Dis normaal om senuagtig te voel, maar dit hoef jou nie lam te lê nie.

Jou liggaam reageer fisiek op angs; daarom sal jy dalk begin sweet of hoofpyn of 'n hol kol op jou maag kry wanneer die vraestel op jou lessenaar beland.

Jou hart kan vinniger begin klop en jou spiere verstyf.

Die simptome kan wissel van matig tot ernstig, maar jy kan dit klop sodat jy op jou eksamenvraestel kan fokus.

Probeer gerus hierdie wenke
  • Sorg dat jy nie die oggend van die eksamen hoef te jaag nie. Jy moet genoeg tyd hê om jou reg te maak – stort rustig, eet 'n goeie ontbyt en praat met gesinslede wat jou hopelik kan motiveer vir die dag wat voorlê.
  • Kry oefening en genoeg slaap voor jy eksamen skryf – dit beteken jy moenie die vorige aand nog ’n magdom inligting in jou kop probeer prop nie. ’n Vinnige stappie en goeie nagrus kan wondere vir jou stresvlakke verrig. Vermy die aand voor die eksamen en die volgende oggendkos en middels wat stres verhoog, soos gaskoeldrank, gebakte kosse, gemorskos, suiker, kafeïen en sigarette.
  • Moenie die dag van die eksamen met swartgallige skoolmaats praat wat kla omdat hulle hulle nie behoorlik voorberei het nie – dit sal net jou aandag aftrek. Probeer om 'n rukkie alleen te wees – jy kan altyd ná die vraestel weer met jou vriende gesels.
  • Haal vir sowat 'n minuut diep en stadig asem voor die vraestel uitgedeel word. Maak jou oë toe en konsentreer op die lug wat by jou longe in- en uitbeweeg – dis 'n wonderlike manier om te ontspan.
  • Verban alle vreesgedagtes en vervang dit met positiewe gedagtes. Dink aan al die ure wat jy gestudeer en die opofferings wat jy gemaak het om te verseker dat jy nou goed sal vaar! Trek verskillende spiergroepe saam en laat hulle weer ontspan. As jou skouers byvoorbeeld gespanne is, trek hulle terug en hou dit so vir ’n paar sekondes. Ontspan dan weer.
  • 'n Paar minute voor jy begin skryf, moet jy 'n toneel visualiseer wat vir jou vreedsaam en mooi is – dit kan iewers in die natuur wees of die rusbank by die huis. Dink aan wat jy daar sien, hoor, voel en ruik.
  • Deel die tyd in wat jy vir die eksamen beskikbaar het. Kyk die hele vraestel vinnig deur as dit jou nie sal ontsenu nie en beplan hoeveel tyd jy aan elke vraag gaan afstaan. ’n Plan van aksie kan gerusstellend wees.
  • Los eers die moeilike vrae en keer later daarheen terug. Dit kan jou groter selfvertroue gee as jy met die maklikste vrae begin en die moeilikes daarna aandurf.

  • Bronne: www.studygs.net, www.nativeremedies.com, www.cbseguess.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.