Die langverwagte vakansie is verby en dis skoolbanke toe vir die land se skoolkinders. Al is die begin van ’n nuwe skooljaar opwindend en bedrywig, kan dit vir baie ouers en kinders ook ’n senutergende tyd wees.

Oral sukkel ma’s en pa’s om hul kleinspan uit die ontspanne vakansieluim weer in ’n daaglikse roetine te kry.

Dis veral ’n opdraande stryd met kinders wat nie van nature gemotiveerd of georganiseerd is nie.

Jy kners moontlik nou al op jou tande by die gedagte aan daardie bekende hulpkreet: “Ma, ek kry nie my sokkies/oefenklere/potloodsakkie nie!”

Of dalk het jy ’n spruit wat angstig is oor skool en voel jy reeds daardie hol kol op jou maag oor hoe jy jou kind gaan bystaan.

“Vir kinders met konsentrasieprobleme, asook angstige kinders, is dit selfs moeiliker om georganiseerd te wees,” sê Mareli Fischer, ’n kliniese sielkundige van The Claremont Practice in Kaapstad.

“Gelukkig bied dié tyd van die jaar vir ouers ’n uitstekende geleentheid om hul kinders beplanningsvaardighede en organiseringstrategieë aan te leer,” sê Mareli.

Dis ’n kans om vir hulle te wys dat behoorlike voorbereiding hulle kan help om meer in beheer en minder oorweldig te voel.

Sodra hulle dít snap, “sal hul simptome van angs en stres afneem en hulle meer gemotiveerd wees”, voeg sy by. Hier is raad oor hoe jy jou kinders kan help om die jaar reg aan te pak en wenke om angs en stres te bekamp.

KRY DÍT AGTERMEKAAR

’n Buigsame roetine

Die praktiesste manier om jou kind vir skool gereed te kry is om vir struktuur in hul dag te sorg. ’n Roetine met vaste tye vir opstaan, ontbyt, aantrek, huiswerk doen, eet en speel is volgens Mareli noodsaaklik.

En ’n vasgestelde slaaptyd is die belangrikste van alles. Hulle hou dalk nie daarvan nie, of hulle protesteer dalk vreeslik, maar die konsekwentheid van ’n vaste roetine help kinders om geborge te voel.

Omdat hulle weet wat om te verwag, voel hulle veilig.

Dit hoef nie vreeslik streng te wees nie, want daar sal altyd dae wees waarop dinge effens deurmekaarraak. Maak hulle net gewoond aan die idee dat sekere dinge binne ’n sekere tydgleuf moet gebeur. “Dit leer hulle ook van tydsbestuur,” sê Mareli.

“Dis ’n goeie plan om dié roetine reeds te oefen in die week voor die skool heropen.”

Pak die tasse die vorige aand

Kweek die gewoonte by jou kinders om reeds die vorige aand hul skooltas en sportsak te pak.

“Jonger kinders het dalk aanvanklik hulp nodig, maar soos hulle ouer raak, behoort hulle mettertyd die verantwoordelikheid te aanvaar en dit self te doen.”

‘Gesels met jou kinders oor wat vir hulle belangrik is in die nuwe jaar wat wag’

Kry ’n huiswerkboekie

As die skool nie vir jou kind ’n huiswerkboekie gee nie, is dit die moeite werd om self een te koop.

“Kinders moet leer hoe om ’n dagboek te gebruik sodat hulle kan tred hou met hul huiswerk, opdragte, eksamenroosters, sportgeleenthede en wat ook al,” sê Elretha Bartlett, ’n beradingsielkundige by Meaningful Minds Psychologists in Johannesburg.

Aan die begin behoort ouers die dagboek na te gaan, maar soos kinders ouer word, moet hulle leer om dit self te doen.

Sê net vir jou kind jy is altyd bereid om te help en vrae te beantwoord. Navorsing toon kinders presteer beter wanneer ouers ’n gevoel van onafhanklikheid by hulle kweek.

“Dis realisties om te verwag dat kinders tussen agt en nege jaar self hul skoolwerk bestuur,” sê Elretha.

“Jy kan ouer kinders selfs aanmoedig om voor in die dagboek vir hulle ’n lys van realistiese doelwitte vir die nuwe jaar neer te skryf,” beveel sy aan.

Foto: Galllo Images/Getty Images

Besluit waar huiswerk gedoen word

Voor die nuwe skooljaar begin, moet ouers en kinders saam ’n huiswerkhoekie gereed kry, sê Mareli.

“Dit moet op ’n stil plek wees, met ’n gemaklike en regop stoel. Gaan koop die nodige skryfbehoeftes en rig die huiswerkplek in.”

