Jy het al jou planne agtermekaar vir die dag as jy moet hoor jou kind word geboelie, want behoed enigiemand wat jou kleintjie wil seermaak. Maar o wee, dan word jy op ’n dag ingelig: Jou kind word nie geboelie nie; jou kind ís die boelie!

Hoe nou gemaak? Jy het jou kinders nog altyd geleer om vir hulself op te staan, maar om ander kinders af te knou is mos nie hoe jy jou kind grootgemaak het nie?

Verskeie faktore kan tot afknouery bydra. Dit is
Verskeie faktore kan tot afknouery bydra. Dit is baie belangrik om te verstaan hoekom jou kind so optree. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Afknouery word beskou as opsetlike gedrag met die bedoeling om ander kinders fisiek seer te maak, emosioneel af te breek of te verneder,” sê Chanelle Visser, ’n kliniese sielkundige van Krugersdorp.

“Jou kind moet dus verstaan dat jy nie sulke gedrag goedkeur nie en die gevolge daarvan in ’n ernstige lig beskou. As jy as ouer kan bepaal wat jou kind motiveer om ander kinders af te knou, kan jy die oorsaak van sulke gedrag takel.

“Die belangrikste is om dit vir alle betrokke partye duidelik te maak jy keur nie die gedrag goed nie. Maar dit beteken nie die kind is ’n slegte of probleemkind nie.”

Iemand vertel jou of jy sien jou kind knou ’n ander af

Ouers moet probeer om so onpartydig moontlik te bly, sê Elsa Struwig, ’n spelterapeut van Pretoria.

“Wanneer die skool of ’n ouer jou kontak en vertel van ’n voorval waar jou kind moontlik ’n ander te na gekom het, antwoord bloot: ‘Dankie vir die inligting; ek het nie hiervan geweet nie. Ek sal met die betrokke mense gesels asook met my kind om agter die kap van die byl te kom.’ Moenie onmiddellik kwaad word of op die verdediging wees nie.”

Verskeie faktore soos angs, depressie, groepsdruk of trauma kan ’n rol speel wanneer kinders ander afknou en dit is belangrik om te verstaan hoekom jou kind so optree, sê Chanelle. Moet ook nie dadelik vir jou kind begin preek of op hulle skree nie, stel Elsa voor.

“Sê vir jou kind: ‘Ek het gehoor daar was vandag ’n voorval tussen jou en ’n ander kind. Wat het gebeur?’ Gee jou kind dan die kans om hul kant van die storie te vertel. Dit is al hoe jy hulle gaan kan help om in die toekoms ’n moeilike situasie beter te hanteer.”

Chanelle stel ook voor jy moedig jou kind aan om met jou oor die voorval te praat, ongeag of dit by die skool, aanlyn of elders was.

Jy kan vrae vra soos:

  • Dink jy jy het dit reg hanteer?
  • Watter gevoelens het jy in die situasie ervaar?
  • Wat het volgende gebeur?
  • Hoe dink jy voel die ander kind?

Elsa sê daar is sekere dinge wat jy nié moet sê nie. Voorbeelde daarvan is:

  • Ons maak nie boelies in hierdie huis groot nie.
  • Dit is jou probleem; jy moet dit uitsorteer.
  • Ek stel nie belang in wat jy te sê het nie.

As jy hom of haar verwyt en skel, gaan jou kind in die toekoms bang wees om met jou oor die onderwerp te praat.

Stel vas wat die wortel van die probleem is. Dalk is jou kind emosioneel oorweldig. Dalk sukkel hy of sy met impulsbeheer. Dalk weet jou kind nie hoe om emosies te beheer en in woorde uit te druk nie.

Nadat julle gepraat het, moet jy vir jou kind verduidelik hoekom sy gedrag verkeerd is en so gou moontlik ’n plan in plek stel om jou kind te motiveer om sy of haar gedrag te verander, sê Chanelle.

Doen rolspel tuis sodat jou kind kan oefen hoe om
Doen rolspel tuis sodat jou kind kan oefen hoe om ’n moeilike situasie te hanteer. Foto: Gallo Images/Getty Images

My kind is skuldig; wat nou?

