Dis ’n voortdurende probleem vir ouers met tieners: om die oogrollery, gesug en gekners van tande te verduur as jy dit durf waag om hul selfoongebruik te onderbreek.

Of hul vingers blitsvinnig sit en whatsapp en of hulle die een YouTube-video ná die ander kyk, die hemel behoed die ouer wat ’n tiener wil wegskeur van hul toestel om huistakies te doen, saam te gesels aan tafel of huiswerk te doen.

Dit maak ma’s en pa’s tegelyk geïrriteerd en bekommerd: Belemmer dié toestelle kinders se verstandelike vermoë?

Strem dit hul sosiale ontwikkeling? Kry hulle met ongure elemente aanlyn te doen? Wat moet ’n ouer doen?

Die alewige bakleiery het Marion Read, ’n bekommerde ma van Engeland, so wanhopig laat voel, sy het haar tot die ouerskapswebtuiste Mumsnet gewend om te hoor of vreemdelinge haar dalk kan help.

Die ma het vertel sy vat getrou saans haar 17-jarige dogter se foon en skakel die Wi-Fi af, selfs naweke en vakansietye. Nadat sy toegegee het haar benadering lei tot “gedurige rusies” en ál meer onhanteerbare gedrag van haar dogter, wou sy by medeouers weet of sy “te streng” is.

Gebruikers het flink gereageer. Iemand het haar metode as “drakonies” beskryf, terwyl ander haar uitgetrap het omdat sy nie haar dogter vertrou nie. Al het talle ouers Marion se streng benadering gekritiseer, het ander haar daarvoor geloof.

Een het gesê hopelik leer sy haar dogter goeie gewoontes. Blykbaar is die wetenskap aan Marion se kant, te oordeel na ’n onlangse studie deur ’n span van die Universiteit van San Diego.

Navorsers het ’n aanlyn peiling gebruik om meer as ’n miljoen kinders tussen 13 en 18 jaar uit te vra oor hoeveel tyd hulle op hul foon, tablet en rekenaar deurbring en hoe lank hulle vriende van aangesig tot aangesig sien.

Hulle het ook gemeet hoe gelukkig die tieners is. Die resultaat? Die gelukkigste tieners het onder ’n uur per dag aan sosiale en ander digitale media bestee. Die navorsingspan meen skermtyd was die oorsaak van die ongelukkigheid.

Tieners met langer blootstelling aan elektroniese skerms was gemiddeld minder gelukkig as diegene wat meer tyd ingeruim het vir ander aktiwiteite, soos sport, kuier saam met vriende, en boeke en tydskrifte lees.

“Die wagwoord wat die gebruik van digitale media en geluk betref, is beperkte gebruik,” sê prof. Jean Twenge, wat die navorsingsprojek gelei het.

“Mik daarna om nie langer as twee uur per dag aan digitale media af te staan nie en ruim liewer meer tyd in om jou vriende te sien.”

‘Ruim liewer meer tyd in om jou vriende te sien’

Benewens om jou tiener se selfoon met geweld by hom af te vat, hoe kan jy verseker hy bring nie te veel tyd daarop deur nie? Dié kwessie is onder meer so omstrede omdat tye so vinnig verander, sê Colleen Wilson, ouerskapskenner en medestigter van Contemporary Parenting van Durban.

“Die wêreld van toestelle is iets wat die ouers van vandag se jong kinders en tieners nooit ten volle sal begryp nie,” sê sy.

“Ons maak dikwels die fout om ouerskap vanuit ons perspektief te benader. Dit beteken ons kyk hul oogpunt mis, wat ’n reuseskeiding tussen ons en ons kinders skep.

“Eindelik wil ons verantwoordelike selfoongebruik hê wat nie ons kinders benadeel of dit vir hulle moontlik maak om enigiemand anders skade te berokken nie. So kan hulle soveel moontlik voordeel uit die toestel kry en ook ’n balans in hul lewe handhaaf.”

Maar elke ouer weet seker nou al: Dis makliker gesê as gedaan. Hier is wenke en feite wat jy in gedagte kan hou terwyl jy dié uitdaging saam met jou kind die hoof bied.

OUDERDOM MAAK SAAK

Jy moet jou kind se selfoongebruik bestuur volgens hul ouderdom, sê Mark Southwood, ’n sielkundige van Pretoria.

“Slimfone is ’n manier waarop kinders met hul maats kommunikeer; dus kan jy met reg vra: Wat sou ’n ouer redelikerwys hul kind toelaat wat kommunikasie met vriende betref?” sê hy.

“Sal hulle halftien op ’n skoolaand nog uit mag wees saam met vriende of laatnag met maats in jul of hul huis kuier? Nee? Hoekom hulle dan toelaat om op daardie tyd op hul foon te gesels?”

WEES WEDERSYDS OOP

Ouers moet op die hoogte bly van wat jonger tieners op hul foon doen, sê Colleen.

“Jy moet jou kinders se foon nagaan; sê dus vir hulle dis deel van die ooreenkoms. Wagwoorde moet gedeel word; dis ook deel van die ooreenkoms. Hulle moet verstaan die foon is nie uitsluitlik hul eiendom nie.”

