Aan die begin van ’n nuwe jaar het ouers van veral jong kinders meer as genoeg aanpassings om hulle oor te kwel. Benewens die gewone akademie, sport, skooluniforms en nuwe roetine, kan jou voorskoolse en laerskoolkind se sosiale lewe jou ook slapelose nagte besorg.

Jy wil graag hê jou kind moet maats maak en nie ’n eensame eenkantbloedjie wees nie. Vriendskappe het inderdaad die potensiaal om ’n kind se geluk en selfvertroue op skool en later in hul lewe te maak of breek, meen kenners.

Dit is wat Dunay, vrou van die sanger Kurt Darren, aan die vooraand van die nuwe skooljaar op die hart gehad het.

Kurt Darren by sy vrou, Dunay, en hul kroos, Kyrah en Kade. Dunay bid vir goeie vriend­skappe vir hul kinders. Foto: Instagram.

“Ek het vanaand na ons kinders gestaar terwyl hulle slaap en honderd gedagtes het deur my kop gemaal. Hoewel akademie en alles wat daarmee saamgaan baie belangrik is, maak vriendskap my vanaand emosioneel. Ek het vir hul vriendskappe gebid,” het sy op Instagram geskryf.

Sy vertel hul oudste, Kyrah (4), het verlede jaar ’n besonder hegte band met ’n maatjie gevorm. Hulle is vanjaar in verskillende klasse ingedeel, en dit laat haar hart vir haar dogtertjie pyn. Kyrah het ’n jonger boetie, Kade (2).

“Ek kan nie help om te bid en te hoop dat ons kinders van jongs af hegte, opbouende vriendskappe sal vorm nie.”

View this post on Instagram

Voordat ons kinders môre met n nuwe skooljaar begin, het ek vanaand na hulle gestaar terwyl hulle slaap en n honderd gedagtes het deur my kop gemaal.... ek het myself gekry waar ek vir hulle vriendskappe bid, alhoewel akademie en als daarmee saam baie belangrik is, maak die aspek van vriendskap my vanaand emosioneel. Kyrah veral het n hegte band met n spesifieke maatjie gevorm laasjaar, wanneer ek in die klas ingestap het om haar op te laai was die 2tjies alewig aan die giggel of besig om mekaar te terg, soveel so dat sy baie van haar maniertjies aangeleer het en ons dit die hele Desember moes aanskou ???? Hulle is hierdie jaar in aparte klassies ingedeel, en dis simpel maar dit maak my hartseer vir haar part. Ek kan nie help as om te bid (en hoop) dat ons kinders al van jongs af hegte, opbouende, ewige vriendskappe sal vorm nie. Ek bid nou al vir hulle maatjies, dat hulle nooit mag seerkry of van die regte pad af wandel nie, dat hulle mekaar sal druk om die beste weergawe van hulself te word maar ook spasie gee om hulle eie identiteit te behou.....dat hulle self ook goeie maatjies sal wees en altyd ander se gevoelens in ag sal neem, dat hulle die waarde van vriendskap sal ken en waardeer. Ek bid dat hulle aanpasbaar sal wees vir verandering en altyd nuwe uitdagings met ope arms sal aanvaar. Mag hierdie nuwe jaar, nuwe maats, en nuwe juffrouens julle vriendelik ontvang my engele, en julle sagkens behandel totdat julle julle plekkie gevind en volstaan het in n situasie wat aanvanklik vreemd is ???? Baie sterkte aan elke kindjie (en ouers) wie hierdie week of volgende week in n nuwe klas/graad of skool begin ??

A post shared by Dunay (@dunayvanheerden) on

Dunay, wat ’n meestersgraad in sielkunde het, sê aan Huisgenoot sy glo kinders moet leer dat om ’n goeie maat te kry, jy eers ’n goeie maat moet wees. Sy hoop om haar spruite te leer om ander vriendelik te behandel en altyd maats se gevoelens in ag te neem.

Ons het by kenners gaan uitvind wat ’n mens kan doen om jou kind by te staan as hulle sukkel om maats te maak.

Hoekom is vriendskappe belangrik?

Ons het ons lewe lank verbintenisse met ander mense nodig vir ons welstand, sê Naomi van Wyk, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch. “Vriendskappe gee kinders nie net vermaak en steun nie; dit skep ook vir hulle die geleentheid om te leer hoe jy betekenisvol met ander mense omgaan.”

’n Kind se portuurgroep is soos ’n spieël waarin hulle kan sien hoe ander hulle ervaar. Om deur die maats aanvaar te word, moet die kind dan sosiale vaardighede ontwikkel, sê Ilhaam Solomons, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad.

“Die kind leer so om ongemaklike gevoelens te verwerk, asook hoe om te gee en neem – alles lewensvaardighede wat nodig is vir gesonde verhoudings in die toekoms,” sê sy.

Hoe kan jy jou kind help as hulle sukkel om maats te maak?

Alle vriendskappe begin by ’n vriendelike bekendstelling, sê Genevieve da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Bellville; daarom moet jy jou kind leer hoe om mense te groet, oogkontak te maak, hulself voor te stel en die ander mens se naam te vra.

Dit klink dalk eenvoudig, maar vir sekere kinders is dié basiese dinge moeiliker as vir ander. Vra jou skaam kind of hulle graag iemand wil bevriend en moedig hulle aan om dié maatjie gereeld te groet, langs hulle in die klas te sit en te nooi om te kom speel.

Vriendskappe kan jou kind se geluk en selfvertroue maak of breek

Sê ook vir jou kind om die maat te vra waarvan hulle hou of wat hulle graag doen, want dalk deel hulle ’n belangstelling en kan hulle dinge saam doen.

“Vaardighede soos om belangstelling in ander te toon en hoe om iemand oor hul belangstellings, sport en troeteldiere uit te vra, is iets wat die gesin om die etenstafel kan oefen,” is die raad van Carina van Vuuren, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. As ’n kind sukkel om hulself in woorde uit te druk, kan dit ’n invloed op verhoudings hê.

Cara Blackie, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê as jou kind sukkel om maats te maak, moet jy hul verbale vermoëns by ’n spraakterapeut laat toets. Indien hulle ’n probleem het, kan die terapeut dit behandel en ook oefeninge voorskryf wat julle by die huis kan doen.

Ouers moet ook geleenthede buite die skoolomgewing skep waar kinders kan maats maak. Benewens speel-afsprake kan jy jou kind aan sport of kultuur laat deelneem sodat hulle kinders met dieselfde belangstellings kan ontmoet.

Maats
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Wanneer moet jy bekommerd raak?

As jou kind angstig en ongelukkig word oor skool toe gaan, moet jy ondersoek instel. Gesels met jou spruit, en sodra jy agterkom dis omdat hulle sukkel om maats te maak, is dit ’n goeie idee om met die onderwyseres te praat. Sy kan die situasie dophou en jou help planne maak, sê Ilhaam. “Praat met ander ma’s sodat jy steun kan kry sonder dat hulle inmeng.”

Wanneer jou kind psigosomatiese simptome soos ’n seer maag, naarheid of hoofpyn toon, is dit tyd om ’n kundige se hulp in te roep, meen Nicolette Liddell, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Skoolwerk wat agteruitgaan, is ook dikwels ’n teken van ongelukkigheid.”

Maats
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Wat moet jy doen as jou kind met ’n maat baklei?

Jy as ouer kan jou kind as’t ware emosioneel afrig om konflik te hanteer, sê Cizelle Louw, ’n kliniese sielkundige van Pretoria.

Sy stel voor jy doen dit in vyf stappe:

  • Let fyn op na jou kind, en vra wat pla. Op dié manier voel die kind jy as ouer sien hul ongelukkigheid raak en probeer help.
  • Help jou kind om name te gee vir al die emosies wat hulle voel – gevoelens soos woede, frustrasie, ongelukkigheid of alleenheid.
  • Normaliseer die emosies deur aan jou kind te verduidelik baie mense raak dikwels kwaad of voel so.
  • Stel ’n duidelike grens en verduidelik aan jou kind al is hulle soms hoe kwaad, moet niks of niemand seergemaak of beskadig word nie.
  • Help jou kind om ’n plan te maak om die konflik of die probleem op te los of die beste van ’n situasie te maak. Met ’n jonger kind moet jy leiding gee en by ’n ouer kind moet jy die kind uitlok om self aan idees te dink.

“Jy kan byvoorbeeld sê: ‘Ek verstaan jy is hartseer en kwaad omdat daardie maatjie jou geskop het, maar jy sal ook onthou dat mamma vir jou verduidelik het almal maak soms foute, selfs jy,’ ” stel Cizelle voor.

“Dan moet julle saam aan ’n plan dink wat jou kind kan laat beter voel, of aan wat hulle kan doen wanneer ’n maatjie hulle weer seermaak.

“Kinders moet ook leer die wêreld hanteer ons nie sagkens nie, dat spanning in sommige verhoudings kan inkom, dat almal nie altyd net lief en vriendelik is nie en dat dit in die haak is as maats foute maak omdat dit deel van die lewe en die mens se aard is,” sê Cizelle. “En hoe gouer hulle dit besef, hoe beter.”

Speelafsprake: moets en moenies

Jy gaan eindelik vir jou alleenkind ’n speelmaat oornooi, maar is onseker oor ’n paar dinge. Die kenners gee ’n paar riglyne:

Nooi ek net een maatjie op ’n slag, of meer as een? Dit maak nie saak hoeveel jy nooi nie; laat jou kind self besluit.

Voor die tyd: Gesels met jou kind voor die maat opdaag en praat oor hoe hulle die maat belangrik kan laat voel, wat hulle wanneer kan aanbied, en dink saam aan speletjies vir wanneer hul eie idees opraak. Pak die spesiale speelgoed wat jou spruit nie bereid is om te deel nie, dan saam weg.

Moet ek toesig hou of die kinders alleen los? Bly in die nabyheid om seker te maak hulle is veilig, maar dit is beter om nie betrokke te raak nie.

Hulle lyk verveeld en opgeskeep met mekaar; moet ek ingryp? Jy moenie ál die speletjies voorstel nie. Onthou, kinders leer deur te speel. Los hulle solank jy kan, soms moet kinders verveeld wees sodat hulle hul eie kreatiwiteit kan gebruik.

Hulle stry; wanneer is dit wys om in te meng? Sodra die onenigheid in ’n slegsêery of afknouery ontaard.

Kan jy ’n sibbe of sibbes laat saamspeel? Dit hang van die individuele kinders af of jy ’n boetie en sussie laat saamspeel. Gee die een wat die maatjie genooi het die mag om te sê hulle wil eers ’n bietjie alleen speel, en help hulle die boodskap bevestig.