Sy was nog klein toe sy na ander meisies van haar ouderdom begin kyk en gewonder het hoekom sy nie soos hulle lyk nie, vertel die 14-jarige Liani (’n skuilnaam) van Gauteng.

Dan het haar geliefdes haar gepaai: Jy is net mollig; jy is mooi soos jy is. En dan het Liani maar net aangehou om haar in soetgoed en ander lekkernye te verlustig.

“Kos was soos my vyand én vriend,” sê sy ­vandag.

Maar toe sy in gr. 6 besluit kos is nie een van die twee nie, dit is eerder die bron van voedingstowwe wat sy benodig om gesond te leef, het die groot omwenteling begin. Sy dink nou na oor wat sy eet, hoe gereeld sy eet en hoeveel sy eet – nie omdat sy maer wil wees nie, maar omdat sy gesond wil voel.

As jong tiener voel sy goed oor haarself en gemaklik met haar eetgewoontes.

Liani se ma is ’n dieetkundige en het haar dogter gehelp om ’n gesonde verhouding met kos te ontwikkel.

Marié Bothma, ’n dieetkundige van Krugersdorp, sê haar raad aan ouers wat hul kinders wil lei om gesonde eetgewoontes aan te kweek is om hulle te betrek by die spyskaartbeplanning en bereiding van etes sodat hulle meer eienaarskap het oor wat hulle eet.

“Vertel hulle van elke bestanddeel wat jy gebruik. Laat hulle van kleins af aan verskillende kosse proe,” sê sy. Sy sê dis belangrik dat jy jou kinders leer waar kos vandaan kom en wat die voedingswaarde van verskillende kosse is. Skep saam ’n groentetuin as julle kan, beveel sy aan.

Huisgenoot het by nog kenners gaan aanklop vir wenke om gesonde eetgewoontes by kinders aan te kweek in ’n tyd waarin gemorskos en soetgoed soms net alte ge­­redelik beskikbaar is.

1. Begin van jongs af

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Moenie dink jy sal later jou kind leer om gesonde eetgewoontes toe te pas nie. Dié gewoontes word al in die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe gevestig, sê Zelda Ackerman, ’n dieetkundige van Pongola en skrywer van die boek Eet reg.

Sowat 16% van kinders onder vyf in Suid-Afrika is oorgewig, en 14% van kinders tussen ses en 14 is oorgewig of vetsugtig, sê Liezel Engelbrecht, ’n dieetkundige van Kaapstad en skrywer van die boek Simple Eating. En oorgewig kinders het ’n groot kans om oorgewig tieners en volwassenes te word, sê Zelda.

“Jy as ouer het die geleentheid om jou kind se langtermyn-eetgewoontes positief te beïnvloed,” sê Chene van Rensburg, ’n dieetkundige van Krugersdorp.

Dis boonop dikwels moeiliker om later in die lewe jou eetgewoontes en leefstyl te verander as wanneer dit net soos tweede natuur voel om gesond te eet, sê Retha Harmse, ’n dieetkundige van Johannesburg.

“Moenie dit as ’n straf beskou wanneer jy jou kind gesond laat eet nie; jy gee hulle so ’n kosbare geskenk deur hulle gesonde gewoontes aan te leer. Dis iets waarvoor hulle jou eendag sal bedank.”

2. Dink oor die taal wat jy inspan

Ouers leer kinders dikwels ’n foutiewe woordeskat oor kos, sê Chene.

“Ons leer hulle as hulle sê: ‘Ek hou nie daarvan nie,’ dan hoef hulle dit nie te eet nie. Dit kan daartoe lei dat kinders sekere voedselsoorte vrees of ’n morele verbintenis aan voedselsoorte heg, byvoorbeeld: ‘Ek is ’n stout kind, want ek het die sjokolade geëet.’ ”

Ouers moet eerder beklemtoon dat eet – en veral gesond eet – noodsaaklik is om die liggaam van energie en die nodige voedingstowwe te voorsien. Leer jou kind dit help ons groei, beskerm ons teen infeksies, verbeter ons konsentrasievermoë en gee ons die boustene om selweefsel te herstel, sê Chene.

Dan kan jy met jou kind praat van kos nie as “goed” teenoor “sleg” nie, maar as “gesond” en “doeltreffend” teenoor “ongesond” of “minder doeltreffend”.

3. Stel self die voorbeeld

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Kinders doen wat hulle sien, en dit is dus ouers se verantwoordelikheid om ’n gesonde leefstyl die norm tuis te maak.

Eenvoudige maniere om dit te doen is om self te kyk na jou porsiegroottes en na wat jy as peuselhappies eet, en nie elke week op ’n ander foefiedieet te wees nie.

Dink mooi na oor die soort kos wat jy koop en aanhou. Die idee is dat as kinders vra of hulle iets mag kry jy so min moontlik “nee” moet sê, verduidelik Zelda.

