As jy dit nog nie self met jou eie kind gedoen het nie, het jy waarskynlik ’n ander ouer dit sien doen. In ’n restaurant, wagkamer of dalk selfs in die kerk. Dit is die een ding waarop jy kan staatmaak om ’n kleinding ’n rukkie stil en besig te hou: daardie magiese skerm.

Slimfone en tablette het tuis ook elektroniese oppassers geword wat jou kind doodgelukkig aan ’n skerm vasgegom hou – en uit die moeilikheid – terwyl jy die ontelbare take aanpak wat moet klaarkom.

Dis tog so gerieflik. Maar navorsing oor die gevolge van kinders se digitale gewoontes skets ’n minder mooi prentjie: Oormatige skermtyd kan kognitiewe ontwikkeling in die vroeë jare belemmer, sosiale interaksie verhinder en veroorsaak dat kinders afsydig raak.

“Dis maklik om in ’n situasie te verval waar kinders geen grense het wat skermtyd betref nie, want wanneer hulle voor ’n skerm is, is hulle gewoonlik stil,” sê Nikki Bush, ouerskapskenner en medeskrywer van Tech-Savvy Parenting.

“Dan maak hulle ook nie ’n gemors nie en eis nie jou aandag nie.”

Skerms het ’n nuttige hulpmiddel vir ouers geword en hulle kyk dikwels maar anderpad, “want hulle wil nie met die dikmonde en gekerm sit nie.

“Maar helaas. Dit help niemand.”

Die belangrike eerste paar jaar

Wanneer baie jong kinders aan tablette en slimfone verslaaf raak, kan dit permanente skade aan hul ontwikkelende brein veroorsaak, sê dr. Aric Sigman van die Britse Sielkundevereniging.

Ouers dink dalk dit sal hul tweejarige ’n opvoedkundige voordeel gee om vir hulle ’n tablet of slimfoon te gee, maar te veel skermtyd sal “die ontwikkeling belemmer van die vermoëns wat ouers so graag wil bevorder. Die vermoë om te fokus, aandag te gee, ander mense se houdings aan te voel, te kommunikeer en om ’n groot woordeskat te bou; al daardie vermoëns word benadeel.”

Die probleem spruit uit die einste dinge wat slimfone en tablette so wonderlik maak: Die stimulasie is net daar by jou vingerpunte en stel jou in staat om talle dinge gelyktydig te verwerk. Die feit dat die toestel namens jou dink, is presies wat ’n jong brein nie nodig het nie, want dit sal hulle met swak “kognitiewe spiere” laat.

“Wat ons by kleuters sien, is dat hulle geheg raak aan voorwerpe pleks van hul portuurgroep en ouers,” sê Mari Swingle, ’n neuroterapeut en skrywer van i-Minds: How Cell Phones, Computers, Gaming and Social Media Are Changing Our Brains, Behaviour and the Evolution of Our Species.

“Wat dissipline en gehoorsaamheid betref, reageer hulle nie eintlik op ouers nie. Hulle kry woedeuitbarstings wanneer hulle nie hul toestelle het nie. Hulle weet nie hoe om hulself besig te hou of te speel nie, en op daardie ouderdom is speel deel van die leerproses.”

Nikki sê een van die probleme wat sy teëgekom het, is ouers wat skerms as ’n emosionele kruk gebruik.

“Dit word gebruik as ’n manier om die kinders aan die slaap te kry of hulle te oorreed om te eet. Dit beteken die kinders ontwikkel nie die selfregulerende vaardighede en selfdissipline vir die basiese dinge in die lewe nie.

“ ’n Afgesonderde, sittende en skermgegronde bestaan takel die bande af waarop ons ons gesin en ons kinders se toekoms bou,” sê Nikki.

“Dit is ’n hartseer feit dat talle kinders hulle nou met aktiwiteite op ’n skerm besig hou eerder as om ’n slaaptydstorie, liedjies of gesprekke met hul ouers te deel.”

Hoeveel skermtyd?
  • Onder 15 maande: Kinders in dié ouderdomsgroep moet glad nie aan skerms blootgestel word nie.
  • 15 maande tot 5 jaar: 30-60 minute daagliks onder toesig van ’n volwassene. Inhoud maak saak, sê die psigiater Brendan Belsham. Inhoud met ’n vinnige pas, soos sekere strokiesprente, word verbind met leerprobleme, wat konsentrasieprobleme insluit. Opvoedkundige materiaal met ’n stadiger pas is verkieslik.
  • 5-7 jaar: 30-60 minute daagliks, wat sonder toesig kan wees.
  • 7-12 jaar: 1 uur per dag
  • 12-15 jaar: 1½ uur per dag
  • 16 jaar en ouer: 2 uur per dag

Bron: The American Academy of Pediatrics

Ouer kinders, ander probleme

Die negatiewe gevolge wat oormatige skermtyd op sosiale interaksie het, manifesteer op verskillende maniere in alle ouderdomsgroepe, sê Mari.

Tieners sal byvoorbeeld doodgelukkig gesprekke van aangesig tot aangesig prysgee en eerder deur die sosiale media met hul vriende gesels, dalk selfs wanneer hulle in dieselfde vertrek is. Hoewel dit nie ’n nuwe verskynsel is nie, moet ons nog kyk hoe dit hul sosiale ontwikkeling gaan beïnvloed.

