Die langnaweek is om die draai en jou kinders kan skaars wag vir die wegbreek. Maar as julle die langpad aandurf, is die kans goed jy as ouer voel dalk ietwat beswaard.

Kom, erken dit maar: Gesinsvakansies kan uitputtend wees.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Om die hele kroos van punt A tot B te kry is nie sonder sy uitdagings nie. Tog kan ’n mens ’n paar dinge doen om die avontuur minder stresvol vir almal te maak.

Maak jou gesin se padreis ’n onvergeetlike een – om al die regte redes – met ons praktiese wenke.

1. Beplan jou kinders se uitrusting vooraf

Pak julle altyd te veel goed in wanneer julle met vakansie gaan? Pleks daarvan om net klere in ’n tas te gooi, sit eers individuele uitrustings bymekaar en sorg dat daar vir elke kind ’n uitrusting vir elke dag van die vakansie is.

Rol elke dag se onderklere en sokkies binne in die broeke en hemde op, en maak die bondel sommer met ’n rekkie vas.

Onthou om altyd ’n klein houertjie waspoeier saam te neem ingeval jy ’n T-hemp of broek moet was.

2. Maak seker almal het hulle eie reistas

Dis makliker om klere op te spoor wanneer elkeen sy eie sportsak of rugsak het eerder as om ’n reistaste deel.

Dit sal ook keer dat die hele gesin se klere in een groot warboel verstrengel raak.

Maak seker jy neem ’n groot vullissak saam vir die vuil wasgoed; dan is al die vuil klere bymekaar en hoef jy nie met jul tuiskoms deur die sakke te krap om wasgoed te soek nie.

3. Hou die kinders besig met 'n paar kindervriendelike apps

Laai ’n paar kindervriendelike apps op jou toestelle om die kinders tydens lang motorritte besig te hou sodat hulle nie verveeld raak nie.

As jy dit nie wil doen nie omdat jy hul tyd voorskerms wil verminder, kan jy vir aktiwiteite items soos inkleurboeke, plakkers en woordraaisels inpak.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

As jou kroos moeg raak van toestelle en aktiwiteite, kan jy oudioboeke probeer. Dié boeke is ’n wonderlike manier omkinders en volwassenes te boei en uit die kwaad te hou.

4. Maak seker die kinders eet ook gesond 

Die versoeking om vir kinders lekkergoed te voer sodat hulle kan stilbly is groot, maar wees sterk en weerstaan dit.

Jy wil nie in ’n motor vasgekeer wees met kinders wat ’n oordosis suiker ingekry het nie. Pak southappies soos kaasblokkies en broodstokkies en vrugte in vir padkos.

Bekommerd oor die gemors? Trek ’n oupaslaken oor die agtersitplek om die krummels en vuilheid op te vang.

Aan die einde van die reis kan jy dit net afhaal, en die sitplek sal verbasend skoon wees.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

5. Maak seker alle dokumente is in plek

Skandeer of neem foto’s van alle belangrike reisdokumente, soos kaarte, inligting oor reisversekering en kontakbesonderhede vir gastehuise en hotelle.

Hou dit op jou selfoon vir maklike verwysing.

6. Hou hulle besig met 'n reisdagboek of weggooikamera

Moedig jou kinders aan om ’n reisdagboek te hou en aan te teken wat hulle gesien het.

Kry vir die kleintjies ’n boek, en laat hulle die dinge wat hulle elke dag geniet het, teken en lysies daarvan maak.

Hou ouer kinders besig met ’n weggooikamera. Die taak om kosbare oomblikke tydens die reis vas te vang sal verveling voorkom en hulle verras jou dalk met pragfoto’s.

7. Maak seker die noodhulpkussie is gepak

Dis nie ongewoon dat kinders tydens vakansie siek raak nie, want daar is soveel veranderings in roetine, dieet en omgewing.

Jy kan onnodige dokters- of apteekbesoeke op vreemdedorpe voorkom deur ’n voorraad nie-voorskrifmedikasie vir algemene kwale saam te neem.

Dit moet insluit ’n pynstiller, ’n krampmiddel vir maagkrampe, hoesstroop en ’n braakteenmiddel vir naarheid.

Ander basiese noodsaaklikhede in jou noodhulptassie is onder meer antiseptiese middels, pleisters, ontsmettingsmiddel, brandsalf, antihistamien, insekweerder en ’n koorspen.

8. Wees nogsteeds waaksaam en op die uitkyk

As jy jong kinders het en besige plekke gaan besoek, skryf jou selfoonnommer met permanente ink op elke kind se arm ingeval hulle wegraak.

9. Maak tyd om af te skaal en te ontspan

Dis te verstane dat julle elke dag soveel dinge moontlik wil doen, maar moenie jou vakansieprogram volprop nie.

Vat dit rustig, want dis waaroor vakansies gaan. Onthou, jy moet steeds die gewone uitdagings van jou gesinslewe hanteer.

Laat dus maar ruimte vir die onvermydelike woedeuitbarstings, nukkerigheid, ’n gesloer, geneul en baie toiletstoppe. As jy dié gebeure in berekening bring by jou reisbeplanning, sal dit jou help om koelkop te bly.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

10. Onthou die klam lappies

Selfs as jou kinders nie meer doeke dra nie, moet jy tog nie vergeet om die klam lappies in te pak nie.

Dis nuttig om taai hande mee skoon te vee en restauranttafels en toiletsitplekke af te vee.

Klein botteltjies handontsmettingsmiddel kan ook baie nuttig wees.

11. Toets 'n kamp in die tuin eers uit

Gaan jy vir die eerste keer saam met jou kinders kampeer? Doen ’n toetslopie in die agterplaas. Om vir een aand voor die vakansie in ’n tent in jou tuin te slaap is ’n uitstekende manier om uit te vind presies watter items jy regtig nodig het (soos nagligte en waterbottels).

Jy kry dan ook die kans om te voel of jou kampmatras gemaklik genoeg is, en jou kinders kan gewoond raak aan al die geluide in die buitelug.

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, PARENTS.COM, FORBES.COM, ROUGHGUIDES.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.