Haar kinders is besonder suksesvol: Twee is uitvoerende hoofde van winsgewende tegnologiemaatskappye, en die derde is ’n professor aan ’n vooraanstaande universiteit.

Hul ma moes duidelik iets reg gedoen het, want daar is tog ’n ondersteunende ma agter elke knap kind, of hoe?

Panda-ouerskap

Wel, ja. Maar Esther Wojcicki se benadering tot ouerskap behels nie dat sy ’n opdringerige ma is wat druk op haar kinders plaas nie. Inteendeel, haar styl is so ontspanne dat dit al “panda-ouerskap” genoem is, met verwysing na dié bere se onbetrokke benadering tot hul kroos.

Dit het haar een van die bekendste voorbeelde van suksesvolle ouerskap gemaak en haar aangespoor om ’n boek te skryf.

In haar boek How to Raise Successful People deel Esther, ’n 78-jarige onder­wyseres wat vroeër ’n joernalis was, haar geheim.

En haar styl is presies die teenoorgestelde van die “tierma-metode”, ’n tegniek wat die Yale-professor en skrywer Amy Chua vervolmaak het.

In haar 2011-boek Battle Hymn of the Tiger Mother het Amy haar superstreng ouerskapstyl onthul en hoe sy haar kinders gedruk het om groot sukses te behaal.

Amy het eenkeer gedreig om haar dogter se speelgoed te verbrand as sy nie ’n klavierstuk onder die knie kry nie.

Vertrou jou kinders

Maar Esther se benadering fokus op vertroue en die kweek van onafhanklikheid.

“Ek het van dag een af met my dogters gepraat asof hulle grootmense is,” het sy aan Time gesê. “Die meeste ma’s gebruik van nature babataal; ’n hoër stem, eenvoudiger woorde. Nie ek nie. Ek het hulle vertrou en hulle vir my.”

Dit het vir haar drie dogters gewerk.

Haar drie dogters, van links, Anne, Janet en Susan
Haar drie dogters, van links, Anne, Janet en Susan, is uiters suksesvol – en Esther hou vol dis danksy haar ouerskapstyl.

Susan (50) is sedert 2014 die uit­voerende hoof van YouTube, met ’n geskatte fortuin van by die R7 miljard.

Anne (45), die medestigter en hoof van ’n biotegnologie-maat­skappy, 23andMe, is ’n verstommende R10 miljard sterk. Sy is ook die eksvrou van die Google-medestigter Sergey Brin, die 14de rykste man ter wêreld wie se ryk­dom sowat R700 miljard beloop.

Janet (48) is ’n professor in epidemiologie (die studie van hoe siektes versprei) aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco en het al die gesogte Fulbright-­beurs losgeslaan.

Riglyne

In haar boek gee Esther vyf ouerskapsbeginsels as riglyn: vertroue, respek, ?onafhanklikheid, samewerking en goedhartigheid.

Dit kom daarop neer dat jy jou kinders liefhet vir wie hulle is en hulle nie beperk tot jou idee van wie jy wil hê hulle moet wees nie.

Kinders is slimmer as wat ouers besef, sê sy, en het meer vryheid nodig om te groei as wat ouers toelaat.

Jou kinders is veronderstel om te misluk, verduidelik Esther – in ’n toets, ’n klaviereksamen, by sportproewe of waar ook al. Sy stel dit so: “Kinders moet foute maak as kinders, sodat hulle later minder foute maak as ouers.”

Esther en haar man, Stanley, ’n fisikaprofessor aan die Stanford-universiteit, se eerste dogter, Susan, is in 1968 gebore.

Esther by haar man, Stanley, en kinders, Anne, Jan
Esther by haar man, Stanley, en kinders, Anne, Janet en Susan, toe hulle jonger was. Die má wou hê hulle moes van jongs af onafhanklik en ingelig wees.

“Ek het my dogter liefgehad van die oomblik dat ek haar gesien het. Ek het ’n oerbegeerte ervaar om haar te beskerm, die beste lewe moontlik te bied, te doen wat nodig is om haar te help om sukses te behaal.”

Maar, soos vir enige nuwe ma, het twyfel gou ná die euforie ingeskop. Hoe sou sy seker maak haar dogtertjie verwesenlik haar potensiaal?

Gesagsfigure en instink

Toe besef sy sy moet haarself vertrou – ’n les wat uit ’n ervaring as kind gespruit het. Haar jonger broer, David, het die inhoud van ’n bottel pynpille ingesluk. Hy was net 16 maande oud. Vier New Yorkse hospitale het die Russies-Joodse immigrantegesin weggewys.

