en buigsaam te bly.

Dié gewrigsvog bestaan uit sowat 80 persent water en die werk daarvan is om wrywing tussen gewrigte te verminder. 

Ontwatering kan die vermoë daarvan aantas om skok te absorbeer, wat tot gewrigspyn en komplikasies kan lei. 

Help met vertering

Behoorlike vertering help met die absorbering van minerale en voedingstowwe en die verteringskanaal het genoeg water nodig om behoorlik te werk. 

Wanneer daar nie genoeg water in die stelsel is nie, onttrek die dikderm water uit stoelgang om gehidreerd te bly, wat hardlywigheid kan veroorsaak. ’n Gebrek aan water kan ook tot ’n oormatig suur maag, sooibrand en maagswere lei. 

water
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Voorkom nierskade

’n Nier se werk is om vloeistof in die liggaam te reguleer en van die water word in die vorm van urine verwyder. Die oorblywende (water) word deur die bloedstroom herwin.

As die niere nie behoorlik werk nie, kan oortollige vloeistof en afval in die liggaam opbou. 

Reguleer temperatuur

Jy verloor die water wat in jou liggaam is deur sweet, veral wanneer dit warm is. Sweet op jou vel help jou liggaam afkoel. Wanneer daar nie genoeg water in jou liggaam is om sweet te skep nie, tas dit jou liggaam se natuurlike verkoelingsmeganisme aan. 

Hou hoofpyn weg

Dit kan hoofpyn help voorkom as jy gehidreerd bly. Daar is selfs bevind dit voorkom in sommige gevalle migraines, want ontwatering lei tot minder suurstofvloei na die brein en uitgesette bloedvate. 

water
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hou vel stralend

Water is nodig om die grootste orgaan van jou liggaam plomp te hou. Dit help ook die kleur en tekstuur van die vel behou deur met die bou van nuwe selle te help. En dit help jou vel vog behou wat die elastisiteit daarvan verbeter. 

Help met gewigsverlies

Verskeie studies het al ’n verband tussen verhoogde waterinname en gewigsverlies getoon.

In een so ’n studie aan die Dr. DY Patil- mediese kollege, hospitaal en navorsingsentrum in Indië het die drink van 1,5 L water per dag gehelp om oorgewig mense se eetlus te onderdruk en liggaamsvet te verminder. 

Water spoel ook gifstowwe uit wat selluliet veroorsaak en kan die liggaam se algehele metabolisme- (vetverbrandings-) koers verhoog. 

Gee jou brein ’n hupstoot

Om met net 2 persent ontwater te wees, kan jou aandag en geheue aantas, volgens navorsers aan die Universiteit van Barcelona se sielkunde-fakulteit. 

’n Ondersoek aan die Universiteit van Connecticut in Amerika het getoon dat wanneer deelnemers effens ontwater was, hulle verminderde konsentrasie, teneergedruktheid low mood, hoër moegheid- en angsvlakke en hoofpyn ervaar het. 

water
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kry jy genoeg? 

  • Hoeveel water moet jy per dag drink? Die leefstylkenner Lisa Raleigh van Kaapstad beveel een glas (250 ml) vir elke 10 kg liggaamsgewig aan.
  • Jou liggaam het op sekere tye meer water nodig. Dit sluit in wanneer jy koors of diarree het of opbring – asook op baie warm dae en wanneer jy sweet/oefen. Dit is belangrik om die verlies van vloeistof te vervang en gehidreerde te bly.
  • Wanneer jy van siekte of waterverlies in die ligaam herstel, gee jouself ’n bykomende hupstoot met ekstra vloeistof of ’n mondelingse rehidrasiesout (MRS)-oplossing. Daar is ook klaarbereide produkte wat ’n elektrolietoplossing insluit om vir die verlies van water en verlore minerale te vergoed.
  • Wil jy weet of jy ontwater is? Jou urine kan vir jou sê. As dit bleek is, is jy gehidreerd. As dit donkergeel is, het jy nog water nodig.
  • As jy sukkel om te onhou om water te drink, vul ’n bottel en hou dit altyd by jou. Jy kan ook herinneringe op jou foon stel of gewoontes kweek soos om ’n glas of twee water voor of ná maaltye te drink.
  • Party maaltye bevat meer water as ander, soos sop, asook kosse waarin die waterinhoud hoog is. Dit sluit in komkommer, seldery, tamaties, waatlemoen, aarbeie en pomelo.
  • Sap, koffie, tee en party ander drinkgoed bevat water, maar nie genoeg om jou deur die dag gehidreerd te hou nie.  Koffie en tee bevat ook kafeïen wat kan veroorsaak dat jou liggaam water verloor. Drink twee of drie glase water vir elke kafeïendrankie of glas drank wat jy drink.
  • Dis belangrik om water te drink nadat jy soggens opgestaan het, want jou liggaam het agt uur daarsonder klaargekom.  

Klik hier vir meer inligting oor mondelingse rehidrasiesoute.