Sy spoor ouers aan om hulself en hul kinders oor die moets en moenies van slimfoongebruik op te voed. Die sosialemediakenner Emma Sadleir se boek Selfies, Sexts and Smartphones: A Teenager’s Online Survival Guide is ’n goeie vertrekpunt.

Gesels dan oor wat elkeen van hul slimfoongebruik verwag.

“Ons almal leer nog,” sê Colleen.

“Ouers moenie maak asof ons weet wat aangaan of dat ons presies weet hoe om dit te hanteer nie. Ek dink dit help as kinders weet hul ouers doen hul bes in hierdie verbysterende, nuwe wêreld om hul kinders te beskerm en met vaardighede toe te rus.”

As jou kinders sosiale media gebruik, maak seker hulle is oud genoeg om daardie platforms te gebruik. Maak aanlyn vriende met hulle om seker te maak hulle gebruik dit verantwoordelik.

“Die meeste of al die sosialemedia-apps het ’n ouderdomsperk, gewoonlik met goeie rede,” sê Mark.

‘Leer hulle besef wanneer hulle moeg is en moet slaap’

WEES BUIGSAAM

Interessant genoeg is in die studie in San Diego bevind kinders wat digitale media heeltemal vermy, is ook ongelukkiger as diegene wat dit nie doen nie.

Colleen stem saam met hierdie bevinding en meen die dae toe ouers botweg kon weier dat hul tiener ’n slimfoon besit, is lank reeds verby. Dié toestelle het net te integraal deel van ons daaglikse lewe geword.

“Ongelukkig kan ons nie hierdie wêreldwye virtuele golf keer nie; ons moet leer om dit te ry en ons kinders leer om dieselfde te doen,” sê sy. Colleen, self die ma van ’n tiener, raai ouers aan om by die tyd aan te pas.

“Die tegnologie verander, die wêreld verander, en dit verander so vinnig dat wat vandag vir ons werk dalk reeds volgende maand nie meer sal werk nie.”

Sy herinner ouers ook daaraan: Deur jou kinders te dwing om die reëls te gehoorsaam leer jy hulle nie hoe om hul toestel op lang termyn verantwoordelik te gebruik nie.

“Jy kan dit afdwing, maar wat gebeur wanneer jy nie in die omtrek is nie?” vra sy.

“Jou kinders moet byvoorbeeld leer om te besef wanneer hulle moeg is en aan die virtuele wêreld moet onttrek en gaan slaap.

“Ek beveel aan jy stel gesonde perke, bly aan die kommunikeer met hulle, raak betrokke by hul wêreld, voed hulle en jouself gedurig op en omarm die steeds veranderende tyd.” 

Ekstra bronne: Telegraph.co.uk, mumsnet.com

Maak etenstyd jul kuiertyd sonder lastige elektroniese toestelle. Foto: Gallo Images/ Getty Images

WANNEER MOET MY KIND ’N FOON KRY?

Deesdae het kinders se eerste foon ’n belangrike mylpaal geword; moet dus nie verbaas wees as jou agtjarige begin vra wanneer hy of sy ’n foon kry nie. Daar is geen “regte” ouderdom om kinders hul eerste slimfoon te gee nie.

Dit hang af van talle faktore; die belangrikste is nie jou kinders se ouderdom nie, maar hoe volwasse hulle is. Sodra hulle dié magtige kommunikasie- en-mediawerktuig het, maak dit ’n deur na soveel dinge oop dat die ouers hul besluit moet grond op of hul kinders gereed is om ’n selfoon verantwoordelik en respekvol te gebruik.

Daar is ’n verskil tussen tegnologies vaardig wees en die vermoë hê om dit verstandig te gebruik. Dink eers mooi na oor dié vrae:

  • Hoe verantwoordelik is hulle? Dit sal blyk uit byvoorbeeld hoe hulle hul huiswerk en takies tuis benader en of hulle jou ingelig hou oor sake waarvan jy moet weet.
  • Sal hulle ’n selfoon verantwoordelik gebruik – byvoorbeeld om dit veilig weg te bêre (en af te skakel of die klank af te skakel) tydens klasse?
  • Is jou kinders geneig om goed te verloor – hul sportsak, sportskoene, boeke, huiswerklêers? Indien wel, is hulle werklik gereed vir ’n (duur) foon?
  • Moet jy jou kinders kan bereik of moet hulle jou veiligheidshalwe kan kontak?
  • Sal maklike toegang tot vriende om sosiale redes goed vir hulle wees?
  • Verstaan hulle hoe teksboodskappe, foto’s en video’s gebruik kan word om mense in die verleentheid te stel of te teister – en wat die implikasies daarvan vir hulle en die slagoffers van sulke afknouery sal wees?

Ekstra bron: Commonsensemedia.org

STEL SO PERKE TUIS

Dié riglyne sal ’n mens se tieners hul selfoongebruik help bestuur sodat dit nie met jou gesinslewe inmeng nie, sê die Durbanse ouerskapskenner Colleen Wilson.

  • Geen toestelle aan tafel tydens etenstye nie.
  • Maak dit duidelik huistake en gesinstyd is belangriker as skermtyd.
  • Geen skerms in die slaapkamer nie – en dieselfde geld vir ma en pa!
  • Skakel die fone saans af. Oorweeg ’n sentrale herlaaistasie pleks van toestelle in die slaapkamer herlaai