Wanneer die vrolike klanke van Kersliedjies in die winkelsentrums opklink, weet jy dis weer tyd vir feesvier, die somervakansie – en om Kersgeskenke te koop.

Die blote gedagte daaraan kan ouers skoon benoud maak, veral as jou kleingoed reeds groot lugkastele bou oor wat Kersvader alles vir hulle gaan bring.

Nie net sal jy jou sak dalk behoorlik moet skud vir die elektroniese wonderspeelgoed wat deesdae kinderogies laat blink nie; die hordes karretjies, poppe en speletjies op die winkelrakke kan jou oorweldig laat voel.

Hoe kies jy die regte geskenk vir jou kleinding? Huisgenoot het by Takealot, Toys R Us, Prima Toys en Just Fun Toys gaan kers opsteek oor watter speelgoed kinderharte vanjaar sal laat warm klop.

INTERAKTIEWE SPEELGOED

“Vanjaar wys ons lys gunstelinge dat interaktiewe items die gewildste is,” sê Cathrine Jacoby, ’n bemarkingsbestuurder van Toys R Us. Ál meer speelgoed moedig kinders aan om interaktief te wees, soos die Hatching Dragon, so reg uit die fliek How to Train Your Dragon: The Hidden World.

As jy gedink het die Hatchimal-speelgoedeier was indrukwekkend – vlytige kinderhandjies het ’n voëlagtige speelding daaruit laat broei – moet jy die Hatching Dragon sien.

speelgoed,kersfees
Die Hatching Dragon.

Dié drakie broei uit wanneer ’n kind met die draakeier speel. Hy maak ook flapgeluide wanneer jy hom laat vlieg, eet wanneer jy hom voer en snork in sy slaap.

Dis ’n droomspeelding vir kinders van vyf jaar en ouer en kos tussen R1 700 en R1 800. Die Luvabella Newborn-pop is so na aan ’n regte baba dat jy twee keer moet kyk. 

Sy maak selfs lewensgetroue gesigbewegings en geluide en kan met ’n bottel gevoer word. Dié pop is geskik vir meisies van vier jaar en ouer en kos kos sowat R1 800.

Ook Hatchiwow, teen sowat R2 000, sal kinders betower. Dis ’n eier met ’n Llalacorn, ’n half-llama en half-eenhoring, daarin wat langer as 80 cm word wanneer dit uitbroei.

speelgoed,kersfees
Hatchiwow.

SPESIAAL VIR MEISIES

Net so gewild soos die Frozen-flieks is die speelgoed (3)wat daarop gegrond is – van poppe van karakters soos Elsa, Anna en Kristoff tot speelgoed wat “sneeu” skep.

Meisies van drie jaar en ouer sal heerlik met dié poppe van sowat R300 elk speel. Gespe jy die Magic Ice Walker aan jou voet vas, versprei dit met elke tree “sneeukristalle” op die grond, terwyl jy met die Magic Ice Sleeve nes Elsa in die rolprent kan “sneeu” spuit.

Elk van dié items kos sowat R570. Ook Elsa-Lego-stelle (tussen R335 en R1 500), om byvoorbeelhaar yskasteel te bou, sal ’n treffer in die Kerskous wees. Bykomstighede soos ’n Frozen-rugsak (R370) en -sandale (R350) is ook te koop.

speelgoed,kersfees
Elsa-Lego-stelle kos tussen R335 en R1 500.

Jong modepoppies kan hul kreatiwiteit uitleef met die Go Glam Nail Fashion Pack (4) (R430). Dié miniatuurmanikuurstel het ’n naelstempel met 125 patrone waarmee hulle hul naels kan versier.

speelgoed,kersfees
Die Go Glam Nail Fashion Pack.

Kyk ook uit na die L.O.L. Surprise Sparkle-reeks poppies vol blinkers (5) teen sowat R440 elk. Elke poppie is in ’n ronde bal verpak en haar identiteit word eers onthul wanneer jy die bal oopmaak.

speelgoed,kersfees
L.O.L. Surprise Sparkle-reeks poppies.
speelgoed,kersfees
L.O.L. Surprise Sparkle-reeks poppies.

Elkeen kom saam met ’n plakker, waterbottel, skoene, uitrusting, modebykomstigheid en ’n gids oor al die poppies in die reeks.

VIR DIE SEUNS

Te midde van al die wonderbaarlike nuwighede in die speelgoedwêreld bly dit dikwels vir seuns lekker om met karretjies te speel. Maar daardie rygoed lyk nie meer soos in pa en oupa se kinderdae nie . . .

