Die eerste paar dae van die vakansie is hemels – geen afsprake of e-pos nie, net die dae wat heerlik oop voor jou uitstrek. Maar dan begin jy dalk krapperig voel.

Jy vroetel, kyk rond vir iets om te doen, staar na jou selfoonskerm en begin selfs kaste regpak – enigiets om net nie so verveeld te wees nie. Maar is ons moontlik besig om meer skade as goed te doen wanneer ons verveling probeer vermy?

Is daar voordele daaraan verbonde om verveeld te wees? En moet jy dit dalk in jou komende vakansie juis nastreef? Hoekom probeer ons dit vermy?

In die boek Yawn: Adventures in Boredom sê die skrywer Mary Mann verveling is iets wat ons moet omarm eerder as systap.

In teenstelling met vorige studies wat die potensiële negatiewe aspekte van verveling aangedui het, haal Mary studies aan wat die teenoorgestelde bewys.

In een Britse studie is ’n kreatiewe uitdaging aan deelnemers gestel. Hulle is in twee groepe verdeel: Die eerste groep moes eers ’n vervelige aktiwiteit doen voor hulle die kreatiewe taak getakel het.

Die resultate het getoon hierdie groep het die innoverendste oplossings bedink vergeleke met die groep wat die kreatiewe taak eerste gedoen het.

’n Soortgelyke studie wat in die Academy of Management Discoveries-joernaal gepubliseer is, het tot dieselfde slotsom gekom.

Tog verpes talle van ons dit om verveeld te wees. Trouens, party van ons sal enigiets doen om dit te vermy . . .

In ’n eksperiment in Amerika is deelnemers ’n klein, onaangename elektriese skok gegee. Sowat driekwart van hulle het gesê hulle sal geld betaal om nog ’n skok te vermy.

Maar toe hulle gevra is om 15 minute lank ledig in ’n vertrek te sit met net hul eie gedagtes wat hulle besig hou, was 67% van die mans en 25% van die vroue so gretig om iets te vind om te doen dat hulle bereid was om hulself die skok toe te dien net om iets te doen.

As jy probeer wegskram van verveling, is die sondaar dalk ook eerder voorspelbaarheid. Ons almal ken daardie gevoel wanneer ons dink môre sal dieselfde as vandag wees.

Die studie se hoofnavorser, Timothy Wil-son, ’n maatskaplike sielkundige aan die Universiteit van Virginia in Amerika, sê hieroor: “Ek dink ons brein is gebou om betrokke te wees by die wêreld, en as ons dit nie iets gee om op te fokus nie, weet ons nie wat om daarmee te doen nie.”

Hoewel dagdromery spontaan gebeur en lekker kan wees, glo Timothy dis vir baie mense moeilik om dit doelbewus te inisieer. En omdat ons met so min moeite tot gedurige stimulasie toegang kan kry, is dit maklik om ledigheid en moontlike verveling eerder te vermy.

“Om op jou eentjie met jou eie gedagtes te sit word deur sommige as tydmors en onproduktief beskou,” sê dr.Lauren Rosewarne, ’n sosiale wetenskaplike aan die Universiteit van Melbourne in Australië.

“Dit hoef natuurlik nie so te wees nie, maar dis die gewilde opvatting. Om selfs op die foon te blaai laat mense produktief voel en verhoed dat hulle te veel tyd in hul eie koppe deurbring – iets wat vir party mense angswekkend is,” sê sy.

’n Kultuur wat ons gedurig aanmoedig om beter te vaar help nie juis nie. Ons hoor om elke hoek en draai ons moet ryker, maerder, suksesvoller en besiger wees om gelukkig te wees.

“Om verveeld te wees blyk uit voeling te wees met ’n kultuur wat wil hê ons moet gedurig na verbetering streef,” sê Lauren.

“Daar is ook mense wat hulself as ‘besig’ identifiseer en daarom is dit vir hul selfwaarde belangrik om altyd besig te wees – en dat mense hulle so sien.”

