Chelsea Amer, ’n geregistreerde dieetkundige, het ’n groot bohaai veroorsaak toe sy vir The Daily Meal sê ’n stuk pizza vir ontbyt is eintlik beter vir jou as graankos. 

Volgens haar is ’n stuk pizza se kilojoules gelykstaande aan ’n bakkie graankos met volroommelk. 


So wanneer jy oorskietpizza in die yskas het of ontbytpap in die kas, moet jy twee keer dink en die pizza wel oorweeg. 

Dalk klink dit te goed om waar te wees, want pizza is nie juis bekend as ’n gesonde kossoort nie.

Maar pap is ook nie noodwendig gesond nie. Dit is gewoonlik laag in vesel en proteïen en baie hoog in suiker. 

“Met gewone bestanddele soos kaas, vleis en groente op ’n pizza, beteken dit jy sal voller vir langer voel in die oggend. Maar met die verkeerde ontbytpap kan jy ná 15 minute weer honger wees,” sê Chelsea. 

Leslie Bonci, ook ’n geregistreerde dieetkundige, meen om ontbytpap sonder enige vesel, proteïen en vet te eet beteken dat jy ná ’n uur beslis weer honger gaan wees. Maar om ’n stuk pizza te eet sal jou langer hou deur die dag. 

Leslie meen ander goeie alternatiewe vir ontbyt is Griekse jogurt met vrugte en neute. 

’n Smoothie met jogurt, bessies, pynappelsap en ’n bietjie amandelbotter is ook ’n wenner wat jou lank vol sal laat voel. 

“Wanneer jy na jou ontbyt kyk, moet jy jou afvra of daardie ontbyt jou kan dra tot middagete. As jou antwoord nee is, beteken dit jou keuse kort voedingswaarde en jy sal na iets anders moet begin kyk,” sê sy. 

So die volgende keer as iemand jou skeef aankyk as jy gisteraand se oorskietpizza vir ontbyt eet, oorweeg hierdie inligting. 

Pizza is dalk nie die beste ontbytkeuse nie,maar dit is baie beter as die meeste ontbytpappe op die rak. 

Bronne: Daily Meal; Health24