Vanjaar se Monster Jam-trokke sal enige jong knapie in vervoering hê. Die pryse wissel tussen R250 en R1 700, afhangend van die detail aan ’n trok en sy kenmerke soos om in sirkels te ry of deur die lug te spring.

Vir die Lego-fanatici is daar die Technic Stunt Racer (sowat R1 200) wat met ’n afstandbeheerder werk. Dié kragtige voertuig kan selfs op sy agterwiele ry en oor voorwerpe klim.

Die Air Hogs-reeks motorfietse en karretjies (teen tussen R700 en R3 500) is ook ’n opwindende opsie.

Dié speelgoed kan deur die lug vlieg en teen mure opblits. ’n Nuwe weergawe van die speletjie Bakugan Battle Brawlers is vanjaar bekendgestel. Dit is op ’n animasiereeks gegrond en bestaan uit plastiekballe genaamd Bakugan.

In elke bal is ’n magnetiese meganisme wat dit laat oopspring wanneer dit oor ’n Bakucore-kaart rol. Dan wip die Bakugan-figuur daaruit op, gereed om met sy teenstander te “baklei”.

Elke deelnemer kies sy Bakugan-figure, hul ooreenstemmende figuurkaarte en Bakucore-kaarte. Die wenner van die “geveg” in elke ronde is die figuur wat op speelkaarte met die hoogste syferwaarde geland het.

Heerlike vermaak vir knapies van ses jaar en ouer. ’n Bakugan-beginnerspakket kos sowat R500 en enkele bykomende figure is teen R170 elk te koop.

Nes vorige jare is die Nintendo Switch-Joy-Con-videospeletjiekonsole weer ’n topverkoper, al is dit teen R7 000 ’n peperduur bederfie. Met die Shox Foldable Drone (sowat R700) sal pa en seun waarskynlik ewe lekker speel.

speelgoed,kersfees
Nintendo Switch-Joy-Con-videospeletjiekonsole.
speelgoed,kersfees
Shox Foldable Drone kos sowat R700.

Bloot met handgebare kan jy dié hommeltuig foto’s en video’s laat neem.

Soek jy ’n speelding wat jou sak beter pas, kan jy die vlieënde Superman- en Batman-figuur teen sowat R200 elk oorweeg.

speelgoed,kersfees
Superman-figuur.
speelgoed,kersfees
Batman-figuur

BORDSPELETJIES

Wat is nou lekkerder as ’n bordspeletjie saam met die gesin! Monopoly Cheaters Edition (10), ’n nuwe weergawe van die ou gunsteling, sal jou sowat R500 uit die sak jaag.

speelgoed,kersfees
Mono­poly Cheaters Edition.

Aanhangers van Harry Potter sal gek wees oor die Harry Potter POP! Funkoverse-bordspeletjie.

Dit toets jou strategiese denkvernuf en voer jou mee na die plekke wat ons so goed in die boeke en flieks leer ken het. Meer as een weergawe is beskikbaar en die pryse wissel van R500 tot R525.

OPVOEDKUNDIGE SPELETJIES

Die Leapfrog-reeks bied vanjaar weer ’n verskeidenheid opvoedkundige speelgoed soos die Dance & Learn Panda (teen sowat R1 000) vir kinders van nege maande en ouer. Dit leer die kleingoed onder meer liedjies oor syfers, vorms en musiekinstrumente.

speelgoed,kersfees
Die Dance & Learn Panda.

Wil jy van jongs af jou kind se belangstelling in die wetenskap prikkel?

Dan is die Jeronimo-drie-in-een- wetenskap-en-opvoedkundige-stel (sowat R220) net die ding. Dit sal aspirantwetenskaplikes, -ingenieurs en -wiskundiges ure lank besig hou.

Die stel is geskik vir kinders van agt jaar en ouer.

VIR ALMAL

Die Aquadabra Aquarium (12) (sowat R400) bied die kind die geleentheid om met spesiale verf en vorms driedimensionele visse te maak en hul eie akwarium te bou.

En as jy jou kind se verbeelding wil aanwakker, hoef jy nie verder as Ecoiffier se 100% Chef Cash Register (sowat R280) te soek nie.

Hiermee kan hulle ’n kamma-winkelier word.

speelgoed,kersfees
Coiffier se 100% Chef Cash Register.

  • Die pryse van speelgoed kan van winkel tot winkel wissel. Die pryse was teen druktyd korrek, maar is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing. 
  • Die pryse was teen druktyd korrek, maar is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.