Die skooljaar se gô is amper uit en vir baie leerders beteken dit die begin van ’n spannende tyd – om agter die boeke in te skuif vir die jaar se eindeksamen.

Die matrieks het al op 15 Oktober hul penne opgeneem vir die eerste vraestel wat (hopelik) die einde van hul skoolloopbaan sal inlui, en vir talle ander ouers en leerders kruip die stresvolle berg van die jaareindeksamen ál nader.

Maar moet eksamentyd noodwendig stresvol en ontwrigtend wees?

Ons het by kenners – ’n arbeidsterapeut, eienaar van ’n leersentrum en ’n dieetkundige – aangeklop vir wenke en raad, en oor een ding is hulle dit eens: ’n Positiewe gesindheid is belangrik.

En dit geld vir almal – ouers én kinders – want gespanne ouers maak kinders ook gespanne. Wat is die moets en moenies wanneer kinders agter die boeke inskuif?

Top-11-wenke vir leerders wat eksamen skryf

Beplan en verdeel die werk

Stel ’n studierooster op. Begin in die weke voor die eksamen afwisselend aan verskillende vakke werk om te keer dat jy verveeld raak.

Die ideaal is dat jy twee weke voor die eksamen reeds opsommings van elke vak gemaak het, sê Hannelie Bronner, eienaar van die leersentrum Edublox in Durbanville. Moenie probeer om al die inligting op een slag in te neem nie, voeg sy by.

Baken jou werk af in onderwerpe, hoofstukke of ’n sekere aantal bladsye.

Leer alles

Moenie werk uitlaat nie, sê Alma de Wet, ’n arbeidsterapeut van Pretoria. Leer al die werk, maar hersien die belangrikste gedeeltes wanneer jy tyd het.

Kry jou leeromgewing gereed

Sit en studeer by ’n lessenaar met ’n goeie stoel, nie in jou bed nie, sê Alma.

“Wanneer jy jou knieë teen ’n hoek van 90° buig, is dit belangrik dat jou voete stewig rus. Indien jou voete in dié posisie nie aan die vloer kan raak nie, gebruik ’n voetbankie of ander voetrus vir ondersteuning. Jy het goeie lig nodig, en vermy dinge wat jou aandag kan aftrek.

“Studies toon barokmusiek wakker die brein die beste aan om inligting in te neem. Vermy musiek met woorde, want dit sal jou aandag verdeel,” is Alma se raad.

Neem gereeld blaaskanse

Wanneer jy lank studeer, neem gereelde blaaskanse van omtrent 10 minute op ’n slag, sê Hannelie.

Dit gee die brein kans om die inhoud te verwerk en te berg, help keer dat jou liggaam moeg raak en help om jou konsentrasie en motivering te behou.

Laerskoolleerders moet sowat 20 tot 30 minute op ’n slag studeer, sê Alma, terwyl hoërskoolleerders elke 45 minute tot ’n uur ’n blaaskans moet neem.

“Sommige ouer kinders kan wel vir langer tydperke aaneen studeer, maar leerders moet hulself ken en weet sodra hul aandag dwaal, is dit beter om ’n ruskans te neem.”

Eet Gesond en neem genoeg water in

As jy gesond eet, sal jy nie net beter voel nie; jy sal ook produktiewer agter die boeke wees, sê Odette Venter, ’n dieetkundige van Hartbeespoort in Noordwes.

Sy stel voor jy eet kos met ’n lae glukemiese inhoud (GI) en bly weg van verfynde suiker en stysel. Voorbeelde van lae-GI-kosse is volgraan, veselryke kos, patat, bruinrys, baba-aartappels en vrugte soos appels, perskes en bessies.

Drink ook minstens 2 L water per dag en beperk kafeïen- en suikerryke drankies. Odette meen voedselaanvullings is onnodig as jy gesond en gebalanseerd eet, maar sommige kan wel help om konsentrasie en geheue te verbeter.

“Die B-vitamiene (in vleis, vis, hoender, volgraan en groente), magnesium (in neute, sade en volgraan) en omega-3-vetsure (in salm, forel en makriel asook in vlas- en chiasaad en okkerneute) is voordelig vir jou brein. Resveratrol, ’n antioksidant wat natuurlik voorkom in die skil van pers vrugte soos rooi druiwe, speel ’n rol in geheue,” verduidelik sy.

Oefen gereeld

Odette stel voor jy oefen 150 minute per week. “Jy kan dit verdeel in twee sessies van 15 minute op ’n dag vyf keer per week, of nes jy wil,” sê sy.

Oefening verhoog die harttempo, wat op sy beurt die suurstoftoevoer na die brein verhoog.

“Meer suurstof help met die ontwikkeling van breinselle, veral in dié deel van die brein wat vir leer en die geheue verantwoordelik is.”