Maar om heeltyd “besig” te wees kan eintlik bloot ’n aanduiding wees van swak tydsbestuur, sê Lauren, of dat jy in ’n werk is wat te veel is vir een persoon.

As jy probeer wegskram van verveling, is die sondaar dalk ook eerder voorspelbaarheid. Ons almal ken daardie gevoel wanneer ons dink môre sal dieselfde as vandag wees.

Ons weet ons gaan in die verkeer sit en ons gaan waarskynlik weer met ons maat baklei. Hierdie soort “verveling” kan lei tot ’n be- geerte na verandering, iets wat in ’n positiewe ingryping of transformasie omskep kan word as dit reg hanteer word.

Maar om geensins verveling te kan hanteer nie dui op angstigheid, stres, gevoelens van skuld en rusteloosheid. En dis nie goed vir jou nie.

“Die druk van gedurig ‘aangeskakel’ wees kan soms ’n slegte invloed hê,” sê Lauren.

“Navorsing dui byvoorbeeld daarop dat talle van ons ontwrigte slaap ervaar omdat ons so gedurig in verbinding is en saans nie tot bedaring kan kom en insluimer nie.”

Ander navorsing het die behoefte om konstant “besig te wees” met uitbranding, fisieke toestande of siektes en ongelukkigheid verbind. 

Onthou die verskil

Moenie vervelend of vervelig (dit wat jou verveel) met verveeld verwar nie.

’n Vervelende of vervelige gesprek kan jou verveeld laat voel.

As jý egter sê dat jy vervelig is, beteken dit ander mense dink jy is nie interessant nie en vind jou vervelend – glad nie wat jy bedoel om te sê nie!

Hoekom moet ons dit omarm?

Mary beklemtoon daar is eintlik baie voordele daaraan verbonde om soms verveeld te voel en dit dan gelate te aanvaar.

  • Dit gee jou verbeelding en kreatiwiteit ’n hupstoot. Heelwat navorsing het dagdroom met verhoogde verbeelding en kreatiwiteit verbind.

Beskou verveling dus as ’n kans om jou gedagtes te laat afdwaal. Wie weet, wanneer jy na die werklikheid terugkeer, is jy dalk in staat om daardie werkkwessie op te los, planne vir die opknappingswerk aan jul huis neer te skryf én jou volgende vakansie te bespreek – alles in een sitting.

  • Dit help ons met verandering. Om die oorsaak van jou verveling te leer herken is die geheim vir hoe om dit reg te stel, veral as dit jou geluk beïnvloed.

Beskou verveling – of dit met jou werk, oefening of verhoudings te doen het – as “terugvoer” en ’n katalisator vir verandering.

Dalk het jy ’n nuwe werk nodig of moet jy jou huidige rol met jou bestuurder bespreek. Miskien is jou oefensessie nie uitdagend genoeg nie of het dit te min verskeidenheid, of miskien kort jou verhouding ’n bietjie aandag.

  • Dit gee ons kans om te herbesin. Verveling gee jou tyd om te dink oor jou doel en wat jy wil bereik vir jouself en die mense om jou. Die gevolg hiervan kan gunstig vir almal wees.

In navorsing is bevind mense is meer geneig tot onselfsugtige gedrag, soos om bloed of geld vir liefdadigheid te skenk, as hulle dit nodig het om weer ’n gevoel van selfbetekenis en -waarde te kry.

  • Dit leer ons die vreugde van stilte. As die verveling weer knaag, moenie ingee en jou foon nader hark nie. Skakel dit eerder af en verwyder eksterne stimulasie.

Om te leer om net “te wees”, ongeag hoe verveeld jy dalk voel, is ’n wonderlike manier om stadiger te leef, te kalmeer en te besef jy kan oorleef sonder konstante vermaak of betrokkenheid. Die ontkoppeling van die “geraas” is dalk net wat jy nodig het om te herlaai.