Daar woed al weer ’n herrie oor Afrikaans – dié keer omdat dit as primêre onderrigtaal by die Universiteite van die Vrystaat en Pretoria uitgefaseer word.

Toe honderde be­togers onlangs saamdrom by die Hoër­skool Overvaal in Vereeniging nadat 55 nie-Afrikaanse leerders ná ’n omstrede hofuitspraak die deur gewys is, was dit boonop vet in die vuur en het Afrikaans weer in die spervuur beland.

Die Universiteit van die Vrystaat, waar ’n herrie woed oor die uitfasering van Afrikaans.
Betogers voor die Hoërskool Overvaal in ­Vereeniging wys hul misnoeë met Afrikaans.

“Die letterlik daaglikse aanslae op die status en posisie van Afrikaans is groot en laat die mense moed verloor,” skryf prof. Wannie Carstens, ’n afgetrede ­dosent in die Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-universiteit en oudvoorsitter van die Afrikaanse Taalraad, in ’n meningstuk op Netwerk24.

Dan vervolg hy: “In hul oë is daar nie meer ’n toekoms vir hul taal nie; daarom maak hulle vrede daarmee dat hulle vroegtydig ’n ander plan moet maak, soos om Engels te ­omhels.”  

Maar terwyl kenners kopkrap oor die toekoms van Afrikaans en daar gesoek word na sinvolle onderwysoplossings vir ’n diverse, meertalige land, wonder ouers tuis: Hoe kan ons ’n durende liefde vir Afrikaans by kinders kweek – ’n liefde wat hulle sal bybly, selfs al studeer en werk hulle eendag in Engels?

Huisgenoot het by kenners gaan aanklop vir praktiese raad vir ouers wat hul kinders op ’n inklusiewe toekoms in Suid-Afrika wil voorberei, maar Afrikaans steeds as hartstaal wil vestig.

Stel 'n voorbeeld
  • Ouers wat Afrikaans by hul kinders wil vestig, moet dit ook self tuis praat en hul kinders leer hoe om hulle in hul moedertaal uit te druk, sê Christien Neser, ’n skrywer en spraakterapeut wat spesialiseer in meer­taligheid.
  • “Die taal wat ’n kind die meeste hoor, gaan die taal wees waarin ?hulle dink,” sê sy.
  • “Maak seker daar’s Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke en musiek beskikbaar in jou huis,” sê Christien. Volgens haar gaan kinders soms deur ’n fase waar hulle afstand doen van Afrikaans, maar as die grond­slag van die taal eers vasgelê is, sal hulle weer daarna terugkeer.
  • Stel kinders bloot aan verskillende vorme van Afrikaans, sê Simon Witbooi, beter bekend as die gewilde Afrikaanse kletsrymer HemelBesem. “Laat hulle self kies van watter musiek hulle hou. Moenie hulle net blootstel aan die ou Afrikaanse musiek en boeke wat al stof opgaar nie. Laat hulle verstaan die taal is gebore uit die Afrikagrond sodat hulle trots is daarop.”
  • Tog sê Wannie dit is raadsaam om suiwer Afrikaans met jou kind te praat – so ontwikkel jou kind kleintyd al ’n wye woordeskat. “Moenie van juice of slide of popcorn praat nie. Jou kind gaan net homself volkome kan uitdruk as hy ’n omvattende woordeskat het. As jy reg praat, sal jou kind ook.”
  • Christien sê dit is ’n goeie idee om jou kinders in ’n Afrikaanse kleuterskool of skool te sit, “want hulle gaan in elk geval Engels aanleer”. As jou kinders wel na ’n ­Engelse skool gaan, “sal jy meer Afrikaanse boekies moet lees, meer stories moet vertel en meer Afrikaanse musiek moet luister om te verseker hul kontaktyd met Afrikaans is meer,” is haar raad.
Leer jou kinders ook ander tale
  • Stel jou kind aan ander tale bloot, want meertaligheid is een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee, is Christien se raad: “Vestig eers Afrikaans behoorlik, want jou kind sal outomaties tweetalig word in ons samelewing. Vertel jou kind Afrikaans is jul spesiale taal.”
    Ouers moet hul kinders terselfdertyd leer mense wat nie Afrikaans praat nie, praat weer telkens hul eie spesiale taal en dat Engels dikwels ’n gemaklike middelgrond is.
    “Daarom respekteer ons hul taal en praat met hulle ­Engels,” sê Christien.
  • Kweek by jou kinders respek vir ander tale, beaam Simon.
    “Jou taal is nie belang­riker as ander nie. Alle tale is belangrik; daarom is dit oukei om met iemand anders in hul taal te praat. Jy kan trots wees op jou taal en steeds ander tale respekteer.”
Hoekom is dit sinvol om Afrikaans as moedertaal te vestig?

