Jy het 'n onophoudelike droë hoes wat net nie wil weggaan nie, maar jy dink nie dis iets ernstigs nie. Jy skryf dit toe aan die verandering van die seisoen of onverwagte koue weer en sê vir jouself jy het seker iewers ’n kiem opgetel.

Maar wanneer is 'n hoes meer as net 'n simptoom van 'n verkoue of griep? Dis normaal dat 'n hoes wat deur 'n virus oflonginfeksie soos longontsteking veroorsaak is, aanbly nadat die infeksie opgeklaar het.

Maar as jy 'n hoes het wat langer as agt weke duur, moet jy 'n longspesialis besoek, want dan ly jy aan 'n chroniese hoes.

Prof. Keertan Dheda sê die algemeenste oorsake van
Prof. Keertan Dheda sê die algemeenste oorsake van chroniese hoes in Suid-Afrika is postnasale drup, gastro-esofageale reflukssiekte, tuberkulose, asma, chroniese obstruktiewe pulmonale siekte en medisyneverwante redes

Daar is verskeie oorsake van 'n chroniese hoes, byvoorbeeld longkanker, maar die meeste gevalle in Suid-Afrika is weens postnasaledrup, gastro-esofageale reflukssiekte (GERS), tuberkulose (TB), asma, chroniese obstruktiewe pulmonale siekte (COPS) enmedisyneverwante redes, sê prof. Keertan Dheda, hoof van pulmonologie by die Universiteit van Kaapstad se departement geneeskunde, Groote Schuur-hospitaal, en by die Universiteit van Kaapstad Privaat Akademiese Hospitaal.

Ons bekyk die oorsake van nader.

Postnasale drup

“Dis waarskynlik die algemeenste oorsaak van chroniese hoes wat ons in Suid-Afrika sien,” sê Keertan.

Postnasale drup veroorsaak dat mukus van jou neus na die agterkant van jou keel drup en irritasie veroorsaak wat jou laat hoes, sê dr. Morné Vorster, ’n pulmonologiegenoot by die Universiteit Stellenbosch se departement geneeskunde.

Dit kan ’n nat of droë hoes wees en pasiënte voel dikwels ’n kielie aan die agterkant van hul keel, sê Keertan. Hulle voel ook hulle moet hul keel skoonmaak, het ’n verstopte neus en snuif dikwels.

Daar is geen diagnostiese toets nie. “Dikwels is die enigste manier om vir seker te weet dis regtig postnasale drup om die behandeling te neem, en as dit beter word, dan weet jy dis postnasale drup,” sê Keertan.

Dit word behandel met neusontstuwings middels, antihistamiene en soutdruppels om die neus en sinusse skoon te maak en antibiotika in die geval van sinusitis.

GERS

“Dis waarskynlik die tweede algemeenste oorsaak van chroniese hoes,” sê Morné. “Refluks of sooibrand is wanneer die suurinhoud van die maag in jou keel opstoot. Dit lei tot ’n chemiese irritasie van die keel en moontlik ’n gehoes.”

In ernstiger gevalle kan die suur in jou longe beland, wat ook hoes veroorsaak.

GERS word gekenmerk deur 'n droë hoes wat erger raak wanneer jy gaan lê aangesien meer van jou maaginhoud in jou keel opbeweeg,voeg Morné by. Mense met GERS sal ook kla van ’n brandgevoel in hul maag of bors tydens maaltye.

Dit is moeilik om GERS te diagnoseer, sê dr. Sabs Abdool-Gaffar, 'n pulmonoloog van Durban. “Jy sal dit vermoed as die pasiënt klavan gereelde slegte spysvertering of sooibrand, maar ongelukkig het baie pasiënte geen simptome van sooibrand of slegte spysvertering nie,” verduidelik hy.

Dokters kan ’n gastroskopie doen, wat beteken hulle kyk met ’n kamerabuis in jou slukderm en maag af omtekens van refluks te soek. Met ’n ander toets, pH-monitering, word die suurvlakke in jou slukderm gemeetmet ’n monitor wat aan 'n buis geheg is.

Jy kan GERS behandel deur dinge te vermy wat refluks vererger soos groot of ryk maaltye, kafeïen en gasdrankies, sê Sabs. 

Nog 'n opsie is sterk teensuurbehandeling, sê Keertan. “Dit kan van die hoes ontslae raak, maar in sommige gevalle is die probleem baie ernstig en kan ’n operasie nodig wees.”

TB

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van TB ter wêreld, met amper 400 000 gevalle wat per jaar behandel word, sê Keertan.

Dis 'n longinfeksie wat deur die bakterie Mycobacterium tuberculosis veroorsaak word en die simptome kom gewoonlik stadig na vore aangesien mense met TB aanvanklik nie baie siek is nie, sê Morné.

'n Hoes weens TB kan nat of droog wees en jy kan soms bloed uithoes. Ander TB-simptome is onder meer ’n verlies aan eetlus, gewigsverlies, koors (veral snags), deurwekende nagsweet en borspyn.

“As jy hierdie simptome het, moet jy ’n X-straal- en ’n sputumtoets vir TB laat doen,” sê Keertan. As behandeling vir TB moet jy minstens ses maande lank antibiotika drink.

Asma

Asma kan 'n nat of droë hoes veroorsaak. Gereeld, maar nie altyd nie, gaan die hoes gepaard met 'n gefluit, kortasemheid en/of 'n beklemming in die bors, sê Keertan. Die hoes kan ook kom en gaan, voeg hy by.

“Jy is dalk aktief en die hoes keer terug, maar dan is daar tye dat dit eenvoudig nie daar is nie.”

Jy kry ook hoesvariant-asma, sê Sabs. “Die asma begin met net 'n hoes, sonder enige van die ander simptome.”

Mediese praktisyns kyk dikwels hierdie vorm van asma mis. Dis algemener onder kinders. Kenmerkend hiervan is as 'n kind wat oefen of speel dit met tussenposes moet staak om te hoes. “Of as 'n kind in die nag wakker word en aanhou hoes, maar deur die dag piekfyn is,” sê Sabs.

Dit kan moeilik wees om asma te diagnoseer, sê Keertan. “Longwerkingstoetse kan die dokter daarop bedag maak dat dit dalk asma kan wees, maar die toetse kan dikwels normaal wees.”

Allergietoetse kan nuttig wees, want asma en allergieë gaan dikwels met mekaar gepaard en ’n familiegeskiedenis van asma is ’n risikofaktor.

As 'n dokter sterk vermoed dis asma, kan hy met inhaleerderbehandeling begin.

COPS 

COPS staan ook as rokerslonge bekend. Die longe en lugweë word deur rook beskadig, wat dit moeilik maak om asem te haal.

Dit kan ook voorkom weens ander oorsake sooslugbesoedeling, blootstelling aan stof of rook in die omgewing (byvoorbeeld as jy oor oop vure kook) en tweedehandse rook.

“Pasiënte met COPS het gewoonlik stadig toenemende asemloosheid. Hulle raak kortasem van goed doen wat hulle voorheen maklik kon baasraak,” sê Sabs.

Die hoes kan nat of droog wees en mense met ’n sekere soort COPS, chroniese bronchitis, hoes dikwels slym op. “Dis die sogenaamde rokershoes. As jy rook en 'n hoes het wat nie wil weggaan nie, moet jy hulp soek,” maan Sabs.

'n Diagnose word gemaak met 'n geskiedenis van rook en longwerkingstoetse, sê Morné.

Die skade wat aan jou longe aangerig is, kan nie omgekeer word nie, maar jy kan die vordering van die siekte vertraag as jy ophou rook. Inasemingstoestelle kan ook gebruik word om die simptome te verlig.

Medisyneverwante hoes

Sekere medisynes kan tot chroniese hoes lei, in die besonder angiotensien-omsettingsensiem (AOE)-inhibeerders.

“Dit is 'n baie algemene soort medisyne wat gebruik word om hoë bloeddruk te behandel,” sê Keertan. By sowat 15 persent van gebruikers kan dit 'n droë hoes en keelirritasie veroorsaak.

Die hoes begin gewoonlik 'n week nadat jy AOE-inhibeerders begin gebruik het, maar in sommige gevalle begin dit eers maande later.

As jy AOE-inhibeerders ophou drink, behoort jou hoes binne 'n week weg te gaan, sê Morné.

Jou dokter kan vir jou ander bloeddrukmedisyne voorskryf.

  • Ekstra bronne: nhlbi.nih.gov, mayoclinic.org
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.