Koop jy elke blitsverkoperboek oor ouerskap op die rakke? Karwei jy hulle van die een buitemuurse aktiwiteit na die ander? Of gooi jy hulle bloot toe onder die jongste opvoedkundige speelgoed en toestelle?

Nie een van die bogenoemde nie, sê die kenners Daniel J. Siegel en Tina Payne Bryson.

Al wat jy moet doen, is om ten volle daar te wees vir hulle . . .

In hierdie uittreksel uit hul boek, The Power of Showing Up, verduidelik hulle hoe – en hoekom.

Stel jou ’n dag in die toekoms voor wanneer jou kind, nou ’n grootmens, terugdink oor die ouer wat jy was. Dalk praat hy met ’n lewensmaat, vriend of terapeut – iemand met wie hy volkome eerlik kan wees.

Dalk hou hy ’n koppie koffie vas en sê: “My ma was nie volmaak nie, maar ek het altyd geweet sy het my lief nes ek is.”

Of: “My pa was altyd aan my kant, selfs wanneer ek in die moeilikheid was.” Of gaan hy praat oor hoe sy ouers altyd wou hê hy moet iemand wees wat hy nie is nie – of hoe hulle hom nooit werklik probeer verstaan het nie?

Ons ken almal die cliché van die pa wat wil hê sy onsportiewe seun moet ’n atleet wees, of die ma wat verwag haar kind moet A-simbole kry – of hy nou die aanleg of belangstelling het of nie. Dis ouers wat nie hul kinders sien vir wie hulle werklik is nie.

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe vermy jy dit om daardie ouer te wees?

Jy hoef nie perfek te wees nie. Jy hoef nie al die topverkopers oor ouerskap te lees of jou kinders vir al die “karakterbou”-aktiwiteite in te skryf nie.

Al wat jy moet doen, is om ten volle daar te wees vir hulle. Wees teenwoordig. Ons praat nie van stories lees, skoolkonserte bywoon of met huiswerk help nie.

Dit is natuurlik alles belangrik, maar om teenwoordig te wees behels heelwat meer. Dit beteken jy is werklik daar vir jou kinders deur ’n gefokusde aanwesigheid te bied wanneer jy aan hul behoeftes voldoen deur fisiek, geestelik en emosioneel teenwoordig te wees en hulle te sien en aanvaar vir wie hulle is in alle gedragsituasies, goed en sleg.

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Navorsing oor kinderontwikkeling toon een van die beste aanduiders vir hoe enige kind sal ontwikkel – wat geluk, sosiale en emosionele ontwikkeling, leierskapsvaardighede, betekenisvolle verhoudings, akademiese en loopbaansukses betref – is in hoe ’n mate hulle veilig voel.

Met ander woorde, die wete dat daar een persoon is op wie hulle werklik kan staatmaak.

Wil jy daardie persoon in jou kind se lewe wees? Dan moet jy weet hoe dit lyk om teenwoordig te wees en wat hierdie konsep als behels.

Hier is die boublokke wat ’n kind help tuis voel in die wêreld

Om veilig te voel

Dit is die eerste stap na ’n veilige verbintenis aangesien ’n ouer se hooftaak is om sy of haar kinders veilig te hou. Jou kroos moet voel en weet hulle is veilig. Hulle moet glo hul ouers sal hulle beskerm – nie net van fisieke gevaar nie; ouers moet hul kinders ook emosioneel beskut. 

Onderneem dat jy nie die bron van vrees in jou huis sal wees nie. Selfs as ouers nie fisieke geweld teenoor hul kinders uitoefen nie, kan hulle hulle verneder, laat skaamkry of verskree of strategieë gebruik om hulle doelbewus bang te maak hetsy dit ter wille van dissipline is of om hul samewerking te kry. In al hierdie gevalle kan ouers onbewustelik hul kind ontneem van die vermoë om geborge en veilig te voel.

Dit beteken nie volwassenes mag nooit ’n fout maak of iets sê of doen wat emosionele seer nie, maar wanneer ons aanjaag, moet ons die skade so gou moontlik regstel. 