Maak seker jou kind kry genoeg slaap

Dis normaal om tydens die vakansie meer ontspanne te wees oor die slaaproetine, maar kinders moet weer vroeg uit die vere wees vir die skooldag. Begin hulle solank vroeër in die bed kry, veral kinders van graad 1 tot 3.

“Kinders van ses tot 13 het tussen nege en 11 uur slaap per nag nodig,” sê Elretha.

“Begin ’n week voor die skool heropen en laat hulle geleidelik vroeër gaan slaap.”

Dis ook ’n goeie idee om hul skermtyd te verminder. “Laerskoolkinders stel ál meer belang in stimulerende tegnologie soos rekenaarspeletjies en die internet,” sê Mareli.

“Dié dinge word dikwels verbind met slaapprobleme, wat tot verswakte konsentrasie in die klas kan lei.”

Motiveer jou kind 

Die meeste kinders gaan ná ’n lang vakansie nie baie opgewonde oor die vooruitsig van ’n nuwe skooljaar wees nie. “Daarom is dit belangrik om hul ingesteldheid reg te kry,” sê Elretha.

“Gesels met jou kinders oor wat vir hulle belangrik is in die nuwe jaar wat wag.

Vir ’n jonger kind kan jy net vra: ‘Waarna sien jy uit? Is jy meer opgewonde oor teken en skilder of omdat jy gaan leer hoe om te skryf?’

“Met ouer kinders kan jy ’n meer gevorderde gesprek voer en hulle uitvra oor hul waardes en doelwitte vir die nuwe jaar.” Kinders wat in hul eie vermoë glo, het ’n groter kans op sukses in hul skoolwerk.

“Help jou kind om sy of haar eie talente te identifiseer,” voeg Elretha by. “Moedig hulle aan om vir hulself doelwitte te stel en motiveer hulle deur hulle te prys en aan te moedig.” 

Hoeveel tyd vir huiswerk?

Die algemene reël is sowat 10 minute per graad, sê die Johannesburgse berading- sielkundige Elretha Bartlett.

“Jy kan byvoorbeeld van ’n gr. 5-kind verwag om elke dag sowat 50 minute se huiswerk te doen.”

SO HANTEER JY JOU ANGSTIGE KIND

As jou kind angstig oor skool is, is daar ’n paar dinge wat jy kan doen om hulle emosioneel voor te berei. Van die algemeenste bekommernisse is ’n vrees vir die onbekende, akademiese druk, onsekerheid oor nuwe vriende maak, nuwe onderwysers en “moeilike” nuwe vakke.

Luister net

“Luister na jou kind se vrese en bekommernisse,” sê Elretha.

“Moenie vir hulle sê hulle moenie so voel nie – maak net seker hulle voel jy luister na hulle en stel hulle gerus. Jy kan byvoorbeeld sê: ‘Ek verstaan dat jy bang is wiskunde gaan vanjaar moeilik wees. Dis normaal om aan die begin van die jaar so te voel.’ ”

Bring alleentyd met jou kind deur

Bestee gehaltetyd saam met jou kind in die dae voor die skool heropen, is Elretha se raad. As jou kind ontspanne is, sal hulle meer geneig wees om oor hul gevoelens te praat.

“Vra jou kind wat jy kan doen om hulle beter te laat voel. Soms kan jy hulle gerusstel deur bloot oor jou eie skoolherinnerings te praat.”

Wees self positief

Jy is dalk so bekommerd oor jou kind dat jy self oorweldig voel. Of dalk was skool vir jou nie lekker nie en jou kind weet dit. “Kinders kan maklik ’n ouer se houding aanvoel; daarom moet jy hulle help om skool met prettige en gelukkige idees te verbind,” sê Mareli. “Probeer om tuis ’n atmosfeer van positiewe opwinding te skep.”

Gee hulle die gereedskap

Leer jou kinders ’n paar eenvoudige tegnieke wat hulle kan help wanneer hulle oorweldig voel, soos om aan ’n aangename plek of voorwerp te dink, om diep asemhalingsoefeninge te doen of ’n stresbal of -klei te druk.

Wees bewus

Wees op die uitkyk na waarskuwingstekens dat die angstigheid dalk deur iets ernstigs veroorsaak word, soos ’n geboelie of swak selfbeeld.

In dié gevalle is dit die beste om professionele hulp te kry.

Wen ’n deel van R28 000 met jou graadeentjie se grootskoolfoto!

Gaan jou kind die eerste keer “grootskool” toe? Skryf in vir ons Pep Graadeentjie-kompetisie vir ’n kans om kontantpryse vir jou en jou kind se skool te wen. Suid-Afrika se no. 1-skoolwinkel bied lae pryse en hope terug-skool-toe-besparings om jou kind uit te rus sonder om jou sak te ruk. Die kompetisie begin op 9 Januarie 2019. Besoek ons webwerf op 9 Januarie vir meer inligting oor hierdie wonderlike kompetisie.