Min dinge maak ’n mens so bekommerd soos om ’n knop iewers aan jou lyf te kry. Al is jy nie iemand wat op hol gaan oor dinge en altyd die ergste ver-wag nie, die woord “knop” is met vrees gelaai.

Hoewel dit jou in koue sweet kan laat uitslaan as jy ’n vreemde massa kry, is die meeste knoppe en bulte eintlik skadeloos.

Hier is ’n gids oor knobbels wat moontlik nie skadelik is nie en wat jy daaraan kan doen. Onthou om altyd eers jou dokter te raadpleeg.

AAN JOU KOPVEL

  • Heel waarskynlik ’n epidermale sist (ook ’n talgsist genoem).

Wat is dit presies?

Epidermale siste kan op enige plek aan die lyf voorkom, maar is algemener aan die kopvel, skouers en rug. Dit word veroorsaak deur ’n opeenhoping van dooie keratien van die velselle om ’n haarfollikel en lyk soos ’n knop onder normale vel.

Dit is nie ongewoon om dit van jou kinderjare af te hê nie. Dié siste is gewoonlik skadeloos, maar kan ontsteek.

Wat jy kan doen

Laat jou dokter daarna kyk. As dit inderdaad ’n epidermale sist is, los dit uit.

Dit voel dalk soos ’n puisie, maar om daaraan te krap of druk kan tot inflammasie of infeksie lei.

As dit wel ontsteek of besmet raak, of groot genoeg word dat dit jou pla, raadpleeg jou huisdokter of ’n dermatoloog om dit te laat verwyder.

AAN JOU VOORKOP

  • Heel waarskynlik ’n seborreïese vrat (ook seborreïese keratosis genoem).

Wat is dit presies?

Hierdie wasagtige, opgehewe groeisels kan op enige plek aan die lyf wees, maar word dikwels eerste aan die gesig opgemerk.

Dit word met seborree verbind, ’n toestand wat gekenmerk word deur ooraktiewe smeerkliere op die vel en tot buitengewoon olierige vel kan lei.

Dit is algemener by mense ouer as 40, maar kan vroeër gebeur.

Wat jy kan doen

Moenie paniekerig raak nie. Die kolle kan mettertyd verdonker, en daarom verwar baie mense dit met melanoom. Maar dit is oor die algemeen skadeloos.

As jy bekommerd is oor hoe die vrat lyk, besoek ’n dermatoloog om dit te laat ondersoek en verwyder.

AAN JOU HANDE OF VOETE

  • Heel waarskynlik vratte.

Wat is dit presies?

Hierdie klein areas verdikte of korserige vel word deur verskeie stamme van die menslike papilloomvirus veroorsaak. Jy sal waarskynlik meer as een vrat hê, want dit is geneig om deur velkontak te versprei.

Voetsoolvratte, of plantaarvratte, is soortgelyk aan vratte aan jou hande, maar groei binnentoe aan jou voetsole en is dikwels seer wanneer jy loop of staan.

Kinders kry gereelder as volwassenes vratte omdat hul immuunstelsel nog nie verdediging opgebou het teen al die soorte menslike papilloomvirusse nie.

Wat jy kan doen

Die meeste vratte sal mettertyd verdwyn. Jy kan behandelings daarvoor oor die apteektoonbank kry.

Voetsoolvratte is egter moeiliker om te bestuur en jy sal dalk ’n dokter moet besoek. Vratte kan maklik van een deel van die lyf na ’n ander versprei; daarom is dit belangrik om nie aan jou vratte te krap nie en jou hande deeglik te was nadat jy daaraan gevat het.

As jy vratte het aan die area waar jy skeer, onthou dat die virus na die skeermes oorgedra kan word as jy daaroor skeer en so kan versprei na ander dele van jou lyf wat jy skeer.

knoppe
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

AAN JOU GEWRIG

  • Heel waarskynlik ’n ganglion.

Wat is dit presies?

Dit is ’n sist of bal vog in die gewrig en kom meestal aan die agterkant van die pols voor, maar kan ook aan die skouers, elmboë en tone voorkom.

Dit is gewoonlik skade- en pynloos, maar kan seer wees as dit teen ’n senuwee in die gewrig druk.

