Dis ’n toneel wat immers alte bekend is: Twee seuntjies terg mekaar onder die tafel van ’n restaurant of doop hul vingers in die tamatiesous op mekaar se borde terwyl hulle gil van plesier. Die mense by die tafel langsaan gluur vir die prentjie en frons oor die rusversteuring, maar die knapies se ouers gaan ongesteur met hul gesprek voort.

Of nét so algemeen: Jy nooi vriende vir ’n luilekker middagete op ’n naweekdag, maar hul kinders tref jou huis soos ’n warrelwind. Jy wil nog protesteer en vra of hulle jou breekware asseblief sal uitlos en sal ophou om die kat se stert te trek, maar hul ouers glimlag bloot gelate oor die rumoer.   

So het ’n leser op Huisgenoot se brieweblad gekla oor kinders wat hul skouhuis op horings geneem het: “Die eerste ding wat ons soos ’n orkaan tref, is hul twee seuns wat met ’n spoed deur die huis vlieg. Hulle skaats op die mat in die ingangsportaal, keer ons hond in die hoek vas en maak kaste en laaie oop.

"Toe my man die pa vra om hulle te beheer, ruk dié hom op, maak sy gesin bymekaar en loop. Aan die agent het hulle gesê hulle het in ons huis belanggestel, maar sal as gevolg van my man se ‘houding’ nie ’n aanbod maak nie. Is dit net ek wat dink hulle moes ons verskoning gevra het?”

Daar het jy dit: Die grens tussen sorgelose kindwees en die openbare rus en vrede is ’n grys gebied. In eetplekke, by vriende se huis of ander ruimtes waar ouers met jong kinders gaan, is altyd ’n suurknol of twee wat glo kinders moet gesien maar nie gehoor word nie. Of is die suurknol eintlik reg om te dink die ouers moet hul vrolike woelwaters beter dissiplineer sodat almal ’n rustiger ervaring kan geniet?

Wat staan ’n mens dan te doen as ouer of volwasse omstander wat die chaos gefrustreerd aanskou wanneer kinders se gedrag die lewe vir almal moeilik maak?

Foto ter illustrasie: MonkeyMyshkin (flickr.com)

Elke huis het sy eie reëls
Die sleutel is voorbereiding en wedersydse begrip, sê die kenners. Dis die wagwoorde wanneer kinders ongerief saai of omstanders se lewe versuur.

Die situasie met die skouhuis kon ontlont word deur iets te sê soos: “Ek voel ongemaklik en is besorg oor jou kinders se veiligheid,” eerder as om te sê: “Beheer jou kinders,” wat ouers dadelik op hul agterpote gaan hê, reg om te baklei, sê Karen Moross, ’n geregistreerde berader by die Family Life Centre in Parkwood, Johannesburg.

Jy wil nie die kind se ouers aanstoot gee nie, maar as sy gedrag gevaarlik of skadelik kan wees, kan jy dit ook nie ignoreer nie.

Die ouers van die rumoerige kinders kon hulle op pad na die skouhuis toe ook al voorberei het met: “Dit kan dalk ons nuwe huis wees, maar dit is nog nie. Respekteer die mense wat nog daar bly. Hou jou hande tuis. Sal jy daarvan hou as ’n ander seuntjie in jou kamer rondkrap?”

Dit geld ook wanneer jy saam met jou kinders by vriende se huis gaan kuier – of wanneer vriende met hul kinders by jou huis kom kuier.

“Wanneer ’n kind in jou huis kom, hou hy by jou reëls. As iemand kom kuier en jy het kinders, kan jy hulle almal bymekaarroep en die reëls van die huis neerlê,” sê dr. Ken Resnick, sielkundige en gesinsonderhandelaar van Linden en Randburg. In jou huis moet ander mense se kinders by jou huisreëls hou.

Klein jakkalsies kan jy maar oorsien. As ’n kind byvoorbeeld toringblokkies omstamp of nie “dankie” sê vir jou tuisgemaakte koekies en limonade nie, moet jy hom liewer nie teregwys nie. Onthou: Elke ouer het ’n ander stel verwagtings oor aanvaarbare gedrag.

Openbare ruimtes
’n Kind wat in ’n kalm huis grootword, sal hom gewoonlik ook nie in die openbaar wangedra nie. ’n Kind wat sosiaal ontwrigtend is, daarenteen, is heel waarskynlik ook by die huis moeilik, meen Ken.

’n Ouer is heeltemal verantwoordelik vir die kind se gedrag, maar as die kind in ’n ander ruimte is, soos ’n restaurant, moet hy aan die reëls van die onderneming voldoen, voeg Ken by.

Dis baie nuttig om kinders van jongs af voor te berei op nuwe ervarings wat hulle dalk kan verwar en ontstel, sê Karen. Op pad winkelsentrum toe kan jy byvoorbeeld in die kar iets sê soos: “Dis wat nou gaan gebeur. Jy gaan rakke vol lekkers sien, maar jy kan net een kies. Daar gaan balle wees, maar ons kan nie daarmee speel nie, dit behoort nie aan ons nie. Ons neem dit nie huis toe nie.”

Stel perke, maar gee ook keuses. In ’n restaurant kan hulle nie sommer enigiets op die spyskaart bestel nie. Laat hulle byvoorbeeld kies tussen visvingers of ’n worsbroodjie; pizza of spaghetti. “Dit is ’n meer demokratiese manier van ouerskap. Kinders sal die grense aanvaar en die keuses geniet wat hulle wel het.”

Bly konsekwent in verskillende situasies en wees op die uitkyk vir “rolmodelle” in die winkels of op straat. “Sien jy daardie gesin? Hulle wag vir ’n tafel in die restaurant. Hulle praat rustig met mekaar en skree nie.” Daar is ook boeke in die biblioteek en TV-programme wat kan help met voorbereiding op dinge soos vlieg, reis en ’n besoek aan die tandarts.

Spreek die ouer aan en nie die kind nie, skryf Peggy Post, medeskrywer van Emily Post’s The Gift of Good Manners: A Parent’s Guide to Raising Respectful, Kind, Considerate Children.

Gebruik eerder “selfgeldende ek”-boodskappe as wat jy aanvallend is, vertel  Xandria Louw, ’n sielkundige van Durbanville. Eerder: “Ek sukkel om my kos saam met my gesin te geniet omdat die deur elke keer klap as die kinders hierdeur hardloop” as “Jou kinders moet hulself gedra.” Spreek die gedrag aan en nie die kind nie.

En as dit nie werk nie, mag jy maar vir die bestuurder van die winkelsentrum of watter openbare ruimte ook al vra om in te gryp, stel Ken voor.

Lees die tekens
“Wanneer jou kinders ontoepaslik optree is dit belangrik om te onderskei: Is dit omdat hulle ’n gebrek aan respek, goeie maniere of gesonde grense het, of is hulle werklik oorweldig deur groot emosies, oormatige stimulasie, moegheid of honger?” maan Xandria.

“Let op dié tekens,” stem Karen saam. “My kinders word onredelik as hulle moeg, honger of dors is; daarom het ek altyd snoephappies en iets te drinke byderhand. As hul basiese behoeftes vervul is, maak dit die lewe makliker.”

Maar wanneer jou kind ongeskik en bloot minagtend optree, is dit ook jou verantwoordelikheid as ouer om hom eenkant te neem en daarop te wys dat sy gedrag nie aanvaarbaar is nie.

Soms, soos in ’n vliegtuig of bus, is dit moeilik om ’n rumoerige kind buitentoe te neem as dit nodig raak, vertel Karen. Daarom kan ’n ouer in so ’n geval maar hulp vra by omstanders en almal moet begrip hê: “Kinders is onvoorspelbaar, ’n kleuter wat byvoorbeeld vreeslik huil en tekere gaan in ’n vliegtuig, het dalk engtevrees.”

Die woedeuitbarsting is ook ’n konfliksituasie wat die een of ander tyd oor elke ouer se pad kom. Bly kalm en ferm, vermy aggressie en moenie leë dreigemente maak nie, is Karen se eenvoudige raad.

“Ons moet volwassenes wees. Ons het ’n kollektiewe verantwoordelikheid om ’n voorbeeld vir kinders te wees oor hoe konflik opgelos kan word sonder om te skree en slaan,” sê Karen.

“In ’n emosioneel gelaaide situasie, soos wanneer kinders onbeheers en ongeskik optree, word ons ‘oerbrein’ dikwels geaktiveer en skakel ons denkende brein vir ’n oomblik af. Dan wil ’n mens net reageer sonder om rekening te hou met die gevolge van jou gedrag. Maar die volwassene moet selfbeheersd bly en rasioneel optree,” verduidelik Xandria.

In so ’n geval kan omstanders gerus eerder aanbied om te help of die kind se woedeuitbarsting of knieserigheid ignoreer as om te oordeel en dit vir die ouer selfs erger te maak.

En wanneer byt jy op jou lip?
Wat doen jy as ander ouers net Gods water oor Gods akker laat loop wanneer húl bloedjies ontoepaslik en lawaaierig raak? Dis waarskynlik die beste om diep asem te haal en dinge bloot hul gang te laat gaan.

Ouers wat hulself skuldig maak aan te veel toegeeflikheid teenoor hul kinders se wangedrag sien moontlik ook nie raak hoe dit ander verontrief of ontwrig nie, sê Xandria: “En daaraan is jammerlik geen salf te smeer nie.”