“Moet dus nie koeldrank, vrugtesap, lekkers, aartappelskyfies en koekies in jou huis aanhou nie. Maak seker daar is ’n verskeidenheid vars vrugte waaraan kinders kan peusel wanneer hulle honger is.”

En maak dan seker jy gryp self ’n vrug wanneer jy wil peusel.

4. Praat oor porsiegroottes

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

“Dit is belangrik om aan jou kind te verduidelik sekere kossoorte verskaf meer energie aan hul liggaam as ander,” sê Chene. “Om meer hoë-energievoedsel of porsiegroottes groter as jou vuis te eet kan tot onnodige energie-­inname lei wat jou liggaam dan as oormatige vetweefsel berg.”

Kinders is gebore intuïtiewe en mindful eters, vertel Retha. Hulle is goed daarmee om na hul honger- en versadigingseine te luister.

“As ’n mens byvoorbeeld probeer om ’n baba te borsvoed wat reeds versadig is, sal jy nie suksesvol wees nie. En as jy besluit etenstyd is verby en daardie kleintjie is nog honger, sal hulle keel opsit en jou mooi laat verstaan hulle soek nog,” vertel Retha. Laat kinders dus toe om na hul eie liggaam se seine te luister in hoeveel hulle eet.

Navorsing wys dat wanneer ons porsies voorsit wat te groot is kinders meer eet.

Om jou kind te dwing om te eet as hulle reeds versadig is, kan ’n slegte uitwerking hê, sê Liezel.

“Hulle verloor dalk die vermoë om op hul eie honger- en versadigingseine te reageer. Kies gesonde kossoorte soos volgrane, vesel­agtige kosse, vrugte, groente en onverwerkte proteïene as maaltye of peuselhappies – dan is die kans skraal dat jou kind gaan ooreet,” sê Liezel.

5. Pasop vir kos as beloning

Kos voel dalk soos ’n vinnige en maklike manier om kinders te beloon, troos of te motiveer, maar op langtermyn plaas jy ’n onrealistiese verantwoordelikheid op kos wat nie volhoubaar is nie, vertel Retha.

Chene stem saam dat so ’n benadering slegte gevolge kan hê – en voeg by dat etenstyd dan ’n magstryd tussen ouer en kind word, wat nie ideaal is nie.

“Wanneer jy sê: ‘Nog twee happies kos, dan kan jy nagereg kry,’ skep jy die indruk dat die nagereg waardevoller is as die gebalanseerde bord kos wat jy voorgesit het,” sê sy.

Navorsing wys wanneer ons kos as beloning gebruik, verhef ons die kos tot iets gesogs, wat dit begeerliker maak, sê Zelda. Dit verhoog dus ’n kind se voorliefde vir daardie kos.

Maar jy moet ook nooit kos weerhou as straf nie, sê sy – dit kan dieselfde negatiewe uitwerking hê.

’n Alternatief is om eerder jou kind se “liefdestaal” te leer ken en hulle op daardie manier te beloon, sê Retha. “Dit kan ’n gesins­aktiwiteit of bordspeletjie wees of dat hulle kan kies na watter liedjie julle oor die radio in die kar luister.”

Liezel voeg by dat jy jou eie verhouding met kos moet ondersoek: “Vra jouself hoekom jy kos as ’n beloning wil gebruik – is dit omdat jy dit dalk self as ’n beloning beskou? En indien dit so is, hoekom?”

Wat van maats wat ongesond eet?

Jou kind se maatjies sal ’n invloed op haar kosvoorkeure hê – iets wat gewoonlik begin wanneer sy rondom drie jaar oud is, sê die dieetkundige Liezel Engelbrecht. In so ’n geval moet jy fokus op wat jy kan beheer. Stel ’n gesonde voorbeeld tuis en pak gesonde kosblikke in skool toe.

As jou kind met jou praat oor die inhoud van maats se kosblikke, gebruik die geleentheid om te gesels oor hoekom sekere kosse nie goed is vir ons liggaam nie – en verduidelik hoekom jy dit nie koop nie en julle dit minder gereeld eet, sê Zelda.

“As jou kind herhaaldelik iets vra wat haar maats vir skool kry, is dit soms nodig om dit vir haar ook te koop sodat sy nie voel jy ontneem haar alles wat sy wil hê nie – mits jy dit net nie gereeld koop nie,” sê sy.

Haar raad is verder om nie jou kind by partytjies te probeer beperk nie.

“Sy sal waarskynlik ’n keer of wat te veel soetgoed eet en siek voel. Dan kan jy weer verduidelik dat dit waarskynlik as gevolg van te veel lekkers is.

“Onthou: Kinders wat nie die geleentheid gegee word om te eet soveel hulle wil nie, is geneig om heeltemal te ooreet wanneer Mamma nie by is nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe