“Waar ons gewoonlik kla dat die tyd vlieg, raak die dae nou oneindig lank, en om harmonie in die gesin te handhaaf, vereis dat elke lid emosionele aanpassings maak,” sê Daniel Nel, ’n sielkundige van Alberton in Gauteng.

“Wees sensitief vir die emosionele druk op die onderskeie gesinslede en bied ondersteuning vir mekaar.”

Hy sê dis sinvol om steeds spesifieke gesinstyd te skep, selfs al deel julle bedags kort-kort dieselfde ruimte.

“Beplan ontspanningsaktiwiteite vir die gesin soos speletjies en ’n vleisbraai.”

Tydsbestuur is belangrik

“ ’n Versteurde roetine kan tot frustrasie, angs, depressie en gemoedskommelings lei. Fisieke, intellek­tuele en ontspanningsaktiwiteite moet alles deel uitmaak van ’n gebalanseerde dag.”

Sorg dat jy ’n vaste tyd daarvoor skep in jou gesin se dagboek vir die dag.

Die isolasie kan gesinne selfs ’n gulde geleentheid bied om verhoudings te laat verdiep, meen hy.

Om jou eie innerlike balans te behou, moet ouers ook tyd vir hulself inruim.

“Meditasie, ontspanningstegnieke, lees, stokperdjies, kuns en ander gunstelingtydverdrywe is van terapeutiese waarde,” sê Daniel.

Hou jou kinders so besig

Met ’n verlengde skoolvakansie weens die uitbreek van COVID-19 moet kinders op ’n sinvolle manier besig gehou word, ook om hulle die trauma van dié stresvolle tyd te spaar, sê Marita Rademeyer, ’n kindersielkundige van Pretoria. Sy gee dié wenke.

SKEP RUSTIGE GEHALTETYD

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Jy hoef jou kinders nie heeltyd te probeer stimuleer nie. Nou kan ook ’n tyd wees vir eenvoudige gehaltetyd.

Lees saam, bou saam legkaarte en speel bordspeletjies, sit saam buite in die tuin, gesels en vertel stories. Jou kinders sal dalk nie onthou wat hulle als in hierdie tyd geleer het nie, maar hulle sal onthou hulle het tyd saam met jou deurgebring.

VAAR DIE KOMBUIS IN

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jy jou kleingoed leer om self ’n ligte ete te berei, is dit ook ’n maklike en prettige manier om hulle te voed.

KWEEK TUINHANDE

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Baken ’n lappie grond af wat hulle self kan voorberei, en laat hulle iets daar plant wat vinnig en maklik groei. Julle kan (verkieslik ­telefonies) by ’n plaaslike kwekery navraag doen oor watter plante dié tyd van die jaar goed sal vaar. As jy nie ’n tuin het nie, plant plantjies in potte.

ONTHOU OM HULLE TOE TE LAAT OM NET TE SPEEL!

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Net omdat jy en jou kinders pal by die huis is, beteken dit nie jy moet hulle heeltyd probeer besig hou nie. Kinders moet ook tydens die vakansie bloot ontspan en leer om hulself besig te hou in die ledige ure.

Soms is dit juis wanneer hulle verveeld voel dat hulle begin speel en woeker met dinge wat hul belangstelling prikkel – uit verveling kan kreatiwiteit gebore word.

LEER AANLYN

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Net omdat die skole gesluit is, hoef jou kind nie op te hou leer nie.

  • YouTube kan vir jou kinders ’n hele wêreld open met kanale wat spesifiek op onderrig gemik is soos National Geographic Kids, Kids Learning Tube, Science Max, The Science Channel, TheBrain­Scoop en Mike Likes Science.
  • Allinonehomeschool.com is ’n webtuiste met lesse in enige vak waaraan jy kan dink vir gr. R tot gr. 12. Die lesse is boonop ­alles gratis.
  • Udemy bied ’n groot verskeidenheid kursusse in vakke soos wiskunde, wetenskap, kuns en selfs kodering aan. Die pryse wissel van R100 tot R1 000. Gratis kursusse is ook beskikbaar, en jou kinders kry ’n sertifikaat vir elke kursus wat hulle ­voltooi.
  • BrainPop is ’n groep opvoedkundige webtuistes met meer as 1 000 animasievideo’s om leerders van gr. R tot matriek met vakke soos wiskunde, wetenskap, biologie, Engels en kuns te help. Maar teen $150 (R2 600) vir die goedkoopste plan is dit ’n duur opsie.

Marita maan ouers om kinders nie alleen met die rekenaar of slimfoon te los nie en hul skerm­tyd tot ’n minimum te beperk.


BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, WASHINGTONPOST.COM, THEATLANTIC.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.