Depressiewe tiener
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy het gedink jy is gereed vir jou kind se moeilike tienerjare. Die hormone en wispelturige emosies, die knorrigheid en selfoonverslawing . . .

Jy weet wel dis ’n onvermydelike en nodige groeifase en jy moet net op jou tande kners. Maar wat gaan dan nou aan? Meteens lyk dinge baie erger as wat jy verwag het.

Jou kind wil nie skool toe gaan nie, wil niks van vriende weet nie, bring ure aaneen alleen in sy kamer deur en lyk altyd afgeslote of geïrriteerd. En daardie liewe glimlag is skielik skoonveld.

In jou agterkop duik die vreeslike vraag op: Sê nou net my kind het depressie ontwikkel? Dis moontlik dat dinge inderdaad ernstig geraak het.

Depressie onder tieners raak meer algemeen, bevestig Anys Rossouw, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. “Ál meer ouers bring hul kinders vir terapie.” 

Sy sê tieners ervaar ook toenemend angs wat behandeling verg. “Depressie en angs loop hand aan hand.”

Maar hoe bepaal jy die omvang van jou tiener se wankelrige of terneergedrukte gemoedstoestand? Hoe onderskei jy tussen gewone tienernukke – wat jy as ouer liefdevol maar ferm moet bestuur – en ’n tydelike depressiewe episode of ’n psigiatriese toestand wat professionele hulp en mediese ingryping verg?

HOEKOM SUKKEL TIENERS?

Om ’n tiener te wees is nie maklik nie. Jou hormone is op galop; daarom ry jou emosies wipplank. En omdat jy jonk is en die gevoelens nog vreemd, weet jy nie hoe om dit te verwerk en te verwoord nie, sê Leandri Beyers, ’n kliniese sielkundige van Centurion.

Dit kan veroorsaak dat tieners met tye terneergedruk of ongelukkig voel, maar ook daartoe bydra dat ’n tiener soms ’n ruk lank depressief voel of selfs durende depressie ontwikkel.

Leandri sê daar is ’n aantal faktore wat kan bydra tot die ontwikkeling van depressie by tieners:

Familiegeskiedenis

As familielede depressie het, kan daar ook ’n risiko vir depressie by die tiener wees.

Druk

As ouers of ander gesagsfigure voortdurend te veel druk op die tiener plaas om te presteer, kan hy die boodskap kry hy is nie goed genoeg nie.

Sosiale probleme

As ’n tiener geboelie of afgeknou word of voortdurend stormagtige romantiese verhoudings het, kan dit sake vererger.

Sosiale media

Verskeie kenners het al beklemtoon tieners se gebruik van die sosiale media kan ’n groot impak op hul geestestoestand hê.

“Hulle vergelyk hul lewe met ander s’n in die sosiale media en voel hulle pas nie in nie of hul lewe is nie so interessant soos ander s’n nie,” sê Anys.

IS DIT ’N FASE OF NIE?

Sielkundiges vertel ouers moet onderskei tussen ’n tydelike depressiewe fase en kliniese depressie, wat langer duur. Kliniese depressie sal gewoonlik eers gediagnoseer word as die simptome van depressie twee weke of langer duur.

Volgens Leandri is ’n depressiewe fase dikwels die gevolg van iets wat in die tiener se lewe gebeur het, soos ’n liefdesverhouding wat skeefgeloop het, konflik met ander mense of frustrasie oor iets.

Die tiener kan dit intens ervaar, maar dit sal dikwels weer verbygaan.

“Kliniese depressie is ’n deurlopende ervaring wat die tiener se funksionering beïnvloed. In tieners manifesteer dit dikwels as konstante irritasie en woede,” sê sy.

Kliniese depressie ontwikkel nie oornag nie, sê Anys.

“Dit is iets wat oor weke of maande manifesteer. Dit gebeur min dat een faktor, soos ’n seun wie se meisie hom los, gaan veroorsaak dat ’n kind aan kliniese depressie ly. Daar is gewoonlik ’n sameloop van omstandighede soos verhoudingsprobleme, swak prestasie op skool en ’n swak verhouding met ’n ouer.”

Depressiewe tiener
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

WAT KAN JY DOEN OM JOU KIND TE HELP?

Of jou kind deur die gewone uitdagings van tienerskap gaan, ’n depressiewe fase beleef of kliniese depressie ontwikkel, hulle benodig jou ondersteuning. 

Fokus eerstens op hul basiese welstand om te verseker jou kind is gesond, sê Marita Rademeyer, ’n kindersielkundige van Pretoria. Maak seker jou kind slaap genoeg.

Tieners wat te min slaap, skei nie die regte groeihormone af nie en hul lyf sukkel om hul streshormone te verwerk. Sorg ook dat jou tiener oefening kry en gesond eet, voeg Marita by.

’n Gesonde liggaam help ook om emosionele en sielkundige welstand op koers te hou. Leandri sê selfs wanneer kommunikasie stram is, is dit belangrik om met jou kind te praat en te luister na wat hulle sê. Probeer om regtig te luister na wat jou tiener sê eerder as om net van jou kant af voor te skryf en leiding te gee.

