Jy kan nie jou vinger daarop lê nie, maar jou kind tree anders op as voorheen. Stiller; meer buierig of huilerig. Klouerig – of meer afgesonder. Bang of bekommerd. Dalk opstandig.

Kan dit wees dat jou seun angstig voel? Of dat dit aan jou dogter se binneste vreet?

Jy weet jy moet met jou kind daaroor praat, maar hoe? En hoe bied jy vertroosting as jy deesdae self pal angstig voel?

Die covid-19-pandemie en inperking het soveel uitdagings veroorsaak en jy sukkel nog om self sin te maak van alles – hoe moet jy jou kind help om hul vrese te verstaan en te verwerk?

Angs is ’n normale menslike emosie wat ons waarsku iets skort waaraan ons aandag moet gee, sê Magdel Pretorius, ’n sielkundige van Vereeniging.

Almal voel soms angstig, maar dis nie noodwendig ’n aanduiding van ’n angssteuring nie. Dié toestand word eers gediagnoseer wanneer dit iemand se daaglikse funksionering oor ’n geruime tydperk aantas.

Kliniese angs kan by kinders gediag­noseer word wanneer dit met hul persoonlike, sosiale en skoollewe inmeng.

As jy vermoed jou kind ly daaraan, moet jy professionele hulp soek.

Maar hoe maak jy wanneer jy vermoed jou kind gaan deur troebel waters en jy hulle wil help om dit te hanteer?

Huisgenoot het by ’n paar kenners gaan aanklop oor angs in kinders.

Hoe weet ek my kind is angstig?

Wanneer jou kind oor ’n tydperk ’n verandering in hul emosies of gedrag toon, soos meer irritasie, huilerigheid, terneergedruktheid of frustrasie as gewoonlik, moet ’n ouer beslis ondersoek instel, sê Magdel.

Die tydperk kan wissel van kind tot kind en hang af van die omstandighede, sê sy.

“Jou kind kan ook veranderings in slaap- en eetpatrone toon of woede­uitbarstings begin kry. Sommige ouers
ervaar die kind raak meer klouerig of is senuagtig wanneer hulle uit die huis moet gaan.”

Fisieke klagtes soos maagpyn en kopseer is dikwels van die eerste tekens by kinders wat angstig is, sê Gerda Kriel, ’n kliniese sielkundige van Somerset-­Wes.

“Wanneer hul temperament verander, is dit gewoonlik ook ’n teken – soos ’n baie sosiale kind wat skielik teruggetrokke raak.”

Kinders se angs manifesteer ook op ver­skillende maniere na gelang van hul ouderdom, temperament en ervaring, benadruk Magdel.

Die covid-19-pandemie en inperking, asook die terugkeer of die beplande terugkeer skool toe ná etlike maande tuis, kan boonop ’n sneller wees om angs op ver­skillende maniere by kinders na vore te laat kom:

  • Algemene angs is voortdurende, uitermatige kommer oor allerlei dinge in die daaglikse lewe.
  • Skeidingsangs is die vrees om geskei te word van iemand aan wie jy geheg is.
  • ’n Paniekaanval is ’n gevoel van intense paniek wanneer dit voel of jy doodgaan of nie kan asem kry nie.
  • Sosiale angs is die vrees om in sosiale situasies deur ander negatief geëvalueer te word.
  • Posttraumatiese stres ontwikkel soms in mense wat ’n traumatiese gebeurtenis beleef het.

Kinders kan volgens die kenners al dié vorme van angs ervaar.

Hoe moet ek dit hanteer?

Gesels daaroor om dit te normaliseer

Wanneer jy iets verwoord, raak die gevoel gewoonlik hanteerbaarder, sê die kliniese sielkundige Tanya de Water van Meyerton. Dit help ook vir kinders om hul gevoelens te verwoord.

“Gesels oor allerhande gevoelens en normaliseer dit. Sê byvoorbeeld vir jou kind almal voel soms bang, moeg, kwaad, jaloers, hartseer, gelukkig – selfs Mamma. Help jou kind om angs in ander raak te sien, soos die gesigsuitdrukking van ’n karakter in ’n storieboek of fliek.”

Jy kan ook speletjies gebruik om ’n gesprek aan die gang te kry, verduidelik sy. Neem byvoorbeeld ’n karretjie en laat dit vir sy maats wegkruip omdat hy bang is hulle lag vir hom – en praat dan daaroor.

Dit sal vir jou kind wys om angstig te voel is verstaanbaar en natuurlik en dat dit nie iets is om oor sleg te voel nie.

Help jou kind om emosies te verwoord

Veral klein kinders spartel soms om hul emosies te verwoord. Help jou kind om dit te doen deur vir hulle emosies te noem om uit te kies wanneer julle oor dinge gesels: sleg teenoor lekker, hartseer teenoor bang, kwaad teenoor gelukkig, verduidelik Tanya.

Sy stel ook die volgende tegnieke voor:

Span gesigsuitdrukkings en gedrag­speletjies in om te wys hoe verskillende emosies lyk. Sê byvoorbeeld vir jou kind: “Simon sê: Lyk hartseer” of: “Simon sê: Lyk bang” en laat jou kind dan toe om te wys hoe daardie emosie lyk.

Kyk saam met jou kind na prentjies wat emosies uitbeeld – selfs die emotikons op jou selfoon – en noem die emosies saam met jou kind op die naam.

Vra jou kind om verskillende emosies in verskillende kleure te teken.

Speel musiek en vra jou kind hoe elke liedjie klink: Klink dit hartseer? Klink dit kwaad? Klink dit na iets wat ’n mens bang maak?

Vir ouer kinders kan jy sinonieme of die oortreffende trappe van emosies leer sodat hulle daarmee die intensiteit van emosies kan leer beskryf.

Namate dit vir jou kind makliker raak om emosies te verwoord, sal dit ook vir hulle makliker raak om angs op die naam te noem en die gevoelens te verwoord wat daarmee gepaardgaan.

Help jou kind om bemagtig te voel

Moenie met jou kind raas wanneer hulle bang of angstig is nie, sê Gerda. “Laat hulle toe om hul emosies te beleef en verseker hulle dat hulle in jou teenwoordigheid veilig is.”

Die meeste mense, ook kinders, raak bang wanneer hulle buite beheer voel, verduidelik Magdel. “Daarom moet jy kinders met behulp van konkrete hulpmiddels in beheer laat voel. Sit byvoorbeeld ’n klein liggie aan wanneer hulle bang is vir die donker, of maak saam met hulle seker die deur is gesluit as hulle bang is vir die skelms.

“Gesels met jou kind oor die dinge wat hy kan doen wat hom beter sal laat voel wanneer hy bang is.”

Dit sal jou kind help om bemagtig eerder as beleër te voel.

Span asemhalingstegnieke in

As jou kind in die oomblik angstig voel, kan jy asemhalingstegnieke inspan om hom of haar te help om te ontspan, sê Gerda. “Om saam met jou kind diep asem te haal terwyl jy hulle in die oë kyk, kan help om hulle gegrond te laat voel.”

Sy stel voor jy sê vir jou kind hy moet hom verbeel hy blaas ’n ballon in sy magie op en af. Jy kan ook vir jou kind ’n regte ballon gee om op en af te blaas.

HOE PRAAT ONS OOR COVID-19?

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Dit is belangrik om die pandemie nie te ignoreer nie, sê Magdel.

“Kinders weet in elk geval daarvan, want hulle hoor hoe jy met jou vriende daaroor gesels of sien dit op televisie. Jou rol is om daardie inligting vir hulle in perspektief te plaas.”

Sy sê dit moet eerder ’n deurlopende as eenmalige gesprek wees.

“ ’n Kind verstaan en verwerk nie noodwendig al die inligting oor die virus op een slag nie. Jy moet dit gereeld bespreek om hom in beheer van die situasie te plaas. Anders kan dit tot gevoelens van angs, mismoedigheid en hopeloosheid lei.”

Tanya stem saam en sê jy moet jou kind bewus maak van die virus, maar jy moet hulle nie vreesbevange maak nie.

“Wanneer jy oor covid-19 praat, is dit reg om te erken dit veroorsaak onaange­name omstandighede en onsekerheid, maar jy moenie jou probleme op jou kind uitstort nie.”

Sy sê dit kan vir kinders verwarrend wees om terug te keer skool toe.

“Eers moes hulle heeltyd by die huis bly en niemand mag kom kuier nie, en nou moet hulle terugkeer skool toe. Stel aan jou kind vrae en moenie aanneem jy weet hoe hulle voel nie. Verseker hulle dit is normaal om gemengde gevoelens te hê oor dinge soos die opwinding om weer by maats te wees, bekommernis oor al die nuwe reëls en frustrasie oor die verandering.”

Verduidelik vir jou kind waarom die regering besluit het om skole weer oop te maak, sê Magdel.

Kenners beklemtoon dat kinders minder vatbaar is vir covid-19, en skole doen moeite om by maatreëls te hou wat higiëne bevorder.

“Praat dan met jou kind oor alles wat julle kan doen om te keer dat hulle die virus kry,” sê Magdel. “Oefen by die huis om hande te was en jou masker te dra. Fokus op die konkrete aspekte soos dat hulle hul eie pen en potlood gaan gebruik, dat hulle die klasse daagliks ontsmet, dat hulle hul maats op verskillende maniere kan groet, en maak saam planne vir wat hulle pouses kan doen.”

Sluit by ons aan vir kennersraad

Huisgenoot span saam met die sielkun­diges Magdel Pretorius en Tanya van de Water om aanlyn geleenthede aan te bied waartydens lesers kan inskakel vir nog praktiese kennersraad in ons aanlyn reeks Jou Kind.

Hulle deel tydens hierdie regstreekse uitsendings vaardighede waarmee jy die uitdagings van hierdie tyd kan aanpak.

Bespreek nou jou plek vir een of albei van dié sessies.

  • Dis maklik – jy koop bloot jou kaartjie by Computicket.com en ontvang dan ’n e-pos wat verduidelik hoe om vir die regstreekse uitsending in te skakel.

My kind is angstig

22 Julie, 20:00. Koste: R60
22 Julie, 20:00. Koste: R60

22 Julie, 20:00
Koste: R60

Die sielkundige Tanya van de Water gesels met die aktrise Desiré Gardner, ’n ma van twee, en hulle ontgin saam maniere hoe jy:

  • angs by jou kind kan identifiseer;
  • jou kind kan help om angs te verstaan, te verwoord en te verwerk;
  • jou kind praktiese vaardighede kan leer wat hulle kan help om dit te verlig; en
  • kan praat oor angs rondom die pandemie en inperking.

Superma? Dit sukkel soms!

29 Julie, 20:00. Koste: R60
29 Julie, 20:00. Koste: R60

29 Julie, 20:00
Koste: R60

Jy wil ma wees én werk. Die voorlig­ting­sielkundige Magdel Preto­rius en die aktrise Vicky Davis ontgin saam wenke:

  • Hoe balanseer jy jou kind se behoeftes met jou eie verantwoordelikhede?
  • Hoe sorg jy dat jou kind genoeg aandag kry as joune dikwels elders moet wees?
  • Hoe en wanneer span jy tegnologie in?
  • Hoe herlaai jy die emosionele tenk?

KAARTJIES: Bespreek by computicket.com.

NAVRAE: edmund.beukes@media24.com