Dit het as ’n eenvoudige plan begin om die onfikse kinders in haar skool aan die beweeg te kry. Maar toe die oefensessie van net 15 minute per dag indrukwekkende resultate oplewer, het dit gou tot ander skole en selfs ander lande oor die aardbol heen uitgekring.

Elaine Wyllie was as skoolhoof van ’n laerskool in Skotland bekommerd dat haar leerders te min oefening kry, veral nadat ’n sportafrigter gekla het die kinders is onfiks.

“En as hulle nie fiks is in hul laerskooljare nie, hou dit niks goeds vir hulle in die toekoms in nie,” het die afrigter gesê.

Dieselfde middag het Elaine ’n klas gevra om ’n rondte om die sportveld te hardloop.

“Teen die einde was die meeste van hulle dubbeld gevou en het miltsteek gehad,” vertel sy.

“Dit was skokkend.”

Sy het toe ’n reël gemaak: Die leerders moes elke dag 15 minute lank op die speelterrein rondtes hardloop of stap.

’n Maand later kon byna al die kinders aan die St. Ninian-laerskool in Stirling, Skotland, 15 minute draf sonder om hygend vas te steek. Dit was die begin van die “Daily Mile” soos dié kort maar kragtige oefensessie bekend staan.

Vandag, ses jaar later, het dié projek na meer as 3 600 laerskole in 35 lande versprei – van België en Kroasië tot Kanada en Australië.

In Suid-Afrika, waar vetsug en oorgewig onder kinders kommerwekkende afmetings aanneem, word ’n Daily Mile-loodsprogram nou by drie skole in Mahikeng, Johannesburg en Pretoria gevolg.

Hulle het ontdek oefening is nie ’n straf nie.

Volgens die jongste Suid-Afrikaanse demografiese-en-gesondheidspeiling is 13% van ons kinders oorgewig of vetsugtig – meer as dubbel die wêreldwye gemiddelde van 6%.

Te oordeel na ’n onlangse ondersoek kan ’n kort daaglikse oefensessie wondere verrig vir onfikse kinders wat dikwels ook oorgewig is.

Navorsers het 391 kinders aan twee laerskole in Skotland gemonitor nadat hulle met die Daily Mile begin het. Hulle het gevind die kinders kon ná sewe maande in dieselfde tyd 5% verder hardloop.

Hulle het ontdek oefening is nie ’n straf nie, en laat jou goed en lewenslustig voel.

Hoe vroeër kinders ’n gesonde leefstyl aanleer, hoe beter, meen kenners.

Oorgewig kinders “het ’n baie skrale kans om slank te word wanneer hulle ouer is”, waarsku prof. Alta Schutte van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

“As jy as kind vetsugtig is, verhoog die algehele aantal vetselle in die liggaam, en dit bly dieselfde namate jy ouer word. Skraal kinders het minder vetselle; daarom het hulle ’n veel groter kans om slank te bly wanneer hulle ouer word,” verduidelik sy.

“Oortollige liggaamsgewig is ’n reuseprobleem wêreldwyd en veral in Suid-Afrika – ons verdrink op die oomblik,” sê Alta.

Suid-Afrika het die hoogste oorgewig- en vetsugsyfer in Afrika: ’n Verbysterende 70% van Suid-Afrikaanse vroue weeg meer as wat gesond is vir hul lengte.

As ons die probleem al vroeg in ’n kind se lewe takel, kan dit help keer dat Suid-Afrika se vetsugsyfers verder styg, meen Alta.

Maar hoe lok jy jou kinders van die rusbank weg en sorg dat oefening ’n deel van hul daaglikse lewe word?

Hoeveel oefening het kinders nodig?

Voorskoolse kinders (van drie tot vyf jaar) moet altesaam drie uur per dag fisiek aktief wees, sê Nadia Greyling van die Trifocus Fitness Academy in Johannesburg, wat opleiding aan fiksheidsinstrukteurs bied.

Dié drie uur moet deur die dag versprei word en aktiwiteite soos hardloop en spring insluit.

Ses- tot 12-jariges moet minstens ’n uur per dag fisiek aktief wees. Vir die grootste deel daarvan moet hulle matige tot kragtige aërobiese oefening doen, soos vinnig stap, fietsry of rugby, sokker of netbal speel.

Hulle moet ook minstens drie dae per week aan aktiwiteite deelneem wat hul spiere en beendere versterk, soos opstote en boomklim.

Só kan onderwysers help
  • “Onderwysers kan ’n alarm op hul foon stel vir ’n daaglikse ‘oefenoomblik’ wanneer almal in die klas opstaan en sterspronge doen of vyf minute op die plek draf,” stel die fiksheidsinstruktrise Nadia Greyling voor.
  • En as die onderwyser meedoen, is dit nog groter pret.

Maak dit pret

Ouers kon vroeër vir hul kinders sê: “Gaan ry met jou fiets om die blok” of “Hardloop gou winkel toe”. Maar vandag is dit ’n ander storie weens kommer oor hul veiligheid op straat.

“Tog is daar talle parke waar ’n mens kan hardloop, stap, op apparate speel en fietsry,” sê Nadia.

Klimrame en boomklim bied uitstekende oefening om hul beendere te versterk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Laat kinders aan fietsrykompetisies of kindervriendelike wedlope soos Parkrun deelneem, of sluit by ’n klub of gim aan waar julle saam kan oefen, is haar raad aan ouers.

In jou huis kan jy op ’n prettige manier sorg dat hulle oefening kry.

“Speel jou kinders se gunstelingliedjies en hulle sal in ’n japtrap begin dans,” gee Nadia raad.

Simon McQueen van Kaapstad, die skepper van die fiksheidsprogram Fit Kids, raai ouers aan om self mee te doen “en minstens te lyk asof hulle dit geniet”.

“Jong kinders waardeer hul ouers se aandag, en as jy ’n positiewe houding teenoor oefening by hulle wil kweek, moet jy dit ook aandurf,” sê Simon.

Ouers word aangeraai om mee te doen. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Laat hulle speel-speel oefen

  • Speel volg-die-leier met jou kinders wat jou bewegings naboots, of hou diere-wedlope waarin julle almal soos ’n hasie hop of soos ’n perd galop.
  • Kussinggevegte bied uitstekende kardio-oefening.
  • Speel stoot-die-ouer-om. Plant jou voete stewig op die grond en vra jou kinders om jou te probeer omstoot.
  • Laat borrelplastiek bars. Sit ’n laag borrelplastiek op die grond neer en laat die kinders daarop spring tot al die borrels gebars het.
  • Die brug. Laat jou kinders op hul rug lê met hul knieë gebuig en voete plat op die vloer. Laat hulle hard op hul hakke druk om hul boude van die vloer te lig terwyl hul kop en skouers op die grond bly. Maak dié oefening van die kernspiere versterk pret – kyk of hulle dié posisie kan behou terwyl jy tot 20 tel. Gee hulle ’n beloning as hulle dit regkry.
  • Die Superman. Laat hulle op hul maag lê en hul arms en borskas van die grond lig. As hulle vorder en hul voete van die grond kan lig, kry hulle ’n prys.
  • Klimrame en boomklim bied uitstekende oefening om hul beendere te versterk, maar hier is ’n klompie wat jou kinders binnenshuis kan doen:
    Opstote met die knieë op die vloer. Sê hoeveel daarvan hulle moet doen, en beloon hulle wanneer hulle dié teiken behaal.
    Gimnastiek. Jy hoef nie jou kinders vir ’n klas in te skryf nie – omskep die sitkamer of tuin in ’n hindernisbaan. Laat ’n sterk plank op twee stoele rus en sit ’n ou matras of kussings daar onder neer. Die kinders moet dan oor die plank loop sonder om hul balans te verloor. Laat hulle op die rusbank bollemakiesie slaan en in die lug opspring wanneer hulle klaar is. Soek ’n sterk boomtak uit en laat hulle daaraan hang; kyk hoe hoog hulle hul bene kan swaai.

Span tegnologie in

Oorweeg dit om vir jou kinders ’n draagbare aktiwiteitsmonitor as verjaardag- of Kersgeskenk te gee.

Dié toestel, wat vanaf R400 te koop is, wys hoeveel treë hulle elke dag gee. Die jongklomp se liefde vir tegnologie sal hulle aanvuur om aktief te bly.

BRONNE: THEGUARDIAN.COM, HEALTH24.COM, MOMMYPOPPINS.COM