Albei diëte word as gesond beskou, en veral voordelig vir die verlaging van sekere risikofaktore wat tot kardiovaskulêre siektes kan bydra. Maar die uitwerking van die twee eetplanne is nog nooit met mekaar in een studie vergelyk nie.

Die navorsers wou sien of die oorskakeling na ’n lakto-ovo-dieet (wat eiers en suiwel insluit, maar vleis en vis uitskakel) dieselfde voordele vir die hart sal inhou as ’n dieet waarvan vleis en vis die vernaamste deel uitmaak. 

Die span by die Universiteit van Florence en Careggi-universiteitshospitaal in Italië het 107 gesonde maar oorgewig mense tussen 18 en 75 jaar bestudeer. Die deelnemers is aangesê om vir drie maande ’n vegetariese dieet te volg of ’n laekilojoule- Mediterreense dieet wat pluimvee, vis en ’n bietjie rooivleis insluit. Ná drie maande is die deelnemers omgeruil en die meeste het albei diëte suksesvol voltooi.

Die deelnemers het gemiddeld 1,36 kg liggaamsvet verloor tesame met 1,81 kg algehele gewig. Die vegetariese dieet was doeltreffender met die verlaging van “slegte” LDL (laedigtheid-lipoproteïen)-cholesterol, terwyl die Mediterreense dieet ’n groter vermindering in trigliseriede getoon het. Trigliseriede is vet in die bloed waarvan hoë vlakke die risiko vir hartsiektes en beroertes kan verhoog. 

“Die wesenlike boodskap van ons studie is dat ’n laekilojoule- lakto-ovo-vegetariese dieet pasiënte se kardiovaskulêre risiko ongeveer net soveel as ’n laekilojoule-  Mediterreense dieet kan help verminder ,” sê Francesco Sofi, hoofstudieskrywer en professor in kliniese voeding. “Mense het meer as een keuse vir ’n hartgesonde dieet.”

Cheryl A. M. Anderson, ’n medeprofessor in voorkomende geneeskunde aan die Universiteit van Kalifornië, San Diego, het opgemerk daar is sekere ooreenkomste tussen die twee diëte wat die voordele kan verklaar. 

“(Albei volg) ’n gesonde dieetpatroon met volop vrugte en groente, peulgewasse (bone), volgrane en neute; fokus op dieetverskeidenheid, voedingsdigtheid en gepaste hoeveelheid kos; en beperk energie-inname uit versadigde vette,” verduidelik sy.