Mari glo die gevolge gaan diepgaande wees. “Wat aan die gebeur is, is dat tieners nie volwasse sosiale vaardighede aanleer nie,” sê sy.

’n Ander probleem, veral met ouer kinders, is dat dit kinders dikwels buierig maak, sê dr. Brendan Belsham, ’n kinder- en tienerpsigiater van Johannesburg.

“Dit wil voorkom of speletjies aanleiding kan gee tot prikkelbaarheid by selfs die rustigste kinders,” sê hy. “Dié emosionele gevolge is veral duidelik onmiddellik ná ’n skermsessie.”

Kinders wat baie tyd voor ’n skerm deurbring, kla ook dikwels hulle is verveeld wanneer hulle nie die toestel gebruik nie.

“Dit gebeur omdat die brein se beloningsentrum bederf is deur ’n oorlading van stimulasie, en niks anders kan dié leemte vul nie,” sê Brendan.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Al wat die kind moet doen, is om sy vinger oor ’n raakskerm te vee en daar is ’n ontploffing van kleur of klank. Sy brein reageer hierop deur dopamien, die neuro-oordraer wat met gevoelens van plesier verbind word, af te skei.

Wanneer ’n kind te gewoond raak aan dié onmiddellike en aangename reaksie, leer hy om altyd slimfoonstyl-interaksie bo die regte wêreld te verkies. Dis soortgelyk aan die gedragspatroon wat dwelm- en alkoholverslaafdes openbaar, soos ’n Britse verslawingspesialis onlangs op ’n opvoedkundige konferensie in Londen uitgewys het.

Om vir jou kind ’n slimfoon te gee is “soos om vir hulle ’n gram kokaïen te gee”, sê Mandy Saligari, ’n spesialis by ’n rehabilitasiekliniek in Londen. Brendan sê dit is effens oordrewe, hoewel ’n mate van waarheid daarin steek.

“Kokaïen en te veel skermtyd, veral aanlyn speletjies, stimuleer ’n deel van die brein wat vir gevoelens van genot en eindelik verslawing verantwoordelik is.

“Mettertyd verhoog oormatige stimulering van dié deel die drempel waarteen genot ervaar word, wat ervarings soos lees en tuinwandelings vervelig maak.”  

HIER’S RAAD

Ouers moet die voorbeeld stel, sê Brendan. Jy speel dalk nie Minecraft nie en verduidelik jou skermtyd op verskeie maniere (“Dis werk, my skat”), maar jou kinders hou jou gedurig dop, en hulle leer meer uit wat jy doen as uit wat jy sê.

Hy stel voor jy stel die volgende basiese reëls op:

  • Geen elektroniese toestelle in slaapkamers nie

“Dis sleg vir hul slaap en dis moeilik om toesig te hou as hulle nie ruimtes deel nie.”

  • Geen elektronika tydens etenstye nie

Sit fone weg en skakel die televisie af. Dit is uiters belangrik dat gesinne gereeld saam om die tafel eet, gesels en oogkontak maak, sê hy.

  • Stel tydbeperkings en hou daarby

“Jou kind sal dit nie doen nie; dus moet jy. Stel ’n alarm indien nodig.”

  • Huistakies moet eers gedoen wees

“Skermtyd moenie die eerste ding wees wat naweekoggende gebeur nie. Ander dinge moet eers gedoen word, soos huistakies, oefening en gesinsaktiwiteite. Op dié manier kan elektronika as aansporing gebruik word.” 

Bestuur tyd voor die skerm

Moeg van met jou kinders oor skermtyd onderhandel? Hier is ’n hulpmiddel wat jou nie net gaan help grense stel nie; dit sal ook jou kinders leer om verantwoordelikheid vir die regulering van hul skermtyd te aanvaar, sê die ouerskapskenner Nikki Bush.

Sy noem dit The Money or the Box en reken dis ideaal vir kinders van vier tot 12 jaar. Die idee is dat jy vir jou kind ’n getal skermtydkaartjies per week gee. Elke kaartjie is gelykstaande aan een TV-program of ’n speletjie van 30 minute en hulle oorhandig ’n kaartjie in ruil vir skermtyd.

Jy kan spesifiseer wat die getal kaartjies is wat hulle op enige gegewe dag toegelaat word. “Maar as hulle hul kaartjies opgebruik het, is dit verby; niks meer skermtyd nie.” Die geldgedeelte is ’n ekstra aansporing wat sal help om hul besluitnemingsvaardighede te ontwikkel.

“Die kaartjies wat hulle nie gebruik nie, kan teen die einde van die week vir geld geruil word,” sê sy. “Jy kan hulle R5, of wat jy ook al besluit, per ongebruikte kaartjie betaal.

“Dit leer hulle om bewustelike keuses te doen oor waarvoor hulle hul skermtyd gebruik en verantwoordelikheid vir daardie keuses te aanvaar.

“Ons wil kinders grootmaak wat die gevolge van keuses verstaan. Hulle kan dit nie in teorie of deur ’n preek van hul ouers leer nie; hulle moet deur ondervinding leer.”

1

Die kaartjie gee jou kykreg vir: TV-program

1

Die kaartjie gee jou speelreg vir: digitale speletjie

Ekstra bronne: Psychologytoday.com, Psychcentral.com, Independent.co.uk, Theguardian.com, Drbelsham.com, Nikkibush.com