Baie mense dink hakkel is net ’n ongerieflike spraakgebrek. Maar dan hoor jy die stories van mense soos Jared Inder, wie se hele kinderlewe deur ’n gestamel ontwrig is.

Jared, van Kempton Park, onthou nog hoe sy spraakgebrek hom in ’n kringloop van stres en ’n ál erger gestamel laat verval het.

“Ek was so bang iemand hoor my hakkel dat ek dan juis begin hakkel het,” vertel hy. “Kinders het my vreeslik gespot. Veral wanneer ’n woord meer as een lettergreep het, sou ek vashaak.”

Weens sy skaamheid het hy gesukkel om vriende te maak. Dis toe dat sy pa, Graham, besluit om in te gryp. Eendag het Graham vir Jared verduidelik: Wroeg minder oor jou spraakgebrek en konsentreer eerder op die dinge waarmee jy goed is, soos rugby.

Jared het dié raad gevolg en met sy sukses op die rugbyveld stadig maar seker meer selfvertroue gekry.

Dié hupstoot was net wat hy nodig gehad het om sy lewe weer op dreef te kry. Hy het begin vriende maak en werk vandag as projekbestuurder, al hakkel hy op die ouderdom van 29 jaar steeds. Soms voltooi mense nog sy sinne namens hom, maar dit pla hom nie meer so baie nie.

Hakkel jou kind? Dan wens jy seker soms dat jy soos Graham net vir hulle iets kan sê wat hulle gaan help met die vrees en die gesukkel wat hul lewe so kan versuur. Ons het by kenners kers opgesteek oor wat ouers kan doen om die lewe vir hul hakkelende kind makliker te maak.

HOE WEET JY DIS HAKKEL?

“As jou kind sukkel om te praat en lettergrepe, woorde of frases herhaal, kan dit op hakkel dui,” sê die spraakterapeut Idilette Hartman van Pretoria. Dit is belangrik om so gou moontlik by ’n spraakterapeut hulp te kry, sê sy, maar hou in gedagte dat dit dalk net ’n fase kan wees waartydens die kind se taal ontwikkel.

Hakkel steek gewoonlik tussen twee en vyf jaar kop uit, sê Peter Louw, wat self hakkel en die boek Oorwin Hhhakkel geskryf het. Sowat driekwart van alle kinders ontgroei dit ongeag of hulle behandel word, sê hy.

Idilette meen egter dit moet ouers nie keer om terapeutiese ondersteuning te soek nie. “Dit bied ook baie steun aan die ouer.”

DIE SEER VAN HAKKEL

Lank nadat jou kind klaar deur sy sinne gesukkel het, lê die seerkry en twyfel nog in hul gemoed oor hoe hulle vir ander mense klink. Hakkel word nie sosiaal aanvaar nie; mense beskou jou as abnormaal as jy oor jou woorde struikel, sê Peter.

“Kinders wat hakkel, ontwikkel dikwels allerlei skuldgevoelens en dis vir hulle ’n verleentheid, veral as hulle voor ander moet lees. As jy hakkel, kry jy soms nie ’n woord uit nie. Kinders weet nie hoe om dit te hanteer nie en onderwysers dikwels ook nie. Medeleerders kan onaangenaam wees en die kind spot.”

Dit lei tot ’n bose kringloop waar hakkelende kinders ál minder praat en hulle onttrek aan sosiale aktiwiteite wat kommunikasie behels.

WAT LAAT ’N MENS HAKKEL?

Hakkel het klaarblyklik ’n genetiese komponent en is dus deels oorerflik, sê Peter. Maar hoe presies dit oorgedra word, is nog onduidelik.

Ook Ursula Zsilavecz, voorheen dosent aan die departement van spraaktaalpatologie en oudiologie aan die Universiteit van Pretoria en deesdae in privaat praktyk, beaam dat ’n familiegeskiedenis van hakkel dikwels bestaan.

As ’n kind hakkel, is dit nie ongehoord om uit te vind ’n ouer, broer, suster of ander familielid sukkel ook daarmee nie.