Kry genoeg slaap in

Slaap is uiters belangrik vir jou brein. “Dit maak nie saak of jy beter saans of soggens studeer nie, solank jy net genoeg slaap inkry. Verkieslik agt uur per nag,” sê Alma.

Volgens Hannelie kan ’n middagslapie ook voordelig wees.

“Slaap voor studie maak die brein gereed om nuwe inligting te ontvang. ’n Slapie ná studie help om inligting vas te lê en die herroeping daarvan te verbeter,” sê sy.

Ontspan

Alma stel voor jy doen ontspanningsoefeninge voor die eksamen of wanneer jy gestres is. “Trek al die spiere in jou lyf saam, hou dit vir vyf tellings en ontspan. Doen dit ’n paar keer en jy sal voel hoe die spanning jou lyf verlaat.”

Visualisering help ook baie.

“Visualiseer ’n plek of ’n aktiwiteit wat jou rustig laat voel. Haal 10 keer diep asem, trek dit in deur jou neus en laat dit deur jou mond uit.”

Wees positief

Positiwiteit is belangrik.

“Dink aan jou brein as ’n rekenaar wat geprogrammeer moet word. Programmeer dit met boodskappe soos ‘Ek ken my werk’, ‘Ek kan rustig voel oor die eksamen’ en ‘Ek het ’n wonderlike brein’.

Moenie dat negatiewe gedagtes nesskop nie,” is Alma se raad.

Sy stel ook voor dat jy nie op die dag van ’n vraestel die werk met ander leerders bespreek nie, want dit sal jou net onrustig maak.

Wees voorbereid

Maak die dag voor die vraestel reeds seker jou skryfbehoeftes is gereed.

Sorg dat jy ’n ekstra pen het en dat dié pen lekker skryf. Daag betyds by die eksamenlokaal op – jy wil nie jaag nie, want dit sal jou angstigheid verhoog, maan Hannelie.

Maak seker jy het ontbyt geëet en het tydens die eksamen ’n bottel water byderhand sodat jy gehidreer bly.

Beplan jou tyd

Doen dit sodra jy die vraestel ontvang, stel Hannelie voor. “Trek vyf minute af vir beplanning en om vinnig die vraestel deur te lees, sowel as vyf minute om jou antwoorde aan die einde van die eksamen deur te lees.

Deel die oorblywende tyd deur die getal punte om uit te werk hoeveel tyd jy aan elke punt kan bestee,” sê sy. Beantwoord die kortvrae eerste, dan die vrae wat antwoorde van twee sinne het en laastens die langvrae.

As jy met ’n vraag sukkel, maak ’n merkie daarby en keer later daarna terug. “Gaan na onbeantwoorde vrae terug en vertrou jou instink. Moenie ’n antwoord oop los nie,” sê sy.

Lees aan die einde weer deur jou antwoorde. Moenie rondkyk nie en bly kalm as jy sukkel.

Haal diep asem en doen een van die ontspanningsoefeninge hierbo. 

Ouers

SEWE WENKE

1. Bly kalm.

2. Maak seker julle het gesonde kos in die huis.

3. Moedig oefening aan.

4. Moedig genoeg slaap aan.

5. Kyk na jou kind se studierooster of beplan dit saam met jou kind.

6. Wees positief.

7. Maak seker die studieomgewing is rustig en toegerus.

WAT OM NIE TE SÊ NIE

  • “Jy sal nooit ’n goeie werk kry nie.”
  • “Jy’t gans te min studeer.”
  • “Jou broer was altyd baie meer voorbereid.”
  • “Jy beter die vraestel deurkom, anders . . .”

SÊ EERDER:

  • “Jy moet bo 60% kry as jy rekeningkunde wil studeer – ek weet jy kan.”
  • “Is jy seker jy is gereed vir die vraestel? Het jy my hulp met iets nodig?”
  • “Net jy sal weet of jy voorbereid is.”
  • “Dis nou die laaste bult voor die vakansie. Ek het volle vertroue dat jy dit kan doen.”

Die kenners sê ouers kan tydens studietyd toegang tot televisie en selfone beperk, maar dit is belangrik dat jou kind verantwoordelikheid vir sy studie neem.

“As jy regtig glo hy het nie genoeg geleer nie, moedig hom aan om nog ’n keer deur sy werk te gaan. Maar op die ou end moet hy self die gevolge dra as hy nie voorbereid is nie,” sê Alma.

“Skep die geleentheid vir ’n paar uur se wegbreek. Iets om na uit te sien sodat alles nie net om die studie gaan nie,” stel Hannelie voor.

“Dit is belangrik om te onthou dat ’n eksamen nie ’n toets van geheue is nie, maar van wat hulle deur die jaar of kwartaal geleer het.”