Dit is hoe kinders leer dat selfs wanneer harde woorde val ons mekaar steeds liefhet en dinge weer wil regmaak. Daardie bood­skap, wanneer dit konsekwent oorgedra word, lei tot ’n gevoel van veiligheid. 

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images


Om te voel hulle word raakgesien

Party kinders word dwarsdeur hul kinderjare nie raakgesien nie. Hulle voel nooit iemand verstaan hulle nie. 

Soms is dit omdat die ouers die kind deur ’n “lens” sien wat meer met hul eie begeertes, vrese en probleme te make het. Daardie filter kan dit vir ons moeilik maak om dinge waar te neem, daarvan sin te maak en dan op ’n verstandige wyse te  reageer. 

Ons raak dalk behep met ’n etiket en sê: “Hy’s die baba,” of: “Sy’s die atletiese of skaam of kunssinnige een.” Of: “Sy’s net so hardkoppig soos haar pa.”

Wanneer ons ons kinders in sulke boksies plaas, weerhou ons onsself daarvan om hulle werklik raak te sien. 

Een van die ergste maniere waarop ons daarin misluk om ons kinders te laat voel hulle word raakgesien is om hul gevoelens te ignoreer. Met ’n kleuter kan dit dalk beteken dat ons, terwyl hy huil nadat hy geval het, vir hom sê: “Moenie huil nie. Jy’t nie seergekry nie.”

Of ’n ouer kind voel dalk angstig oor hul eerste keer by ’n dansklas. Sy sal waarskynlik nie meer op haar gemak voel nie as jy vir haar sê: “Moenie jou bekommer nie – daar is niks om oor senuwee­agtig te wees nie.”

Ja, ons wil ons kinders gerusstel, maar dit verskil hemelsbreed daarvan om dit wat hulle voel te ontken. Dis beter om iets te sê soos: “Jy sal oukei wees,’ of: ‘Baie mense voel senuweeagtig op die eerste dag. Ek sal daar bly tot jy op jou gemak voel.’ ” 

Daardie soort reaksie is baie meer deernisvol. Wanneer kinders raakgesien voel, kan dit ’n gevoel skep dat hulle behoort en tot ’n ware band tussen julle lei omdat jou kind opreg voel jy ken hulle.

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images


Om gerusgestel te voel

Wanneer ’n kind in nood verkeer, kan die negatiewe toestand omgeswaai word deur ’n interaksie met ’n versorger wat haar ondersteun. Sy gaan dalk steeds ly, maar ten minste sal sy nie alleen in haar leed voel nie. 

Een van die magtigste maniere om iemand te kalmeer – kind of grootmens – is om daardie persoon absoluut geliefd te help voel. 

En namate sy deur ervaring leer dat iemand altyd daar sal wees vir haar wanneer sy seer het, sal sy die vermoë ontwikkel om haarself te kalmeer en haar eie emosies te reguleer. 

Wanneer ons praat van kinders kalmeer wat ’n moeilike tyd beleef, selfs wanneer dit as uitdagende gedrag manifesteer, word daar soms aanvaar ons moedig permissiewe ouerskap aan. Dis nie wat ons sê nie. 

Jy moet natuurlik grense stel; jy kan nie dinge net hul gang laat gaan wanneer sy haar bababoetie slaan of minagtend met jou praat nie. Om grense te stel is deel daarvan om ons kinders lief te hê.

Maar ons kan dit op ’n manier doen wat liefde en aanvaarding oordra en wys ons aanvaar nie die gedrag nie, maar wel die kinders. 

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images


Om gebonde te voel

Dit gaan oor voorspelbaarheid – om jou kinders te laat weet hulle kan op jou staatmaak om daar te wees.

Hul gebondenheid sal kom wanneer hulle glo jy sal alles doen wat jy kan om hulle veilig te hou, dat jy hard sal werk om hulle raakgesien te help voel wanneer hulle hulself tot jou wend en dat wanneer dinge nie volgens plan verloop nie jy daar sal wees om hulle gerus te stel. 

 Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Voeg dit als bymekaar, en jy het ’n kind wat sonder twyfel weet dat hulle veilig is, liefde en verhoudings konstant sal wees en hulle enigiets kan hanteer wat die lewe oor hulle pad bring. Wat meer kan enige ouer vir hul kind hê?

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.