DIE skooltas is gekoop, die kryte ingepak en die skoolskoene blink gepoets – alles vir jou bloedjie se eerste skooldag. Jy het alles gedoen om jou kind hierop voor te berei, maar wat as hy self nog nie gereed is nie?

“Mense glo dikwels kinders van dieselfde ouderdom is ewe volwasse,” sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Maar hul emosionele ontwikkeling kan baie verskil,” sê sy. 

Dus moet jy nie aanneem jou kind is skoolgereed net omdat hy in sy eerste skooljaar sewe word, soos die regering vereis, nie. 

“Skoolgereedheid het ewe veel te doen met of jou kind emosioneel gereed is as met sy onafhanklikheid en vermoë om probleme op te los,” sê die Johannesburgse beradingsielkundige Keshnie Lalbahadur.

VOLDOEN JOU KIND AAN DIÉ VEREISTES?

Is hulle fisiek gereed?

Hulle moet hul eie skooltas kan dra, met kinders van hul ouderdom kan speel en regop by hul lessenaar kan sit sonder om gou moeg te raak, sê Anel.

“Hul fisieke ontwikkeling sal bepaal of hulle ’n potlood kan vashou, met ’n skêr kan knip en kan leer skryf.”

Verstaan hulle basiese begrippe?

As hulle die basiese vorms (sirkels, vierkante, driehoeke) ken, sal dit hulle help om syfers te herken. Hulle moet bewus wees van die verloop van tyd (ons eet ontbyt, dan speel ons, later drink ons koeldrank en dan is dit ’n klein tydjie tot middagete). So sal hulle weet wat om op sekere tye van die skooldag te verwag, voeg sy by. Hulle moet ook kleure kan uitken.

Foto: Pixabay

Kan hulle selfbeheersing toepas?

Teen die tyd dat jou kind skool toe gaan, moes hulle al geleer het om speelgoed of lekkernye te deel en hulle moet kan jammer sê as ’n maatjie seergekry het, sê Keshnie. 

“Hulle moet in groepverband met ander kinders oor die weg kan kom.” 

Jou kind moet kan konsentreer, al gebeur daar ander goed om hom in die klaskamer, sê Anel. “As hulle dit nie kan doen nie, sal hulle nie hul take kan afhandel nie.” 

’n Kind wat skoolgereed is, moet ook nie meer daarop aandring om dadelik sy sin te kry nie – dadelik buite gaan speel of dadelik ’n storie hoor. Kitsbevrediging pas by jonger kinders.  

Is hulle emosioneel en sosiaal gereed? 

’n Kind moet gereed wees om van hul ouers te skei en ’n verhouding met hul onderwyser en klasmaats te vorm, sê Anel. 

“Kinders wat nie volwasse genoeg is om vir hul onderwyser te sê as iets fout is of met hul klasmaats te deel nie, gaan sukkel.” 

Keshnie sê ook kinders moet volwassenes met klein takies kan help en reeds voor hulle skool toe gaan gemaklik daarmee wees as hul omgewing verander. “Hulle moet minstens ’n paar uur op ’n slag weg van hul hoofversorger kan wees.”

Kan hulle na hulself omsien?

Keshnie sê kinders moet weet speelgoed word weggepak wanneer hulle klaar gespeel het en dat hulle voor skool self moet aantrek. 

Hulle moet ook na hul besittings kan omsien, self badkamer toe kan gaan, kan eet sonder om gevoer te word en self hul neus kan blaas wanneer dit nodig is, voeg Anel by.

HOE KAN JY JOU KIND HELP VOORBEREI?

“Erken jou kind se sterk en swak punte en sorg dat hulle eers skool toe gaan wanneer hulle gereed is,” sê Keshnie. Jy kan beloningskaarte gebruik om hulle te prys wanneer hulle sukses behaal sodat hulle selfvertroue het teen die tyd dat hulle skool toe gaan.

“Praat ook met jou kind se voorskoolse onderwyser om te hoor hoe hy vaar.” Sy stel voor ouers bring gehaltetyd saam met hul kind deur en praat oor hul gevoelens oor skool toe gaan.

Anel sê ’n kliniese, beradings- en opvoedkundige sielkundige kan toets of ’n kind gereed is. Sy waarsku kinders word dikwels gevra om hul skoenveters vas te maak en te sê hoe laat dit is op ’n tradisionele horlosie. Jy moet seker maak jou kind kan dit doen, al het baie skoene vandag nie veters nie en al is die meeste horlosies digitaal. 

“Help jou kind onafhanklik raak deur hulle aan te moedig om self aan te trek, te eet en badkamer toe te gaan,” sê Susan Holland, ’n arbeidsterapeut van Johannesburg. Hulle moet ook verantwoordelikheid leer deur hul speelgoed weg te pak, self skooltasse in te pak en klein huistake te hê, soos tafel dek en die troeteldiere voer.

“Skep ’n roetine van vroeg gaan slaap voor die skooljaar begin en sorg dat alles gereed is, want ’n deurmekaarspul die oggend van hul eerste skooldag kan jou kind ontsenu.”
Anel Annandale, opvoedkundige sielkundige

Anel stel voor jy woon die skool se oriënteringsdae saam met jou kind by en ontmoet saam met hulle die nuwe onderwyser. “Dis selfs die moeite werd om voor die skooljaar begin ’n paar keer verby die skool te ry sodat hulle kan sien waar hul skool is.” Jy kan hulle ook vooraf wys waar die badkamer en plek is waar jy hulle gaan af- en oplaai, sê Anel. 

“Skep ’n roetine van vroeg gaan slaap voor die skooljaar begin en sorg dat alles gereed is, want ’n deurmekaarspul die oggend van hul eerste skooldag kan jou kind ontsenu.”

SPEEL JOU KIND GEREED VIR DIE GROOTSKOOL

• Handpoppe help kinders om emosies te leer verstaan.
• Legkaarte, inkleur, klei en blokkies is goed vir begrip.
• Buite speel help met hul fisieke ontwikkeling.
• Lees hardop vir jou kind en laat hulle die storie vir jou terugvertel.


Foto: Gallo Images/Getty Images

DIE ROL VAN DIE SPEELSKOOL

“Speelskool is belangrik om kinders sielkundig, fisiek, emosioneel en sosiaal voor te berei,” sê Susan Holland, ’n Johannesburgse arbeidsterapeut. Sy sê kinders behoort heelwat buite te speel en met hul hande te werk.

Hulle moet ook legkaarte bou, basiese vorms leer herken en teken, ’n mens leer teken en basiese kennis oor syfers en letters opdoen.

“Onderwysers moet ook sorg dat kinders kan kommunikeer, lof en kritiek kan hanteer, kan konsentreer en opdragte kan uitvoer.”

WAT AS MY KIND SUKKEL MET DIE AANPASSING?

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Vergader met die onderwyser, skoolhoof en nodige terapeute om ’n oplossing te kry,” sê Keshnie. 

’n Skoolgereedheidstoets kan nuttig wees en sessies by ’n sielkundige kan ook help, sê sy. 

Ouers moet oplet na gevaartekens, soos bednatmaak of veranderings in hul kind se eetlus; dit kan beteken hulle is ongelukkig.

Susan sê dis ’n baie persoonlike besluit om jou kind ’n jaar terug te hou en beveel gesprekke met die onderwyser en terapie aan sodat kenners ’n aanbeveling kan doen.


TOETS SELF JOU KIND 

Sosiale vaardigehede

“Om te begin skoolgaan is ’n groot aanpassing vir kinders, en sosiale vaardighede en onafhanklikheid is belangrik,” sê die Johannesburgse beradingsielkundige Keshnie Lalbahadur. Sy beveel aan dat kinders die volgende onder die knie het:

• Hulle moet aan gesprekke kan deelneem en vrae stel as hulle nie verstaan nie.
• Hulle moet na ander kan luister en gesagsfigure se opdragte uitvoer.
• As hulle wil speel, moet hulle die waagmoed hê om ander maats te vra om saam met hulle te speel.
• Wanneer hulle met iemand vassit, moet hulle weet hoe om die situasie op te los op ’n manier wat nie geweld behels nie.


Fisieke ontwikkeling

“Dit gaan afhang van jou kind se blootstelling, hoeveel oefening hulle al gehad het en hoe sterk hulle is,” sê Susan Holland, ’n arbeidsterapeut van Johannesburg. Sy sê kinders moet die volgende mylpale haal:

• Gemaklik op ongelyke oppervlakke kan hardloop
• Spring
• Bons
• Huppel
• Galop
• Op ’n klimraam klim
• ’n Bal taamlik akkuraat kan gooi en vang
• Tien sekondes lank op een been balanseer
• Tien tree in ’n reguit lyn gee
• ’n Potlood vashou
• Met taamlike beheer inkleur
• Hul naam skryf
• Herken en skryf van 1 tot 10
• Kan knip 
• Self aan- en uittrek

(Artikel uit Huisgenoot 7 Januarie 2016)