Navorsers het nou ontdek dat “volop polifenole, met verskillende samestellings” in die drank moontlik ook mondgesondheid kan baat deurdat dit bakterieë wat gaatjies en tandvleissiektes veroorsaak, afweer.

’n Span, gelei deur dr. Victoria Moreno-Arribas van die Instituut vir Voedselwetenskap in Madrid, het vir die doel van die studie die uitwerking van twee rooiwyn-polifenole, sowel as kommersieel beskikbare druiwepit- en rooiwynekstrakte, ondersoek ten opsigte van bakterieë wat aan die tande en tandvleis vasklou en wat tandeplaak, gaatjies en periodontale siektes veroorsaak.

Terwyl hulle met selle gewerk het wat tandvleisweefsel voorstel, het hulle bevind dat twee spesifiek wynpolifenole in isolasie oor die algemeen beter was as al die wynekstrakte, wat betref die vermindering van bakterieë se vermoë om aan die selle te kleef. 

Die navorsers het ook getoon dat die metaboliete wat gevorm word wanneer vertering van die polifenole in die mond begin, moontlik verantwoordelik kan wees vir sommige van hierdie uitwerkings.

Hulle het toegegee dat die bevindings beperk is omdat die navorsing met behulp van nagemaakte tandvleisweefsel uitgevoer is. Maar hulle is nou gretig om verdere navorsing te doen, ten einde te bepaal wat veroorsaak het dat die bakterieë onderdruk is.

’n Verteenwoordiger van die Britse Tandheelkundige Vereniging het, in reaksie op die resultate, verklaar dat die bevindings “interessant” is, maar dit beteken nie mense moet nou die vrymoedigheid hê om meer wyn in te neem nie, aangesien die suurvormende aard van die drank skadelik kan wees vir emalje. 

Die volledige studieresultate is in die ACS' Journal of Agricultural and Food Chemistry gepubliseer.