Die blommetjies en die bytjies is lank laas in soveel omstredenheid gedompel. Dit was nog altyd vir sommige ouers en onderwysers moeilik om met kinders te praat oor sake van die vlees, maar nou laat die gedagte aan seksuele opvoeding baie mense opnuut bloos.

'n Herrie woed oor voorgestelde nuwe lesplanne vir die skoolvak lewensoriëntering (LO) nadat dit aan die lig gekom het leerders sal moontlik voortaan van gr. 4 af op skool reguit vertel word van onderwerpe wat hul ouers dalk liefs sou wou vermy: masturbasie (gr. 7), die besonderhede van “wat tydens vaginale, orale en anale seks gebeur” (gr. 8) en die gebruik van vroulike kondome (gr. 9).

Nadat die Sondagkoerant Rapport berig het oor die departement van basiese onderwys se beoogde lesplanne vir dié verpligte skoolvak, het 'n stortvloed verontwaardiging gevolg.

“My kinders sal nie hul voet in daai klas sit nie!” het een ouer aanlyn laat hoor. “Ek as ouer wil self besluit wanneer my kind reg is om die nodige met hulle te bespreek,” het nog een gepleit.

“Ouers het alle rede om bekommerd te wees,” sê Michael Swain, hoof van die Christelike drukgroep Freedom of Religion South Africa (FOR SA). “Die inhoud waaraan kinders blootgestel gaan word, is niks minder as sagte pornografie nie.”

Volgens Michael sal seksuele opvoeding op dié vlak kinders voortydig blootstel en seksueel ryp druk.

Die organisasie is ook ontevrede omdat ouers en onderwysers glo nie behoorlik in die ontwikkeling van lesplanne geraadpleeg is nie. Hulle reken ouers moet toegang tot die inhoud van die planne kry en die reg hê om kinders uit die klas te haal as hulle nie saamstem met die waardes wat aan die inligting gekoppel word nie.

Meer as ’n derde van kinders onder 17 is slagoffer
Meer as ’n derde van kinders onder 17 is slagoffers van seksuele geweld; daarom fokus nuwe lesplanne daarop om kinders te bemagtig en selfvertroue te gee

“Jy kan kinders nie oor seks leer sonder om dit aan 'n waardestelsel te koppel nie,” sê hy.

Hokaai, kap die departement terug, en sê in 'n verklaring daar is 'n wanvoorstelling van feite in die uitgelekte lesplanne, want net enkele sinne daarvan is buite konteks aangehaal. “Die verkeerde inligting veroorsaak onnodige verwarring en paniek,” lui die verklaring.

Een van die redes vir die verwarring is dat die grafiese voorbeelde wat versprei is uit die handleiding vir onderwysers kom, terwyl leerders se werkboeke nie noodwendig dié inligting bevat nie, sê Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, aan Huisgenoot.

“Hierdie geskrewe lesplanne word tans in 'n loodsprogram in 1 500 skole onderrig,” verduidelik hy. “Ons het nog nooit gesê dit gaan van volgende jaar in alle skole onderrig word nie. Ons is besig om dit te toets.”

Volgens Elijah is die kurrikulum nog nie gefinaliseer nie – dit word steeds ontwikkel en aangepas. Die departement sal dit eers in alle skole implementeer wanneer hulle tevrede is daarmee, sê hy. “Moontlik in 2021, maar dalk ook net in een graad op ’n slag.”

Waarom nuwe lesplanne?

Seksuele opvoeding was nog altyd deel van LO; die enigste verskil is dat daar nou geskrewe lesplanne ontwikkel word, sê Elijah. “Dié planne dwing onderwysers om bepaalde inhoud te onderrig, al voel hulle ongemaklik daarmee.”

Volgens die departement is in navorsing bevind die huidige program vir seks­onderrig in skole is nie doeltreffend nie. Tussen April 2017 en Maart 2018 het sowat 117 010 tienermeisies in Suid-Afrika swanger geraak – dit wys volgens die departement skoolleerders word nie voldoende met inligting bemagtig nie.

Boonop is meer as 'n derde van seuns en meisies jonger as 17 slagoffers van seksuele geweld, sê die departement.

“Dit het die departement genoop om onderrig gepas vir verskillende ouderdomme te ontwikkel. Die doelwit is om kindermishandeling te voorkom en veerkragtigheid en selfvertroue by kinders te bevorder, want hulle weet nie altyd wanneer iemand seksueel op hulle jag maak nie,” sê Elija.

Is dit 'n goeie plan?

Dit is vir talle ouers en onderwysers moeilik om oor seks te praat, sê dr. Eli Rosen, 'n seksopvoeder van die organisasie Sexy Smarts.

 “Kinders lewe in 'n ander wêreld as mense van selfs net een geslag gelede. In studies in Suid-Afrikaanse skole is bevind die meerderheid kinders tussen nege en 12 jaar word deur digitale toestelle aan pornografie en seksuele inhoud blootgestel.

"Talle ouers is onkundig oor presies hoeveel seksuele blootstelling kinders op 'n baie jong ouderdom kry. Seksuele opvoeding kan kinders help sin maak uit dinge waaraan hulle reeds blootgestel word; dit gee ook vir hulle leiding en grense oor wat aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag is.”  

Die werklikheid is dat kinders meer oor seks gaan uitvind ongeag of hulle dit op skool leer of nie, sê dr. Efrat Barnes van die Teddy Bear Clinic, wat kinderslagoffers van seksuele mishandeling ondersteun. 

“Mense is bekommerd dat kinders van te jonk af in 'n seksuele lig geplaas word; instinktief wil jy jou kind nie te vroeg daaraan blootstel nie. Maar dit is beter dat hulle in 'n beheerde omgewing hiervan leer. Die kurrikulum skep selfs vir ­ouers 'n ruimte om gesprekke met hul kinders te hê,” sê sy.

Omvattende seksuele opvoeding lei daartoe dat kinders later in hul lewe seksueel aktief raak; dit verminder tienerswangerskappe asook die opdoen van seksueel oordraagbare siektes, sê Claudia Abelheim, 'n opvoedkundige sielkundige by Famsa se Family Life Centre in Johannesburg.

“Om kinders en tieners oor seks op te voed ­bemagtig hulle en stel hulle in staat om beter keuses te maak.”

Maar die sukses van die kurrikulum gaan daarvan afhang of onderwysers die regte opleiding kry, meen Vanessa Barnes van die Vereniging vir Opvoedkundige Sielkundiges van Suid-Afrika. 

“Daar is ’n groot moontlikheid dat ’n leerder die slagoffer van seksuele mishandeling was en dat 'n les oor die onderwerp dan ’n sneller van dié trauma in die verlede word.”

Onderwysers moet dus die regte leiding kry sodat hulle weet hoe om so 'n situasie te hanteer, benadruk sy.

Waarom die teenkanting?

Die departement van basiese onderwys sê leerders
Die departement van basiese onderwys sê leerders sal aangemoedig word om die moeilike onderwerpe met hul ouers te bespreek. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kenners in onderwyskringe is bekommerd omdat hulle nie vooraf oor die planne ingelig is nie. 

“Jy kan nie een benadering vir seksuele opvoeding in alle gemeenskappe gebruik nie,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onder­wysersunie (SAOU). “Hierdie soort skok­taktiek gaan nie oral werk nie.”

In 'n peiling het 'n oorweldigende 97% van SAOU-onderwysers laat blyk hulle is nie bereid om dié lesplanne te onderrig as dit wel is soos FOR SA dit uitbeeld nie.

Ook die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole is omgekrap omdat die departement nie breedvoerig gekonsulteer het nie, sê Jaco Deacon, ­adjunkvoorsitter van die liggaam.

Hoe kan ouers hulself en hul kinders voorberei?

Dit is 'n goeie idee om kinders in te lig oor die seksuele onderwerpe waaroor hulle in die skool gaan leer, stel Claudia voor. Jy kan hulle ook aanmoedig om vrae te vra as hulle deurmekaar voel of nie verstaan wat hulle leer nie.

“Dit is 'n wonderlike manier om jou kinders te wys dat jy oop is daarvoor om oor seks te praat.”

Elke ouer moet die seksonderrig op skool as 'n geleentheid sien om die onderwerpe ook uit hul eie perspektief te bespreek, sê Eli.

“Om oor seks te praat is nie net een gesprek nie, maar eerder 'n aaneenlopende dialoog wat oor die kind se hele jeug strek. Dit is nooit te vroeg om gesprekke te hê oor die liggaam, grense en seksuele veiligheid nie.”

Voorgestelde lesplanne

Die onderwysdepartement benadruk die kurrikulum moet nog ge­finaliseer word, maar deel voorbeelde van voor­gestelde inhoud.

Graad 4

Groepgesprekke oor watter dele van jou liggaam privaat is en wat jy nie ander moet toelaat om aan te vat nie. 

Graad 5

Lesplanne sal onder meer gaan oor die beeld wat jy van jou liggaam het, dat jy kan kies watter verhoudings jy het en hoe om gewelddadige situasies te hanteer.

Graad 6 

'n Toneel word volgens FOR SA geskets van meisies in ’n WhatsApp-groep wat dit oorweeg om ’n kaalborsfoto in die groep te deel. Die departement sê leerders sal oor boelie in die kuberruim geleer word. 

Graad 7

Die lesplan gee ’n lys vrae wat leerders kan hê oor onderwerpe soos soen, masturbasie en seks. Dit sluit leesstukke in. Die departement sê masturbasie sal nie deur die onderwyser bespreek word nie en leerders sal aangemoedig word om vrae met hul ouers te bespreek.

Graad 8

In voorbeelde wat deur FOR SA gesirkuleer is, is ’n lesplan waarin onderwerpe soos vaginale, orale en anale seks bespreek word. Die departement ontken dit en sê dié lesplan fokus daarop om gesonde seksuele keuses te maak.

Graad 9

In 'n voorbeeld wat deur FOR SA gedeel is, is ’n skets wat wys hoe om ’n vroulike kondoom te gebruik. Die departement sê hieroor lesplanne sluit in onderwerpe soos om seksuele toestemming te gee en of jy gereed is vir ouerskap.

Graad 10

Die lesplan wat deur FOR SA gesirkuleer word, verwys na die definisies van seks, gender, seksuele oriëntasie en stereotiepe sienings van geslagsrolle. 

Graad 11

Die FOR SA-dokument sluit ook tonele in wat geskilder word om aan leerders die emosionele uitdagings van 'n transgender man te verduidelik.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.