“Vervlaks, ons was veronderstel om dit saam te doen,” skryf ’n hartseer en gefrustreerde ma van drie jong kinders enkele maande ná die dood van haar man. Sy was nie besig om haar oorlede man te verwyt nie; sy wou net verduidelik hoe swaar die las van enkelouerskap is.

Toe haar negejarige dogter by ’n restaurant siek word en sy haar alleen huis toe moet neem, het sy opnuut besef hoe sy haar geliefde eggenoot mis.

“Ons moes die goor oomblikke met mekaar gedeel het. As ons slegte ouers was, moes ons ten minste sáám slegte ouers gewees het,” lui die aangrypende inskrywing op die Amerikaner Marjorie Brimley se blog, DC Widow

Daar is verdriet oor die verlies, en ook nuwe uitdagings.

“Toe my dogter na my kyk en sê sy is bang en hartseer, tref dit my meteens dis die soort oomblik waarin ons albei (ek én my man) na die regte trooswoorde moes gesoek het. Ek is nie veronderstel om dit heeltyd en altyd op my eie te doen nie.”

Nes sy moet baie ouers ná die dood van ’n lewensmaat skielik alleen die mas opkom. Daar is verdriet oor die verlies, en ook nuwe uitdagings.

Besluite wat voorheen saam geneem is en verantwoordelikhede wat voorheen verdeel is, rus nou op een mens se skouers.

Hoe kan jy jou kinders bystaan terwyl jy self jou verlies probeer verwerk en die huishouding boonop op koers probeer hou?

Hoe ondersteun jy jou kinders terwyl jy self swaarkry?

Moenie jouself afskeep en jou eie emosies ignoreer nie, benadruk dr. Tessa van Wyk, ’n traumatoloog van Lichtenburg, Noordwes.

“Gebruik jou eie emosies om jou kind te leer hoe om verlies te hanteer. Ons mag maar huil, en wanneer ons huil, mag ons met mekaar daaroor praat. Ons mag verlang. Ons kan byvoorbeeld ’n foto van pappa in elkeen se kamer sit en met hom praat wanneer ons wil.”

Moenie die rouproses op jou eie aanpak nie, maan dr. Lorna Geer, ’n sielkundige van Pretoria.

Maak seker dat jy die mens wie se hulp jy vra baie goed ken en vertrou. Moenie sommer enigeen in jou privaat lewe toelaat nie.

“Kry hulp by ’n beroepspersoon wat jou kan help en ook raad kan gee oor hoe jy jou kinders kan bystaan. As ’n ouer probeer om sterk te wees, leer die kinders hulle mag nie emosies wys of ervaar nie.”

Vra ook familielede en vriende om hand by te sit met die praktiese dinge.

“Ander mense wag dikwels op ’n geleentheid om die gesin by te staan,” sê Lorna.

“Maak seker dat jy die mens wie se hulp jy vra baie goed ken en vertrou. Moenie sommer enigeen in jou privaat lewe toelaat nie,” maan Tessa.

“Wees ook spesifiek oor wat jy wil hê hulle vir jou moet doen. Stel grense sodat hulle nie oorneem nie.”

Hoe praat jy met jou kinders oor die verlies?

Dit sal afhang van die kinders se ouderdomme en of die gesin gelowig is of nie, sê Lorna. Maar daarbenewens soek kinders gereeld bevestiging dat wat hulle voel oukei is en hulle so mag voel, veral as hulle woede oor die dood ervaar.

Tessa stel voor jy hou elke week ’n gesinsvergadering en vra die kinders waarmee hulle die meeste sukkel: “Vra dat hulle mekaar ondersteun. Verduidelik elke mens ervaar verlies anders en sê dis oukei om uniek te wees, maar ons moet mekaar tegemoetkom.

“Hou ook elke kind fyn dop en vra sommerso in die loop van die dag hoe hy of sy voel.”

Wanneer word terapie benodig?

“Professionele begeleiding is altyd goed, maar as dit nie kan nie, kontroleer jou kinders se gedrag. Sodra daar ’n verandering in slaap- of eetpatrone of gemoed is, of indien hul skoolpunte verswak, moet die kind dadelik vir terapie gaan,” is Tessa se raad.

Lorna sê jy het self dringend terapie nodig sodra al die mense wat jou aan die begin ondersteun het met hul lewe aangaan en jy voel jy kan nie die situasie hanteer nie.