Dit is belangrik dat jy en die skool nie jou kind as ’n boelie brandmerk nie, sê Elsa. As ’n voorval by die skool gebeur het, kan jy die skool vra om jou in kontak met die ander kind se ouers te sit, stel Chanelle voor. Indien nodig, kan julle selfs bymekaarkom om die voorval te bespreek.

“Gee terugvoer aan die skool oor hoe jy in die toekoms jou kind se negatiewe gedrag gaan hanteer. Hy of sy moet byvoorbeeld pouse in die klas bly en mag nie gaan speel as hulle ander afknou nie. As die voorval aanlyn gebeur het, kan jy hul foon van hulle af wegneem.”

Hou ook aan om met die skool te kommunikeer. Dit kan help as jy vir die skool vertel hoe jou kind die gebeure beleef het, veral as jy die idee kry dat jou kind self ook afgeknou word.

“Maak net eers seker jou kind is daarvan bewus dat jy met die onderwysers daaroor gaan gesels, anders kan dit ’n negatiewe invloed op jou kind se vertroue in jou as ouer hê. Stel ook vas of jou kind voorheen met dieselfde kind vasgesit het. Dit sal jou help om te verstaan of dit ’n eenmalige voorval was en of dit al eintlik ’n langer periode plaasvind.”

Elsa sê ook jy kan jou kind vra hoe hulle voel wanneer hulle afgeknou word. So leer jy jou kind empatie – hulle oefen die vermoë om hulself in ’n ander persoon se skoene te plaas en die impak van hul dade beter te verstaan. Albei meen dit is belangrik dat jou kind besef wat hy of sy verkeerd gedoen het.

Jy moet ook seker maak jou kind verstaan daar sal gevolge wees as hulle dit weer doen.

“Jou kind moet vir die ander kind jammer sê. Jy as ouer of die onderwyser moet seker maak hulle doen dit. Kies dan ook ’n toepaslike straf, byvoorbeeld om hulle te verbied om die sosiale media te gebruik as hulle lelike boodskappe vir iemand gestuur het,” sê Elsa. 

Leer jou kind konflik beter hanteer

Kinders weet nie vanself hoe om moeilike situasies te hanteer nie. Iemand moet hulle wys en help dat hulle dit oefen, sê Elsa. As jou kind ’n moeilike verhouding met ’n ander kind het, kan julle by die huis rolspel doen sodat jou kind kan oefen hoe om ’n moeilike situasie te hanteer.

“Jy kan maak of jy die ander kind is. Leer jou kind dat as iemand iets leliks vir hulle sê hulle iets kan terugsê soos: ‘Dis jou mening’. Ek sê ook baie vir my kinderpasiënte hulle moet omdraai en wegstap, nie hardloop nie, as iemand hulle afknou.”

Die kenners sê ook as ouer moet jy vir jou kind sê dis oukei om nie met almal maats te wees nie. Veral as iemand anders met hulle lelik is.

“’n Doeltreffende manier vir kinders om situasies te hanteer waar hulle regtig nie iemand se maat wil wees nie, is om vir die ander kind te sê: ‘Jy was laas baie lelik met my, so jy kan nie dié keer saamspeel nie’. Of: ‘Jy kan net saamspeel as jy belowe jy sal nie weer lelik wees nie.’ ”

Chanelle stel voor jy moedig jou kind aan om ander kinders op te bou eerder as om hulle af te breek.

“Leer hulle wat respek beteken en hoekom jy nie kan lag as iemand geboelie word of ander kinders aanmoedig om iemand af te knou nie. Leer hulle dat hulle hulself eerder moet verwyder uit die situasie as hulle kwaad of gefrustreerd is voor hulle ’n maatjie seermaak of afkraak.”

En as jy alles probeer het, maar jou kind hou aan met dié tipe streke?

“As dit gereeld gebeur en jy sukkel om te verstaan hoekom jou kind so optree, stel ek voor jy neem hulle na ’n spelterapeut of kindersielkundige,” sê Elsa.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe