Voel jy oorweldig? Bekommerd en verward? Soos enige ouer wat ’n kind met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS, oftewel ADHD in Engels) het, weet jy waarskynlik reeds alte goed hoe uitdagend dit kan wees om daarvan sin te maak en dit te bestuur.

Hoe help jy jou kind as jy nog self spartel om hom by te staan? Daar’s so baie inligting aanlyn beskikbaar, maar te min tyd om deur als te werk – en hoe moet jy weet wat geloofwaardig is en of dit die jongste bevindings bevat?

Boonop raak dit duur om jou kind na verskillende spesialiste te neem en voel dit soms of die rekenings nimmereindigend is. Daarom bied Huisgenoot vanjaar saam met ons sustertydskrifte YOU en Drum die eerste AGHS-konferensie in sy soort in Suid-Afrika aan.

Ons wil jou help sodat jy jou kind kan help. Dié kongres sal aan jou die gereedskapskissie gee met al die inligting wat jy benodig om jouself en jou kind te bemagtig. Bespreek nou jou plek.

adhd
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

WAT IS DIT?

Die baanbrekerskonferensie sal verskeie kenners in die veld van AGHS in twee innoverende sessies byeenbring – een gemik op jonger kinders (12 jaar en jonger); die ander op tieners (13 en ouer).

Die sessies sal die jongste inligting dek en goeie raad bied oor relevante onderwerpe soos hoe om te weet of ’n diagnose korrek is en die gebruik van medikasie.

Maar dit sal veral praktiese raad en strategieë bevat oor hoe jy jou kind kan help om sy of haar AGHS te hanteer en te bestuur.

WAT SAL EK DAARUIT KRY?

Benewens die kenners se waardevolle raad sal jy ook ’n werkboek vol inligting en oefeninge kry.

Jy kan die werkboek by die huis as ’n hulpmiddel gebruik om jou kind te help om doeltreffende strategieë aan te leer om die uitdagings van AGHS te bowe te kom.

Jy kan dit ook gebruik om terug te verwys na die inligting wat tydens die kongres gedeel is sodat jy dit byderhand het wanneer jy dit nodig kry. Die kongres word in Engels aangebied, maar die werkboek is in Afrikaans.

IS DIT DIE TYD EN GELD WERD?

Die ware waarde van die kongres lê daarin dat jy verskeie kenners saam in een vertrek sal kry.

Pleks van duisende rande en baie ure daaraan bestee om jou kind na verskillende kenners en spesialiste te neem, sal jy hier op een slag kan luister na die insig en raad van ’n pediater, sielkundiges en ’n dieetkundige wat almal kenners in hul veld is.

Die kenners sal die jongste navorsing toeganklik aanbied sodat jy nie deur honderde webtuistes en blogs hoef te sif om na antwoorde op jou vrae te soek nie. Jy kan vertrou dat die inligting wat hulle met jou deel geloofwaardig is.

Nog ’n bonus is dat jy sal kan meng met ander ouers wat soortgelyke uitdagings die hoof bied en dalk verbintenisse kan smee met mense wat jou later kan bystaan.

MOET EK ALBEI SESSIES BYWOON?

Die twee sessies is soortgelyk en dek soortgelyke inligting, maar die inhoud is ook vir die spesifieke ouderdomsgroepe aangepas. In die sessies sal die kenners verduidelik daar is verskillende strategieë vir kinders in verskillende lewensfases.

As jy kinders met AGHS het wat in die verskillende ouderdomskategorieë val, sal dit die moeite werd wees om albei by te woon.

Al word soortgelyke inhoud gedek, word die spesifieke kwessies wat met tieners of jonger kinders verband hou op ’n ander manier behandel.

WAAR KAN EK NOG INLIGTING KRY?

Gaan na www.media24live.co.za en klik op “Geleenthede” of tik “Your Child” in die soekveld. Jy sal nog inligting sien oor wat die sessies sal behels. 

DIE SPREKERS

André Venter

andre
André Venter.

André Venter het onlangs as akademiese hoof van die departement van pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van die Vrystaat uitgetree. Hy het verskeie lewensprestasiepryse vir sy bydrae tot opvoeding en kinderneurologie en -ontwikkeling ontvang.

Sy spesialiteite sluit in kinderontwikkeling, met ’n klem op serebrale verlamming, aandaggebrekhiperaktiwiteitsteuring, outisme en leerprobleme.

Magdel Pretorius

magdel
Magdel Pretorius

Magdel Pretorius is al langer as 12 jaar ’n sielkundige. Sy werk met laer- en hoër- skoolkinders in die openbare en privaat sektor.

Die ma van drie het eerstehandse ervaring van wat dit verg om ouerskapsbenaderings aan te pas wanneer jy met verskillende persoonlikhede en ingewikkelde situasies te doen het.

Nadene Harisunker

Nadene
Nadene Harisunker.

Die kliniese sielkundige Nadene Harisunker het ’n meestersgraad in antropologie verwerf. Sy het ’n besonderse belangstelling in ernstige psigopatologie en om ’n sterkpuntgegronde perspektief te verstaan en ontwikkel.

Donna van Zyl

Donna
Donna van Zyl.

Donna van Zyl het haar B.Sc.(Hons.)- en M.Sc.-graad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi.

Sy het ’n belangstelling in pediatrie en sportvoeding en geniet dit om met pasgeborenes, babas en kinders te werk. Sy is ook ’n deeltydse lektor in sportvoeding aan die UV.

KIES JOU SEMINAAR

Jou sessie is op jou kind se ouderdomsgroep gegrond.

OGGENDSESSIE: 09:00 Voorskoolse en laerskoolkinders

WAAR EN WANNEER

Kaapstad

Saterdag 16 Mei 2020

Kiks: Ouditorium 2

Johannesburg

Saterdag 23 Mei 2020

The Forum The Campus, Ivory-ouditorium

Koop jou kaartjies

Die kaartjies kos R950 PER SESSIE en sluit al die kennerspraatjies, konferensiemateriaal en ligte verversings in.