“Terapie sal jou help om jou emosies, denke en gedrag te begin ontleed en verstaan.”

Hoe kan julle die herinnerings aan die oorledene koester?

“Daar is ’n groot verskil tussen om iemand wat dood is lewend te hou en die herinnerings aan daardie mens lewend te hou. Jy moet dit aan die kinders én jouself uitstippel. Die mens is dood en sal nooit weer terugkom nie, maar ons mag hom of haar onthou. Daarvoor kan jy foto’s gebruik en selfs weekliks oor die persoon praat,” sê Tessa.

Ook op spesiale geleenthede, soos verjaardae of herdenkings, is dit belangrik om oor jul gevoelens te praat, sê Lorna.

“Soek altyd iets waaroor julle saam gelag het sodat die verlies nie heeltyd op die voorgrond is nie, maar ook die lekkerte wat jy in jou hart saamdra.”

Is dit oukei om in die routyd dissipline effens te verslap?

Hou by die reëls en roetine, want dit laat kinders veilig voel. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

“Daar is geen rede om dissipline by die huis skiet te gee nie. Hou by die reëls en roetine, want dit laat kinders veilig voel,” sê Tessa.

“As jy sien jou kind kry swaar, sal dit niks help as jy die roetine of dissipline verslap nie. Dit sal wel help as jy met die kind praat en hoor wat die rede vir die swaarkry is, as jy die kind vir terapie neem of hulle vaardighede aanleer om die pyn te verwerk.”

Moet jy die rol van jou maat ook probeer vervul?

“Aanvanklik sal jy gedwing word om vir jou maat in te staan,” sê Kobus Pauw, ’n verhoudingskonsultant van Kaapstad.

“Maar besef net dat jy nooit jou maat kan vervang nie. En stel dit duidelik aan jou kinders.”

Gesels met jou kinders hieroor na gelang van hul ouderdom, is Lorna se raad: “As pa gewoonlik voor slaaptyd stories gelees het, vra die kinders of hulle wil hê jy moet dit nou doen.

“Vra ouer kinders waarmee hulle sal help. As pa altyd ná ete die skottelgoed gewas het, vra of hulle dit sal doen. Hou huisvergadering en verduidelik dat jy sekere take by pa kan oorneem (noem dié take), maar hulp vir ander sal benodig.

“Vra die kinders watter deel van die oorledene se rol vir hulle die belangrikste is en kyk of jy dit gedeeltelik kan vervul. Met die kinders se toestemming kan jy dalk ook familie of vriende betrek om ’n pa- of ma-figuur te wees, maar bespreek dit eers met die kinders.”

Besluite wat julle voorheen saam geneem het en wat nou jou alleenverantwoordelikheid is, is sekerlik van die moeilikste dinge, sê Kobus.

“Dit sal goed wees om ’n familielid of goeie vriende as klankbord hiervoor te gebruik.”

Geldsake

Die gesinsbegroting is ’n ander tameletjie en sal van huishouding tot huishouding verskil.

“Die belangrikste is om nie skuld te maak net om die kinders die dinge te gee waaraan hulle gewoond was toe die begroting twee salarisse ingesluit het nie,” maan Lorna.

“Leer jou kinders om by een inkomste aan te pas. Maar probeer maandeliks ’n ietsie afknyp om almal te bederf, byvoorbeeld om pizza te bestel. Dis iets kleins, maar ’n groot gebaar.”

Hoe gemaak as jy iemand nuuts ontmoet? 

Hoe maak jy as jy weer iemand ontmoet en in ’n verhouding belangstel?

Kobus maan die rou en trauma van jou verlies moet eers behoorlik verwerk wees, “anders dra jy al die onverwerkte emosies en verwagtings by ’n nuwe verhouding in en die ander party weet nie daarvan nie”.

“Kyk eers mooi na die mens in wie jy belangstel en dink hoe hy of sy die kinders sal hanteer,” is Tessa se raad.

“Wanneer jy dan seker is jy wil ’n langtermynverhouding aangaan, kan jy met die kinders praat en jou nuwe maat aan hulle bekendstel.

“Verduidelik die persoon sal nooit die ander ouer se plek inneem nie, maar vra dat julle hom of haar ’n kans gee om deel van die gesin te word.”