Ander faktore kan ook ’n rol speel om die probleem te vererger, sê Ursula.

Neurofisiologiese faktore (wat met jou brein verband hou), spanning en die druk waaronder kinders verkeer weens die geweldige spoed van ons moderne leefwyse, kan hulle ál erger laat hakkel.

Hakkel is hoegenaamd nie ’n teken van laer intelligensie of stadige ontwikkeling nie. Trouens, dit kan juis wees omdat ’n kind se breinontwikkeling of sielkundige groei so vinnig plaasvind dat hul spraakvermoë nie byhou nie en hulle sukkel om vlot te praat.

“As hierdie gebrek aan vlotheid nie korrek hanteer word nie, kan dit in ’n hakkelprobleem ontwikkel,” sê Ursula.

Gee dus onmiddellik aandag as jou kind sukkel om vlot te praat en doen jou bes om hulle te help voor hulle dalk erger begin hakkel.

Wat kan ouers doen?

As jou kind sukkel om vlot te praat, moet jy hulle nie onder druk plaas om hulle “reg te ruk” nie. Dit kan lei tot die spanning wat hakkel vererger. Dis te alle tye belangrik om die hakkelende kind se spanningsvlakke so laag moontlik te hou, sê Peter Louw, skrywer van ’n boek oor hakkel.

Gevalle bestaan wel van kinders wat hakkel al ervaar hulle min stres, maar ook dan moet jy kyk of jy nie stresfaktore kan verminder wat hul probleme gaan vererger nie. Die spraakterapeut Ursula Zsilavecz gee dié raad vir ouers wie se kind sukkel om vlot te praat:

  • Probeer self stadig en helder praat. Jy is die spraakmodel wat jou kinders gaan navolg; as jy dus jou woorde vinnig aframmel, gaan hulle jou voorbeeld volg en ál meer oor hul woorde struikel.
  • Skep ’n rustige omgewing waar jy nie te veel eise aan jou kinders stel nie. Wees bedag op hul stresvlakke en bly kalm as jy sien hulle word paniekerig.
  • As jou kind gespanne voel, moenie direkte vrae stel nie; dit plaas hulle in die kollig en onder druk. Knoop eerder ’n geselsie aan en lei hulle sodat hulle self die woorde kan kies waarin hulle jou vertel wat hulle moet. Kommunikeer deur stellings te maak eerder as om vrae te stel – laat hulle besluit of hulle jou stellings met vrae wil opvolg.
  • Jou kind sal rustiger raak as hy pouses in sy spraak maak. As hy iets gevra word, kan hy eers asemskep voor hy antwoord.
  • Laat hy bewustelik korter, minder ingewikkelde sinne gebruik.
  • Dit verlaag altyd ’n kind se stresvlak as hulle gehaltetyd saam met hul ouers kan deurbring.
  • As jou kind met jou praat, luister kalm en aandagtig terwyl jy na hom kyk. Maak seker jou lyftaal en gesigsuitdrukking wys jy luister.

Die heel belangrikste is om nie meer van kinders te eis as waartoe hulle in staat is nie, sê Ursula. Skep geleenthede waar die kind kan gesels sonder om gespanne te wees sodat hulle gewoond kan raak daaraan om vlot te gesels. So bou hulle selfvertroue op om te praat.

Moet dit bowenal nie gedurig aan jou kind uitwys wanneer hy hakkel of sukkel om vlot te praat nie. Die spraakterapeut Idilette Hartman herinner ouers daaraan om nie kinders te dwing om byvoorbeeld voor ander mense ’n gediggie op te sê as dit die kind beangs gaan maak nie.

Kry dan professionele hulp

As jou kind sukkel om vlot te praat, is dit altyd ’n goeie idee om by ’n spraakterapeut aan te klop vir ’n evaluering, sê die spraakterapeut Ursula Zsilavecz. So ’n terapeut sal kyk na die kind se agtergrond en na die interaksie tussen die ouers en die kind. Hulle sal ook met die ouers gesels.

Die terapeut kan ouers help om op rustiger, opbouender maniere met hul kind te kommunikeer.