Wat jy kan doen

Ganglions klaar gewoonlik self op, maar as dit hinderlik is, kan dit gedreineer of verwyder word.

knoppe
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

AAN JOU NEK

  • Heel waarskynlik geswolle kliere of ’n goiter.

Wat is dit presies?

Geswolle kliere is ’n normale immuunreaksie op infeksie. Jy voel dalk ertjiegrootte-knoppe aan jou armholtes, nek en lies terwyl jou limfkliere werk om skadelike organismes te vernietig.

As die knop aan die voorkant van jou nek is, kan dit ’n goiter (abnormale vergroting van die skildklier) wees. Die meeste goiters word deur ’n jodiumtekort of inflammasie van die skildklier veroorsaak.

Wat jy kan doen

Vergrote limfkliere weens ’n infeksie verdwyn gewoonlik op hul eie, maar jy moet jou dokter besoek as dit ná twee weke nog daar is.

As die knop aan die voorkant van jou nek is, is dit die beste om jou skildklier te laat ondersoek. Nie alle goiters veroorsaak simptome nie, maar wanneer dit wel voorkom, is dit gewoonlik ’n swelsel en ’n gehoes. Soms kan die simptome ’n keel wat toetrek of moeilike asemhaling insluit.

Die behandeling kan bloot wees om meer jodiumryke kosse te eet, maar in sommige gevalle is medisyne of chirurgie nodig.

AAN JOU BORS

  • Heel waarskynlik ’n fibro-adenoom.

Wat is dit presies?

’n Fibro-adenoom voel soos ’n ferm, gladde of rubberagtige knop in die bors met ’n duidelike vorm. Dit beweeg maklik onder die vel en is gewoonlik pynloos, al kan dit soms teer voel, veral net voor menstruasie.

Hierdie skadelose groeisels word gestimuleer deur die voortplantingshormone en is daarom algemener by jonger vroue, maar dit kan op enige ouderdom verskyn.

Dit kan tot 8 cm of groter groei, maar voel meestal soos ’n klein albaster onder die vel.

Wat jy kan doen

Al voel gesonde borsweefsel dikwels knopperig, moet ’n nuwe knop of enige verandering in die borste deur ’n dokter ondersoek word.

Die behandeling kan insluit om die knop dop te hou vir veranderings in die grootte of gevoel, ’n biopsie om dit te evalueer of chirurgie om dit te verwyder.

’n Fibro-adenoom hoef net verwyder te word as daar enige twyfel bestaan oor of dit kwaadaardig is of nie, of as dit so groot is dat dit vir jou ongemak veroorsaak.

knoppe
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

NABY JOU OKSEL

  • Heel waarskynlik ’n akrokordon (ook ’n muistepel genoem).

Wat is dit presies?

Dit lyk soos ’n kort, smal “steeltjie” vel en verskyn gewoonlik in die oksel-area en aan die nek, borskas of ooglede. Dit kan donkerder as jou normale velkleur en ook rooi wees, veral as dit geïrriteerd raak van teen klere skuur.

Wat jy kan doen

Die meeste het nie behandeling nodig nie, maar as dit gereeld las veroorsaak weens wrywing, aan jou klere vashaak of as die voorkoms jou pla, kan ’n dokter dit verwyder deur dit af te vries.

AAN JOU BOBEEN

  • Heel waarskynlik ’n vetgewas (’n lipoom).

Wat is dit presies?

Dit is ’n vetterige knop net onder die vel wat maklik beweeg wanneer jy daarop druk. Lipome kan op enige plek aan die lyf verskyn, maar ’n mens sien dit gewoonlik aan die bobene, arms, nek, skouers, rug of maag.

Dit groei stadig en is gewoonlik skadeloos.

Wat jy kan doen

Dis ’n goeie idee om enige knop deur jou huisdokter te laat ondersoek. Dié sal dalk moet bevestig dit is ’n lipoom deur jou vir ’n ultraklankondersoek te stuur.

Behandeling is gewoonlik onnodig, maar as die lipoom jou pla, seer is of groei, kan dit chirurgies verwyder word.

  • Teks deur Larraine Sathicq © Bauersyndication.com/au/MagazineFeatures.co.za