Die trane, die naelbyt, die angs, die buie – en nou praat ons nog net van ma en pa. Ja, dis weer eksamentyd en leerders moet ernstig agter die boeke inskuif voor hulle die lang vakansie kan geniet.

Dit is ’n stresvolle tydperk vir die hele gesin. Leerders staan voor ’n berg werk, ouers moet ’n omgewing skep wat bevorderlik is vir leer, en die res van die kroos moet tjoepstil wees sodat hulle nie hul broer of suster se aandag aflei nie. Tog is daar maniere om eksamenkoors te verlig en jou kind, en jouself, deur dié uitdagende tyd te help.

HELP, MY KIND IS GESPANNE

Spanning in eksamentyd is nie noodwendig skadelik nie, want matige stres kan dien as motivering en kinders op hul tone hou. Maar as kinders se stresvlakke handuit ruk, kan dit hul vermoë belemmer om vir die eksamen voor te berei.

Dr. Ramya Mohan, ’n psigiater en opvoeder, raai ouers aan om hul kinders dop te hou vir die volgende waarskuwingstekens:

  • sukkel om saans aan die slaap te raak of soggens op te staan
  • ongereelde of swak eetgewoontes
  • voortdurend in ’n slegte bui, knorrig en het ’n gebrek aan selfvertroue
  • het maagpyn, hoofpyn en veltoestande wat opduik, soos ekseem.

Ouers moet die waarde van goeie werk, nie harde werk nie, by kinders inboesem, sê Eileen Tracy, ’n kenner in studievaardighede. Sê vir jou angstige kind eksamenvoorbereiding beteken nie noodwendig lang ure se werk nie.

“Studente wat blaaskanse neem en hul werk in die volgorde van belangrikheid aanpak, vaar beter as dié wat hard studeer en wie se idee van hersiening is om hul leerplan uit die kop te ken,” sê sy.

Ouers moet ook lig loop dat hulle nie kinders se vrese vererger nie. “Selfs ’n goed bedoelde vraag soos: ‘Moet jy nie studeer nie?’ kan paniek veroorsaak,” sê Eileen. “Tieners is uiters sensitief vir wat hul ouers sê, hoewel sommige dié sensitiwiteit baie goed sal wegsteek.”

HELP, MY KIND IS MIN GEPLA

Jy het geneul, gepleit en gedreig, maar jou kind beskou eksamen as ’n lastige probleempie op die horison en studeer as iets om vinnig klaar te kry voor ’n YouTube-marathonsessie.

Hoe nou gemaak? Eileen sê ’n mens moenie vae waarskuwings uiter nie, soos: “Jy sal nooit ’n goeie werk kry as jy so aangaan nie.” Waarskuwings moet spesifiek wees om doeltreffend te wees, soos: “Om vir ’n universiteitskursus van jou keuse aanvaar te word, het jy 75% vir wiskunde nodig.” Sy waarsku ook teen onderhandeling of emosionele afpersing.

“Deur te sê: ‘Ek sal/sal nie vir jou daardie Xbox koop as jy slaag/druip nie,’ impliseer jy dat jy opvoeding beskou as intrinsiek vervelig en sinloos, en dat jy desperaat is oor punte.” Onthou: Die ingesteldheid is belangriker as die punte; dit sal julle almal help ontspan, en jou tiener kan dan dalk juis beter vaar. “Ontkoppel jou tiener se selfwaarde van hul punte: Om A-simbole te behaal maak nie van jou kind ’n ster nie; nog minder is hy ’n mislukking as hy druip,” sê sy.

Eileen stel voor angstige ouers doen ’n bietjie introspeksie. “Besin oor jou eie ervaring van eksamens sodat jy nie jou onverwerkte angs of verlammende skuldgevoelens aan jou kind oordra nie.”

WAT JOU KIND VAN JOU NODIG HET

“Ouers moet in eksamentye sorg vir ’n kalm, ondersteunende en positiewe huislike omgewing sodat die kind nie oormatige druk of stres ervaar nie,” sê Melissa Ferreira, ’n opvoedkundige sielkundige.

Neem in ag die skoolomgewing is dalk gespanne; daarom is dit belangrik dat jy vir jou kind ontspanne lyk. Ouers moet probeer om die eksamenlokaal in hul kind se studeerplek na te boots met ’n netjiese werkruimte, die regte skryfbehoeftes en stil werk- omstandighede, sê die opvoedkundige sielkundige Catherine Radloff.

Hoewel kenners ouers aanraai om onafhanklikheid aan te moedig, kan ouers se betrokkenheid, soos om belangstelling te toon in hul eksamenrooster, ’n beduidende verskil maak.

