SKOOLSAKBEGINSELS

Elke jaar sien ’n mens miljoene skoolkinders swaar gebuk gaan onder ’n reuseskoolsak – soos skilpaaie onder ’n oorgroot skulp.

Party rugsakke is so swaar gelaai dat hulle vooroor buig onder die gewig van die boeke. Dit lyk bitter ongemaklik, maar kan dit ook gevaarlik wees?

Beslis, sê kenners.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Volgens ’n studie wat aan die Universiteit van San Diego in Kalifornië gedoen is, “is rugsakladings vir ’n beduidende hoeveelheid rugpyn by kinders verantwoordelik”. In dieselfde ondersoek is bevind een uit drie kinders tussen 11 en 14 kla oor rugpyn.

Die ruggraat hou – soos die raamwerk van ’n huis – jou kind se lyf stewig, verduidelik dr. Rob Danoff, ’n Amerikaanse osteopatiese geneeskundige.

“As jy te veel gewig op hierdie raamwerk plaas terwyl ’n jong liggaam nog ontwikkel, kan dit ’n kind se postuur verander en groei belemmer. Dit kan ook tot rugprobleme of beserings bydra wanneer jou kind ouer is,” waarsku hy.

“ ’n Swaar rugsak kan ook tot konsentrasieprobleme bydra,” sê dr. Karen Jacobs, ’n arbeidsterapieprofessor aan die Boston-universiteit in Amerika.

Hier is ’n paar wenke oor hoe jy die las van ’n swaar skoolsak vir jou kind kan verlig

Die beste sakke

Al is trollieboeksakke ’n goeie opsie, verbied party skole dit. As ’n alternatief stel kenners voor jy koop liewer ’n rug- as ’n skouersak, want ’n sak wat oor een skouer gegooi word, kan jou kind met rug- én skouerprobleme opsaal. Onthou, seilrugsakke weeg minder as leersakke en is boonop taamlik waterbestand. Die beste sakke het ’n stewige raam of ’n heupband, ’n opgestopte rugkant en verstelbare, opgestopte skouerbande van minstens 5 cm breed.

Hoe swaar is te swaar?

“Navorsing wys ’n rugsak moet hoogstens 10 tot 15% van jou kind se liggaamsgewig weeg om besering te voorkom,” sê Karen. Die rugsak van ’n 10-jarige wat 40 kg weeg, moet daarom net tussen 4 en 5 kg weeg.

Spesifikasies

Moenie ’n groter sak koop in die hoop dat dit langer sal hou nie. Koop ’n sak wat nommerpas vir jou kind is. Kyk eers of dit knus aan jou kind se lyf sal pas deur die bande te verstel. Die bopunt van die sak moet onder die basis van die skedel wees en die onderkant 5 cm bo die middel.

Kies ’n sak met ’n paar afsonderlike vakkies. Dan kan jy boeke en kosblikke stewig by hul vakkies inskuif sodat die inhoud nie rondskuif nie.

’n Bottelhouer aan die buitekant van die sak is ’n goeie idee om te keer dat drinkgoed wat uitlek die skoolboeke natmaak.

Pak en dra

Pak die swaarste items eerste in die rugsak sodat hulle laer en nader aan die lyf gedra kan word. Maak seker dat skerp of bonkige voorwerpe nie teenaan die rug gedra word nie.

Moedig jou kinders aan om die sak met ’n reguit rug en gebuigde knieë op te tel. Wanneer hulle dit ronddra, moet die onderkant van die sak bo hul middel sit pleks daarvan dat dit laag hang en op die heupe rus.

As kinders vooroor moet leun terwyl hulle hul sak dra, pas dit nie reg nie. Waarsku jou kinders ook dat hulle hul rug kan beseer as hulle ’n rugsak oor een skouer dra.

As daar sluitkassies by jou kinders se skool is, laat hulle daarvan gebruik maak. Dan hoef hulle nie alles wat hulle nodig het heeldag rond te dra nie.

Skoolskoene

Dis nie kinderspeletjies om skoolskoene te koop nie. Terwyl jy na iets prakties en van goeie gehalte soek, wil jou kind waarskynlik net hê die nuwe skoolskoene moet so koel moontlik lyk.

Die belangrikste is dat jou kind se skoolskoene hom of haar genoeg steun bied. In die eerste 11 jaar van ’n kind se lewe sal hul voete met sowat 17 skoengroottes groei.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

As skoene sleg pas, kan dit in hul volwasse lewe tot probleme lei soos hakpyn, ingroeitoonnaels, liddorings en knokkeleelte.

Die menslike voet met sy 33 groot spiere, 26 bene en 19 ligamente bied ’n grondslag vir feitlik al jou liggaamsaktiwiteit; daarom moet voetgesondheid van jongs af aandag kry.

Mike Curtin, ’n Australiese voetkundige, het bereken kinders bring sowat 30 uur per week in hul skoolskoene deur en altesaam 15 000 uur tydens hul skooljare; daarom is dit belangrik dat hul skoolskoene behoorlik pas.

Hier is ’n paar wenke om te sorg dat kinders die beste uit hul skoene put

  • Maak seker dat albei voete gemeet word. By die meeste kinders en volwassenes is die een voet langer of breër as die ander een.
  • Sorg dat daar ’n kind se duimbreedte tussen die punt van die skoen en die punt van die langste toon is en dat die breedste deel van die voet met die breedste deel van die skoen ooreenstem.
  • Wanneer jy die skoene vasmaak, moet die hak ferm agter in die skoen bly, die sool stabiel wees en die agterkant van die skoen sterk.
  • Die tone moet vrylik kan beweeg en nie aan die kant van die skoen uitbult nie.
  • Laatmiddag is die beste tyd vir skoene koop, want kinders se voete is dan geneig om effens geswel te wees.
  • Weerstaan die versoeking om ’n groter grootte skoen te koop sodat dit langer sal hou. Skoene wat te groot is, kan swak loopgewoontes laat posvat.
  • Al is dit dalk ’n bietjie duurder, probeer leerskoene kies. Leer laat lug deur; dit koel die voete af en keer dat hulle sleg ruik. Leerskoene hou ook langer.
  • Ná hul derde verjaardag groei kinders se voete elke ses maande met sowat ’n halwe skoengrootte; daarom hou skoolskoene gewoonlik tussen nege maande en ’n jaar.
  • Al koop jy net een keer per jaar skoolskoene, moet jy heeljaar op die uitkyk bly vir voetprobleme.
  • Win ’n voetkundige se raad in as kinders oor pyn in hul voete, hakke, knieë of bene kla en as hulle gereeld onverklaarbaar struikel en val.
Nuttige voetfeit
Ná hul derde verjaardag groei kinders se voete elke ses maande met sowat ’n halwe skoengrootte; daarom hou skoolskoene gewoonlik tussen nege maande en ’n jaar.

Bronne: footankleinstitute.com, kaboutjie.com, cwfootandankle.com.au, kidspot.com.au, time.com, hardingchiropractic.co.uk