Kinders in dié land verorber jaarliks byna 400 koekies; meer as 120 koeke, bolletjies en fyngebak; ongeveer 100 porsies lekkers, amper 70 stafies sjokolade, sowel as roomyse; en hulle sluk dit af met meer as 150 sakkies sap en blikkies gaskoeldrank.

Amptenare by die openbare gesondheidsowerheid (PHE) wil nou ongesonde eetgewoontes en tandbederf beveg deur ouers te oorreed om te hou by “420 kJ-happies, maksimum 2 per dag” as deel van die Change4Life-veldtog.

Kinders eet aansienlik meer as net 'n koekie of stukkie sjokolade af en toe.

Volgens dr. Alison Tedstone, die hoofvoedselkundige by PHE, is die ware omvang van kinders se peuselgewoontes aansienlik groter as ’n koekie of ’n stafie sjokolade nou en dan.

"Kinders eet heeldag ongesonde happies en ouers het hul bekommernis daaroor met ons gedeel,” het sy gesê. “Ons het ’n eenvoudige, praktiese metode ontwikkel om sake vir besige gesinne makliker te maak om in die rigting van gesonde happies te beweeg – dink aan 420 kJ-happies, maksimum 2 per dag.”

Talle van die ongesonde happies wat kinders gereeld verorber, bevat baie suiker en natuurlik ook groot hoeveelhede koolhidrate. ’n Roomys bevat byvoorbeeld sowat 730 kilojoules, ’n pakkie aartappelskyfies 795 kilojoules, ’n stafie sjokolade 835 kilojoules, en daar kan 1 130 kilojoules in ’n pasteitjie wees.

Die 420-kilojoule-aanbeveling is nie op groente en vrugte van toepassing nie.

Die 420-kilojoule-aanbeveling het betrekking op alle happies behalwe vrugte en groente, aangesien kinders aangemoedig moet word om ’n verskeidenheid hiervan te eet.

Justine Roberts, die hoof- uitvoerende beampte en stigter van die ouerskapforum Mumsnet, steun die veldtog.

"Die hoeveelheid suiker wat kinders uit happies en suikerdrankies alleen inkry, is nogal vreesaanjaend, en dis dikwels moeilik te onderskei om tussen gesonde en ongesonde happies,” het sy gedeel.  

“Hierdie praktiese metode van Change4Life sal ouers help om beter keuses te doen, en dit kan net ’n goeie ding wees.”