Een hospitaal het haar ma raad gegee oor hoe om die seuntjie te behandel, maar dit het nie gewerk nie en David is later oorlede. Haar broer se dood het Esther geleer om gesagsfigure te bevraagteken en haar eie instink te vertrou.

Sy is dalk nie ’n tierma nie, maar sy is beslis ook nie ’n papbroek nie.

Haar kinders moes alleen skool toe stap vandat hulle vyf jaar oud was, is gestuur om brood te koop by die winkel langsaan toe hulle vier was, en so gou soos hulle kon tel, het hulle ’n begroting gekry en moes hulle die gesin se kosaankope bestuur.

“Wat ek meer as enigiets anders wou hê, is om hulle eers onafhanklike kinders te maak, en dan bemagtigde, onafhanklike volwassenes.”

Meer oor Esther

Sy is self ’n presteerder. Ná haar B.A.-graad in Engels en politieke wetenskap aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley het sy ook ’n onderwyskwalifikasie aan dié universiteit verwerf.

Sy is al 36 jaar lank ’n onder­wyseres aan die Hoë
Sy is al 36 jaar lank ’n onder­wyseres aan die Hoërskool Palo Alto in Kalifornië.

Sy het ook ’n graad van Berkeley se nagraadse joernalistiekskool. Sy gee al die afgelope 36 jaar joernalistiek en Engels aan die Hoërskool Palo Alto en het die skool se mediakundeprogram help bou – deesdae die grootste in sy soort in Amerika.

Sy is ook die ondervoorsitter van die wêreldwye Creative Commons-vereniging.

Al is sy trots op haar dogters, maak Esther dit duidelik sukses het niks met status of rykdom te doen nie.

“Sukses beteken nie om ’n uitvoerende hoof te wees of ’n invloedryke werk te hê nie.”

Toe die Daily Mail haar vra of dit beteken sy sou tevrede wees as haar kinders tuisblyma’s geword het, het sy geantwoord: “Dit sou piekfyn met my gewees het, solank hulle gelukkig was.”

Uitdagings

Esther is ouma van 10 kleinkinders wat tussen ’n paar weke en 19 jaar oud is, en sy volg dieselfde benadering met hulle as met haar eie kinders, selfs al is haar dogters nie altyd in hul noppies hiermee nie.

Sy het onlangs twee van haar kleindogters by ’n yslike Target-winkel afgelaai om daar rond te loop voor sy hulle ’n uur later gaan oplaai het. Susan was nie beïndruk nie.

Maar vir Esther is dit wat kinders leer vasbyt – om hulle aan uit­dagings bloot te stel en hulle te leer om nie weg te deins van gevaar nie.

“Dis wat ons in ons kinders na vore wil bring,” sê sy.

“Vasbytvermoë wat uit onbreekbare, ywerige dryfkrag spruit en hulle deur enige situasie kan dra.”

Esther se wenke vir ouers

Sê wat jy dink

Vermy dit om voor kinders te baklei, maar moenie bekommerd wees oor driftige woordewisselings nie – solank dit met respek gedoen word. Kinders hoef nie beskerm te word van die feit dat mense soms van mekaar verskil nie.

Laat kinders reëls vasstel

Esther glo kinders moet toegelaat word om sekere reëls te maak. Sy vertel hoe haar dogters een vakansie gekla het dat hul kinders op hul fone rondlê.

Haar raad? Laat die kleinkinders besluit wat billik is. Die kinders stel toe voor om van negeuur die oggend tot negeuur saans sonder fone te wees; ’n strenger reël as wat die ouers in gedagte gehad het.

Hul emosies is hul eie

“Een van die grootste foute wat ouers maak, is om verantwoordelikheid te aanvaar vir kinders se emosies,” sê sy. “Dit maak nie saak hoe lief jy vir jou kind is nie, hulle moet besef swaarkry is deel van die lewe. ’n Mens noem dit grootword.”

Maak tyd om saam te wees

Eet elke aand aandete as gesin en belet alle toestelle aan tafel; dit geld vir ma en pa ook.

Hulle MOET geld verdien

Tieners moet  ’n werk hê – hoe minder glansryk, hoe beter.

In haar boek How to Raise Successful People deel E
In haar boek How to Raise Successful People deel Esther, ’n 78-jarige onder­wyseres wat vroeër ’n joernalis was, haar geheim.
Beskikbaar by takealot.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.