Kinders verstaan ingewikkelde begrippe ?beter as dit eers in hul moedertaal by hulle vasgelê word, sê prof. Marné Pienaar, hoof van die departement tale, kultuurstudie en toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.

“Wanneer ’n kind nie ’n goeie begrip van sy moedertaal het nie, kan hy nie sarkasme, humor of sinspeling verstaan nie. Taal is ’n speletjie, en eers as hulle kan saamspeel, kan hulle hulself ten volle uitdruk,” sê sy.

As kinders dus goed taalvaardig is in Afrikaans, sal dit nie vir hulle ná skool moeilik wees om in Engels te studeer of te werk nie.

Marné sê sowat 7 miljoen mense in Suid-Afrika praat Afrikaans as moedertaal.

Die goue reël: Lees! Lees! Lees!
  • Christien beklemtoon die noodsaaklikheid van leespret in Afrikaans. Sy sê ouers moet elke aand voor slaaptyd ’n Afrikaanse storie vir hul kinders vertel, ’n Afrikaanse boek vir hul kinders lees of hulle aanmoedig om self ’n Afrikaanse boek te lees.
    Tog moet jy nie druk op jou kind uitoefen om te lees nie; dit moet nooit soos huiswerk of ’n plig voel nie.
    “Dit moet pret wees. As endorfiene (die goedvoelhormoon) vrygestel word, leer hulle ook beter.”
  • Christien stel voor ouers moedig hul kinders aan om self die boek te kies. Vra ook ná die tyd vrae oor die storie. “Lees stadig en maak dit interessant. Brei uit oor die storie en verduidelik sleutelbegrippe, veral as hulle nie verstaan of ’n woord nie ken nie.”
  • Wannie beaam die belangrikheid van lees: “As jou kind nog ’n slaaptydstorie wil hoor of nog ’n boek wil lees, lees dit. Hul taalbegrip en woordeskat gaan uitbrei.”
  • Daar is ’n magdom goeie Afrikaanse kinderboeke in Suid-Afrika beskikbaar. NB-Uitgewers het verlede jaar 86 nuwe boeke gepubliseer, waarvan 80% Afrikaans was.
    “Die grootste vraag na kinderboeke is in die 8-12 jaar oue lesersgroep. Dié lesers hou veral van humor, gril en ril; en die meisies is mal oor liefdesverhale. Hulle sal liewer iets lees op aanbeveling van ’n maat as van ’n ouer of onderwyser,” sê Michelle Cooper, kinder- en jeugboekuitgewer by NB-Uitgewers. 
  • Ouers kan ook vir hul kinders Afrikaanse oudioboeke in die motor of tuis speel, beveel Christien aan. Dit kan ook by biblioteke uitgeneem word.
Leer speel-speel
  • Kry jou jong kinders tydens speeltyd in Afrikaans aan die praat, want dit is die sleutel tot goeie taalbegrip, sê Marisa Haasbroek, ’n sielkundige en ma van twee kinders. Sy is van Pretoria, maar woon die afgelope drie jaar in Maryland in die VSA met haar gesin.
    “Laat hulle speletjies speel, soos om kant te kies met iets verspots soos dat rooi ’n beter kleur as blou is. Hulle moet dan drie bewyse vir hierdie keuse opmaak deur byvoorbeeld te sê rooi is beter as blou omdat hul gunstelingkombers rooi is. So ontwikkel hulle die vrymoedigheid om hulself in Afrikaans uit te druk,” sê sy.
  • “Gesels met jou kind, ook as julle in spitsverkeer in die motor sit. Speel ‘ek sien iets met my kleine, kleine ogie’ en sing Afrikaanse liedjies,” is Christien se raad. So word die taal spontaan en sonder druk gevestig.
  • Neem jou kind na Afrikaanse kinderteater en ook later na Afrikaanse teater, sê Ronel Korb, ’n dramaonderwyseres van Johannesburg.
    Teater is goed vir kinders se emosionele ontwikkeling, want die dramatiese uitbeelding van gebeure vind werklik inslag in die jong gemoed. Dit brei boonop hul woordeskat uit en leer hulle om beter te kommunikeer.
    Moedig hulle ook aan om Afrikaanse musiekvideo’s te kyk.
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/SOWETAN/THULANI MBELE