“Navorsing toon kinders met ouers wat betrokke is by hul studie en opvoeding kry hoër punte,” sê Melissa. “Hulle het ook meer selfvertroue en ’n beter houding teenoor studeer.”

Ouers moet ook 100% seker wees hul kind weet hoe om vir eksamens te studeer en het studietegnieke gekweek wat die beste vir hulle werk, is die opvoedkundige sielkundige Melanie Hartgill se raad. “Dit sluit in die vaardigheid om opsommings te maak, sleutelpunte te identifiseer, breinkaarte te skep en vroeg genoeg te begin hersien.”

EET, RUS, SLAAP

Goeie voeding moet altyd deel wees van ’n studieplan, want dit help jou kind om beter te vaar. Deane Alba is ’n gesondheidskenner van Amerika en medestigter van die Be Brain Fit-webtuiste, wat hom beywer vir kognitiewe en geestesgesondheid.

Sy beveel dié kosse aan vir eksamentyd:

  • vrugte en groente vol antioksidante, veral bessies, sitrusvrugte en soetrissies
  • proteïenbronne wat heelwat omega-3-vetsure bevat, soos rooivleis, eiers, pluimvee en olierige vis
  • komplekse koolhidrate, soos wortels, aartappels, volgraanbrood en hawermout
  • goeie vette, soos dié in neute, sade, avokado’s en olywe.
Foto: Getty Images/ Gallo Images

Kinders moet tydens hul studie gereeld blaaskanse neem. ’n Ruskans van 5-10 minute elke halfuur word aanbeveel, en dit moet verkieslik nie tyd voor ’n skerm wees nie. Fisieke aktiwiteit is die beste manier om dié tydjie deur te bring. Hulle moet hul slaaptyd beplan.

“Wanneer jy op ’n sekere tyd moet opstaan, tel die getal ure wat jy wil slaap terug en voeg dan ’n halfuur by,” is die raad op die webtuiste van Unisa se kliniek vir studentegesondheid en welstand. “Die ekstra halfuur is belangrik; ons vergeet dikwels die tyd wat dit neem om tande te borsel, die wekker te stel, ensovoorts.”

WENKE VIR DIE EERSTE EKSAMEN

Kinders begin gewoonlik in gr. 4 eksamen skryf. Talle ouers van kinders wat vir die eerste keer eksamen skryf, voel angstig oor die uitdaging. Melissa gee dié nuttige wenke:

  • Begin vroeg voorberei sodat julle studietyd in kort sessies kan verdeel en die studeerwerk oor dae kan versprei.
  • Maak die leerproses pret in die vorm van ’n vraelys en maak voorsiening vir beweging, want nie alle kinders kan stilsit terwyl hulle leer nie.
  • Vermy afleidings en maak seker daar is goeie beligting en ’n geskikte ruimte om in te studeer. 
Hoewel kenners onafhanklikheid aanmoedig, stem hulle saam ouers se betrokkenheid by ’n kind se opvoeding kan ’n beduidende verskil maak in hoe die kind in die eksamen presteer.

APPS EN LEERHULP

  • worksheetcloud.com –Die Worksheet Cloud-webtuiste, waartoe jy ook op mobiele toestelle toegang kan verkry, bevat werkkaarte van die Kurrikulum- en Assesserings- beleidsverklaring (KABV) wat volgens kwartaal, graad en onderwerp gekategoriseer word. Die aanlyn en drukbare weergawes kos R120 eenmalig, plus ’n ekstra R95 per maand.
  • My Study Life – Hiermee kan jy jou klasse, huiswerk en eksamens aanlyn bêre, wat bete-ken dis beskikbaar op enige toestel, ongeag waar jy is. Met dié nuttige app kan jy tred hou met watter take ingelewer moet word, onthounotas vir eksamendatums aanteken en jou hersiening bêre. Dis gratis in Android- en iTunes-app-winkels.
  • e-classroom.co.za– Nes met Worksheet Cloud stel E-Classroom leerders in staat om KABV-gerigte werkblaaie op ’n rekenaar of Mac af te laai. Drukbare werkblaaie word volgens graad, vak en kwartaal georganiseer. Toegang tot die webtuistes kos net R30 per jaar, maar dis nie op mobiele toestelle beskikbaar nie.

  • Huisgenoot 100 matriekvrae bied vir matrieks ekstra hulp met hul skoolwerk. Klik hier om na die video's te kyk. 

Ekstra bronne: eclassroom.co.za, Parentinginfo.org, Unisa.ac.za, Guardian.com, elleentracy.co.uk, Oxfordlearning.co.uk, Parentingscience.com, worksheetcloud.com