Navorsers by die Brigham Young-Universiteit in Utah het bevind stres kan die bakterieë in ’n vrou se ingewande verander, en ’n ongesonde ingewande is voorheen gekoppel aan prikkelbaredermsindroom en ’n paar soorte kanker.

’n Hoëvet-dieet kan ook lei tot ontwrigting van die derm, wat hoë bloedsuikervlakke en inflammasie kan veroorsaak, en dit kan op sy beurt weer lei tot hartsiektes, artritis en kanker.

Die span, onder leiding van prof. Laura Bridgewater, het die navorsing op muise gedoen en bevind dat dermbakterieë by muiswyfies ná stresvolle situasies net soveel verander het as in die geval van ’n hoëvetdieet.

“Vroue is in die algemeen geneig om hoër vlakke van depressie en angs te ervaar en dit word aan stres gekoppel. Hierdie studie dui daarop dat die verskillende maniere waarop dermmikrobes by mans en vroue teenoor stres optree, ’n moontlike verklaring kan wees vir die verskil tussen die geslagte,” het prof. Bridgewater opgemerk.

Die resultate is in die tydskrif Nature Scientific Reports gepubliseer.

Vorige studies het getoon dat ’n gesonde ingewande ’n rol speel by die handhawing van immuniteit, gewig en geestesgesondheid.
Jou liggaam stuur talle seine uit indien alles in jou ingewande nie harmonieus werk nie. Dit sluit in winde, opgeblaasdheid, sooibrand, diarree of hardlywigheid. Depressie, angs, ’n tekort aan vitamiene en minerale, asook velaandoenings, is nog aanduidings hiervan.

Benewens stresbestuur kan gegiste kossoorte en probiotika help.

Beproefde maniere wat jou kan help om die bakterievlakke in jou ingewande te bestuur, sluit in die eet van gegiste kossoorte, probiotika en die bestuur van stres.