Volgens ’n studie wat in die British Medical Journal gepubliseer is, kan alkoholinname jou kans om demensie te ontwikkel heelwat verminder. 

Maar voor jy te diep in die bottel kyk, wees gewaarsku: Die studie bevind ook as jy te veel drink, gaan jou kans op demensie aansienlik op. 

Waar lê die gesonde middelgrond? 

Navorsing toon jy moet halt roep by 14 eenhede alkohol per week: Dit is min of meer agt 440 ml-blikkies bier, sewe glase wyn of 14 sopies hardehout – uitgesprei oor ’n tydperk van ’n week, nie alles op een slag nie!

Die studie het die drinkgewoontes van 9 000 Britte in hul middeljare gemonitor van 1985 tot 1993. Daarna is hulle ’n verdere 23 jaar gemonitor.

397 gevalle van demensie is gediagnoseer. 

Gemiddeld het dié mense óf te veel gedrink óf glad niks nie.

Die data toon dié wat niks gedrink het nie, se risiko vir demensie was 45% hoër as mense wat matig gedrink het. 

Mense wat meer as die 14-eenheid-merk per week gedrink het, se risiko vir demensie was 17% hoër.

Maar dr. Sara Imarisio, hoof van Alzheimer's Research UK, sê die studie het glad nie die mense se drankgewoontes voor die studie begin het, in ag geneem nie.

Die navorsers sê daar is ook verskeie ander faktore wat bydra tot die ontwikkeling van demensie wat bepalend is by elke individu. 

Bronne: Skynews, TimeLive