Dit is vir tieners belangrik om te sien dat mense hulle hoor en erken dat hul emosies geldig is. Maar skep ook ruimte vir jou kind.

“Die tienerjare is waar jou kind meer afstand van jou as ouer nodig het en nader aan vriende wil wees. Dit is reg so, maar maak seker dat die tiener weet jy is steeds daar wanneer jy nodig is.”

‘Baie ouers se houding is dat die kind hulle doodeenvoudig moet regruk, maar dit werk nie altyd so nie’

Wees liefdevol en ondersteunend, maar wees ook ferm oor jou reëls en gesonde grense. Wees geduldig met jou kind as jy opmerk hulle is depressief, sê Anys.

“Baie ouers se houding is dat die kind hulle doodeenvoudig moet regruk, maar dit werk nie altyd so nie.”

As jou tiener ’n depressiewe fase of langerdurende depressie beleef, is dit belangrik om begrip en geduld te hê. Wees veral bedag daarop of jou kind gedagtes koester om hulself seer te maak of skade te berokken.

“As daar enige teken is dat jou tiener hom- of haarself wil seermaak, moet jy probeer om hulle uit te vra en mooi na hulle te luister,” sê Leandri.

“Op ’n praktiese vlak moet jy ingryp en alles verwyder wat moontlik ’n risiko inhou, soos medikasie, wapens en skerp gereedskap.”

Dit is baie belangrik om om hulp aan te klop by ’n professionele sielkundige of psigiater as dit lyk of jou tiener ’n ernstige depressiewe fase beleef of die simptome van kliniese depressie begin ontwikkel.

WEES OP DIE UITKYK HIERVOOR

As jou tiener ’n ernstige depressiewe fase beleef of tekens van kliniese depressie begin toon, moet jy vir hulle professionele hulp kry.

Die tekens van kliniese depressie sluit in as jou tiener twee weke of langer die volgende simptome toon:

  • ’n Terneergedrukte gemoed die meeste van die tyd.
  • Beperkte belangstellings in aktiwiteite waaroor die tiener voorheen opgewonde was. 
  • ’n Verandering in eetlus en gewig.
  • Gedurige moegheid en min energie.
  • ’n Gevoel van waardeloosheid en onvanpaste skuldgevoel.
  • Die tiener dink gedurig aan die dood, selfs al maak hy of sy nie uitdruklik planne om hul eie lewe te neem nie.

WAAR KAN JY OM HULP AANKLOP?

As jou kind ’n ernstige depressiewe episode of die simptome van kliniese depressie begin toon, moet jy dit oorweeg om sowel ’n sielkundige (wat geselsterapie behartig) as ’n psigiater (wat medikasie kan voorskryf) te raadpleeg, sê Anys.

“Dit help nie die ouers besoek net ’n psigiater en kry ’n pil vir die kind om te drink nie.”

Ouers is dikwels skrikkerig daarvoor dat hul tiener medikasie gebruik en Anys stem saam dit moet net gebruik word as kliniese depressie gediagnoseer word en dit werklik nodig is. Maar sy sê antidepressante bied soms die beste of enigste uitweg. As jou tiener se psigiater die gebruik van die antidepressante goed bestuur, behoort daar nie drastiese newe-effekte te wees nie.

“Deesdae is medikasie so gevorderd dat daar min tot geen newe-effekte is.”

Medikasie is soms nodig, maar die tiener moet ook die lewensvaardighede aanleer waarmee hy depressie en angs kan leer bestuur. Daarom is dit goed om eerste by ’n sielkundige aan te klop om hulp. Maar hoe gemaak as jy dit nie kan bekostig nie?

Neem dan jou tiener na ’n algemene praktisyn en vra daar raad. Of klop aan by jou kerk, gee Anys raad.

“Die meeste van die tyd sal die predikant weet met wie om kontak te maak sodat die kind hulp kan kry. Nog ’n goeie opsie is om by die skool raad te vra. Die skool maak gewoonlik van ’n sielkundige gebruik.”

    Covid-19 en tienerdepressie

    Die coronaviruskrisis en inperking van die afgelope jaar het daartoe bygedra dat baie tieners met depressie begin worstel het, sê die opvoedkundige sielkundige Anys Rossouw.

    Tieners het uiteenlopende belangstellings. “Party is meer sosiaal, musikaal of sportief – met die pandemie is kinders dit ontneem. Daar was nie sportbyeenkomste nie, kinders kon nie hul maats sien nie of kon nie meer in ’n koor sing nie. Dis ’n geweldige verlies vir ’n kind.”

    Die kliniese sielkundige Leandri Beyers stem saam en sê isolasie het ’n sterk uitwerking op ’n tiener se geestesgesondheid.

    “Dit skep angs en depressie en het ’n geweldige invloed op ons ervaring van die werklikheid. Dit is nog meer waar van tieners wat in die fleur van hul jong lewe is en sosiale interaksie nodig het om aanvaarding te kry en te voel dat hulle iewers hoort.”

    Klop by ’n sielkundige aan om hulp as jou tieners weens die pandemie en inperking met depressie of angs worstel.

    Jou kind het dan jou hulp nodig, en moontlik ook die hulp van ’n professionele kenner. 

    Kom neem deel aan die gesprek

    Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe