Dit klink soos enige huis in Suid-Afrika noudat die skole weer begin het. ’n Seun kom by die huis, roep “Naand, Ma!” en sit sy sak in die voorportaal neer voor hy sy ongemaklike skoene uitskop.

Sy ma antwoord vriendelik terug: “Kos is amper op die tafel!”

Maar dis nie ’n gewone huis dié nie, want hier is die seun, Gys Visser, ’n man van 25 wat nou weer by sy ouers woon – een van die vele volwasse kinders in Suid-Afrika wat ná hul studentejare teruggetrek het huis toe.

So algemeen is die verskynsel dat dit al ’n naam gekry het: die boemeranggenerasie.

Gys, van Pretoria, het pas begin werk as ’n joernalis, maar hy wil eers sy voete vind voor hy op sy eie gaan nesskop.

“My ouers was aanvanklik bly toe ek huis toe trek, want hulle geniet dit om hul kinders naby hulle te hê.

Maar terselfdertyd is daar uitgawes en frustrasies wat hulle onder normale omstandighede nie sou gehad het nie.”

Christian Matthews van Strandfontein buite Kaapstad se drie seuns woon ook by hom in die huis.

Hulle is in hul 20’s. Dat hulle steeds ondersy dak is, is “eintlik ’n bietjie van ’n probleem”, sê hy. Twee van die seuns, Allister (23) en Christopher (24), werk vir die gesin se omheiningsonderneming, terwyl die oudste, Emile-Jon (29), nog studeer.

“Dis nie gesond dat hulle nog by die huis woon nie,” sê hy. “Ek weet dis vandag moeiliker, maar hulle moet op hul eie bene leer staan.”

Die boemeranggenerasie is nie eie aan Suid-Afrika nie. Hoewel geen amptelike syfers hier beskikbaar is nie, wys navorsing wat in 2011 deur die Amerikaanse sensusburo gedoen is die getal Amerikaanse mans tussen 25 en 34 wat by hul ouers woon, het sedert 2005 van 14 tot 19 persent gestyg. 

Vir vroue is die syfer op van 8 tot 10 persent. Die vraag is: Kan dit werk? En wat is die slaggate?

Waarom gebeur dit?

Werkloosheid is die deurslaggewende faktor, sê Richard Sparg, ’n finansiële beplanner by Netto Invest in Kaapstad. Navorsing watverlede jaar deur Statistiek Suid-Afrika bekendgemaak is, wys 33 persent van Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 werk nie en studeer ook nie.

Volgens Richard maak stygende eiendomspryse dit boonop vir jong mense moeilik om van hul ouers onafhanklik te word en hul eie blyplek te kry.

Adrian Goslett, die uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Re/max, beaam dit.

“Jong mense het dikwels klaar te veel skuld. Daarby is beginnersalarisse klein. Dit keer dat baie potensiële huiseienaarshul eie plek kan besit.”

‘Wees geduldig en onthou jou kind se onafhanklikheid is’n proses’

Hy sê talle verbruikers het ook nie die regte profiel om vir lenings in aanmerking te kom nie.

Maar dis nie noodwendig die onbekostigbaarheid van verblyf wat maak dat jong mense terugtrek huis toe nie.

“Party is eenvoudig minder besorg oor eiendomsbesit omdat hulle langer enkellopend is en nog nie kinders het nie.”

Dawie Roodt, ’n aanbieder van die kykNET­program Ontbytsake en ’n ekonoom by die Efficient Group, stem saam: “Kinders is meer individualisties.”

Hy sê jong mense vaar nie noodwendig swakker as in die verlede nie; hul finansiële onafhanklikheid en ontwikkeling is net sowat vyf jaar “agter” die vorige generasie omdat hulle langer studeer.

Shalen Singh, ’n finansiële beplanner by Sanlam in Durban, sê egter kinders wat terugtrek huis toe moet pasop dat hulle nie onnodige druk op hul ouers se aftreegeld plaas nie.

Die slaggate

Kinders wat terugtrek na hul ouers sal nie in alle huishoudings werk nie.

“As die verhouding tussen ouer en kind wankelrig is, kan dit tot probleme lei,” sê Marelize Naumann, ’n bedryfsielkundige van Polokwane. Dit kan veral lol wanneer ouers hul planne moet aanpas om volwasse kinders te huisves, of as geld ’n kwessie is.

“Maar as daar ’n goeie band is tussen die kinders en hul ouers, kan dit werk. Gewoonlik is daar in sulke verhoudings goeie kommunikasiekanale.”

Gys sê praktiese reëlings kan tot konflik ly, en jong mense moet daarop let. Hy moes byvoorbeeld van voor af gewoond raak aan die gesinsopset.

“Voor jy uitgaan, is daar skielik iemand wat wil weet waarheen jy gaan en wanneer jy terugkom.

“Dié besorgdheid is ’n wonderlike voorreg, maar dit voel soms dat jou ouers inbreuk maak op jou privaatheid.”

Die Johannesburgse bedryfsielkundige Jeannette van Dyk sê sulke konflik kan veral moeilik wees vir kinders wat reeds voel dat hulle misluk het omdat hulle nie werk gekry het of op hul eie kan regkom nie en daarom weer by die huis bly.

“Onsuksesvolle werkaansoeke of swak salarisse is teleurstellend genoeg. As die kind boonop huis toe trek, kan dit nog frustrasie en angstigheid ontlok. Dit is ’n traumatiese ervaring.

Hoe lank is te lank?

Die voorligtingsielkundige dr. Adelbert Scholtz sê dis ’n billike verwagting dat jou kind uittrek sodra hy ’n redelike salaris verdien en dit kan bekostig om sy eie blyplek te kry.

“En as die saambly-reëling lei tot gedurige konflik, moet julle dit ook heroorweeg.”

Die bedryfsielkundige Marelize Naumann sê vyf jaar behoort die maksimum te wees.

“Dit behoort enige mens genoeg tyd te gee om sy voete te vind.”

Maak seker dit werk

Kenners is dit eens: Daar moet reëls wees. Marelize, Jeannette en die voorligtingsielkundige dr. Adelbert Scholtz gee die volgende wenke vir ouers:

  1. Bepaal ’n sperdatum. “Praat met jou kind,” sê Marelize, “en hoor hoe lank hulle in die huis wil bly. Besluit dan saam hoe lank dié reëling gaan duur, of wanneer julle dit gaan heroorweeg,” sê sy. Jeannette stel voor daar moet saam besluit word op die reëls en wedersydse verwagtinge.
  2. Laat jou kind huur betaal. “As hulle geld verdien, moet hulle betaal, al is dit min,” sê Adelbert.
  3. Betrek jou kinders by huistake en gee hulle verantwoordelikhede. “Verdeel dit per week, en sê die kind moet byvoorbeeld twee maal per week kos maak of sy jonger broers en sussies help oppas.
  4. Help jou kind verstaan dat hulle alle werkgeleenthede moet oorweeg. “Almal moet iewers begin,” sê Marelize. “Al is dit dalk nie jou kind se droomwerk nie, moet hy steeds geen moeite ontsien om wel êrens ’n pos te kry nie. Moet ook nie die soekwerk vir hulle doen nie,” sê Jeannette.
  5. Respekteer mekaar. Ouers moet onthou dat hul kinders volwassenes is en ’n reg op ’n eie lewe het, sê Adelbert, terwyl kinders moet onthou dat hulle in hul ouers se huis woon en hul reëls moet respekteer. 

Help jou kind so onafhanklik raak
“Wanneer jy sien jou kind wil nie die huis verlaat nie, moet jy ferm optree,” sê die Johannesburgse bedryfsielkundige Jeannette van Dyk. 

Sy gee die volgende raad:

1. Pasop dat jy dit nie so gerieflik vir jou kind maak dat dit vir hom voel hy woon in ’n hotel nie. As jou kind byvoorbeeld nie hou van die kos wat jy maak nie, moet hy met sy eie geld iets anders gaan koop.

2. Laat jou kind sy eie petrol-, selfoon-, internet- en ander persoonlike uitgawes dek. As jou kind dit nie kan bekostig nie, sal hulle sonder dié luukses oor die weg moet kom. As jou kind vriende wil oornooi, moet hy self sorg vir die eet- en drinkgoed.

3. Moenie ingryp en al jou kind se finansiële probleme oplos nie. “Jy kan help met noodsaaklike uitgawes," sê Jeannette, maar leer eerder jou kind begroot en help hom om daarby te hou. “Onthou altyd jou eie aftreegeld bly ook ’n prioriteit.”

4. Moenie toelaat dat jou kind jou laat skuldig voel en manipuleer om vir onnodige goed te betaal nie. “As probleme opduik, bespreek dit dadelik,” sê Jeannette. “Dit sal keer dat kwade gevoelens broei. Wees geduldig en onthou jou kind se onafhanklikheid is ’n proses en gaan nie oornag gebeur nie." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.