Die meeste ouers beland soms in ’n situasie waar werk of familieverpligtinge hulle dwing om van die huis af weg te wees of selfs ’n paar dae te reis. Maar hoe gemaak wanneer jy iemand moet kry om na jou kinders om te sien? En wat moet jy in gedagte hou wanneer jy wel iemand kry wat jy in hierdie vertrouensposisie plaas. 

Die voorkomskonsultant Aletté-Johanni Winckler het onlangs hulde gebring aan ’n vriendin en werknemer, Sumarie Uys, deur te sê sy is iemand by wie sy haar kinders sal los sonder om twee keer te dink. 

Aletté en haar sangerman, Heinz Winckler, het vier kinders Lian (10), Simeon (8) en Reuben (7) en Alannah (1).

“Ek dink dit is baie belangrik om iemand te kies met wie jy ’n lang verhouding het," sê Aletté. “Ek ken vir Sumarie al sewe jaar. Ons het dieselfde waardes, sy werk by my, so sy is elke dag in my kantoor. Ek bring baie tyd saam met haar deur, en sy bring ongelooflik baie tyd saam met my kinders deur. 

“Hulle is mal oor haar en sy is baie soos ek.”

Aletté sê Sumarie sal maklik haar kinders vasvat en dissiplineer voor haar. “Sy gee nie in my teenwoordigheid een ding voor maar is agter my rug sy kwaai met hulle nie. Ons het ’n baie noue verhouding, en ons ken haar deur en deur. 

“Ek dink die belangrikste is om iemand te kies wat jy vir ’n lang tyd ken en met wie jou kinders oor die weg kom. Ek glo ek sou in my gees aangevoel het as ek die persoon nie kan vertrou nie.”

Sy sê oupas, oumas en familie wat jou kinders ken en ’n verhouding met hulle het is, natuurlik altyd eerste prys.

Carla Verster, die stigter van Carla’s Au Pairs, wat plasings oorsee doen en al jare in die bedryf werk, gee raad.

1. Ondervinding

Soek iemand wat opgelei is of ondervinding het in die veld van onderwys of kindersorg, stel Carla voor.

“Dit is byvoorbeeld ’n goeie idee om ’n onderwysstudent te soek wat ekstra sakgeld wil verdien.”

2. Dokumentasie

“Wanneer jy ’n betroubare au pair-agentskap gebruik, sal hulle namens jou seker maak hulle kry die nodige dokumentasie, soos ’n polisieverklaring, en hulle sal ook ’n breedvoerige onderhoud met die kandidaat hê,” sê Carla.

3. Keuses

“Agentskappe behoort meer as een kandidaat voor te stel wat die ouers vir ’n onderhoud kan ontmoet. As daar dalk struikelblokke tydens die plasing kom, sal die agentskap beskikbaar wees om as mediator op te tree of selfs om ’n plaasvervanger aan te bied."

4. Skadu

Oorsien of “skadu” die oppasser vir die eerste dag of twee om te sien hoe sy met die kinders omgaan.

“Dit moet op ’n natuurlike manier in die agtergrond gebeur sodat die au pair nie voel sy word dopgehou of dat sy voor jou moet toneelspeel nie.” 

5. Inisiatief

Kyk of die au pair inisiatief neem, sê Carla.

“Het sy kreatiewe idees? Kan sy in ’n krisis vinnig dink. Jy as ouer kan vir die au pair scenario’s skets en kyk of sy op haar voete kan dink en vrae kan beantwoord.”

6. Kommunikasie

Carl sê die grootste probleme tussen ’n familie en ’n oppasser ontstaan as gevolg van swak kommunikasie, verwagtinge wat nie behoorlik uitgestip word nie en riglyne wat nie duidelik gestel word nie.

“Ek sou voorstel dat verwagtinge op papier gesit word. Hoe beter die au pair weet wat haar pligte is en wat die ouers se verwagtinge is, hoe beter werk dit vir almal. Die au pair moet duidelike instruksies ontvang van die moets en moenies en wat presies die ouers se reëls is in terme van dissipline, roetine, pligte en verwagtinge.”

7. “Inloersessie” en erkenning

Sy stel voor ouers het gereeld ’n “inloersessie” met die au pair om seker te maak daar is nie probleme, verkeerde verwagtinge en opgekropte emosies nie. 

Gee erkenning aan die au pair, sê Carla. “Dit is soms moeilik om met kinders te werk, en ’n goeie au pair moet voel dat sy waardeer word vir haar bydrae. Dit sal daartoe bydra dat sy haar taak beter verrig.”

“Ouers en au pairs moet as ’n span saamwerk,” sê Carla. “As ouers self hulle eie reëls breek, soos om byvoorbeeld vir die au pair te sê die kinders mag nie ná 14:00 soetgoed eet nie, maar dit dan self vir hulle gee in daardie tyd, ondermyn hulle die au pair se gesag, en dit kan probleme veroorsaak.” 

8. Intuïsie

Vertrou jou intuïsie as ouer, maan Carla.

“As iets nie reg voel nie, moet jy dit nie ignoreer nie. Kinders se lyftaal sal ook kan wenke gee van hoe hulle rondom die au pair voel. Au pairs is gesagsfigure, maar moet eerder soos ’n ouer suster of broer beskou word. Iemand na wie hulle luister, maar ook iemand saam met wie hulle kan pret hê.

“Dit kan ’n baie ryk en vervullende verhouding vir alle betrokke partye wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe