Jy het gereeld gespog met jou kind se goeie geaardheid – altyd ’n glimlag, nooit dikbek nie, het jy trots gedink. Maar namate die weke van die inperking verbysleep, word jou eens rustige kind ’n warrelwind van emosies.

Een oomblik lag sy; die volgende oomblik is sy tranerig. En waar kom die woedebuie skielik vandaan? Ontspan, sê die kenners. Onthou maar net hoe moeilik hierdie inperking tuis soms vir jou as ’n volwassene is.

Dit is selfs swaarder vir kinders, wat nog nie behoorlik toegerus is om ingewikkelde emosies te verstaan of te verwoord nie. Hulle mis hul maats en uitstappies, raak gefrustreerd omdat hul ouers heeltyd tuis moet werk . . . Kortom, hul wêreld het drasties verander.

Wat kan jy as ouer doen om dinge in hierdie moeilike en vreesaanjaende tyd makliker te maak en konflik te verminder? Hoe kan jy hulle help om hul emosies te bestuur – en sodoende self minder magteloos voel? Hoe benader jy jou peuter anders as haar tienerboetie?

Hier is die kenners se wenke om jou kinders emosioneel by te staan in hierdie era van die coronaviruspandemie.

AANVAAR JOU KINDERS SE EMOSIONELE WIPPLANK

As volwassene moet jy eerstens jou kinders wys jy weet hulle trek emosioneel swaar, sê Jasmin Kooverjee, ’n kliniese sielkundige aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

“Kinders kan maklik oorweldig voel en dus buierig en huilerig raak en meer vloermoere gooi as gewoonlik,” sê sy. “Bly geduldig en toon empatie met jou kind sodat hulle voel hulle word raakgesien.”

Jonger kinders maak staat op hul ouers om hulle te help om hul emosies te verstaan, sê Lisa Saville Young, ’n kliniese sielkundige en medeprofessor aan die Rhodes-universiteit.

Probeer nuuskierig wees eerder as om hul gedrag te beoordeel, sê sy. Wees oop en probeer hul aksies verstaan, want dit lei tot ’n beter begrip van wat hulle voel – en dit kan konflik laat afneem.

WEES EERLIK EN REGUIT OOR DIE VIRUS

Kinders neem dinge waar – of dit nou vanweë die televisienuus of grootmense se gesprekke is. Moet dus nie vir hulle jok oor COVID-19 nie.

“Dis belangrik om die pandemie in eenvoudige taal vir jou kinders te verduidelik, afhangend van hul ouderdom en ontwikkelingsvlak,” sê die onafhanklike Kaapse arbeidsterapeut Nasreen Cariem.

“Die meeste kinders is nou reeds bewus van die virus en ervaar dalk angstigheid daaroor.” Begin deur te vra wat jou kind omtrent die situasie verstaan.

Byvoorbeeld: “Baie mense praat van die coronavirus. Weet jy wat dit is?” Of: “Jy het seker agtergekom Mamma werk van die huis af. Weet jy hoekom?”

Verduidelik dan in ’n kalm en gerusstellende stemtoon dat die lewe nie altyd so vreemd sal wees soos nou nie. Kleuters het sterk leiding nodig, maar jy moet ook met jou ouer kinders praat om hulle te help om die situasie beter te verstaan.

“Dis belangrik om saam met hulle deur die proses te gaan – hoe die virus opgedoen word, hoe besmetting voorkom kan word en wat die gevolge van die virus is,” sê Nasreen. 

Visuele hulpmiddels in die huis, soos prente en boodskappe, kan gebruik word om kinders te herinner om hul hande gereeld te was en nie aan hul gesigte te vat nie.

“Jy as ouer moet ’n rolmodel wees en goeie higiëne beoefen. Sodoende sal die kinders jou voorbeeld volg. Dis ook belangrik om kalm te bly – die huis moet ’n toevlugsoord in ’n chaotiese wêreld wees.”

kinders,ondersteuning
Foto: Gallo Images/Getty Images

HOE GEMAAK MET KINDERS TUSSEN TWEE EN VYF JAAR?

Dis veral moeilik vir hierdie ouderdomsgroep om te verstaan hoekom hul ouers deesdae heeldag tuis moet werk. Vroeër was die tyd ná die werkdag op kantoor mos speel- en gesinstyd.

Sulke jong kinders sukkel om hul emosies te verwoord en kan gevolglik dalk meer tot vloermoere neig, maan Jasmin. “Wanneer ouers hierdie gedrag opmerk, moet hulle die kinders troos en gerusstel pleks van hulle straf,” sê Jasmin.

“Laat hulle hul gevoelens in ’n nieverbale manier uitdruk, soos om ’n prentjie te teken.”

Vra hoe hulle voel en luister werklik na hul antwoord. Sê vir hulle wat jy doen om dinge beter te maak.

Byvoorbeeld: “Ek weet jy mis vir Ouma en is teleurgesteld dat ons nie by haar kan gaan kuier nie. Wat van ’n video-oproep saam met haar?”

Moenie kinders afjak of ignoreer wat met jou wil praat terwyl jy moet werk nie. Verduidelik eerder die situasie: “Ek praat op die oomblik met kollegas op die rekenaar. Kan ons praat nadat jy jou legkaart klaargemaak het?”

Maak net seker jy doen dit wel later, anders is die kind se vertroue verbreek. En volg sover moontlik ’n roetine. Vasgestelde tye vir opstaan, tande borsel, eet en slaap gee aan kinders ’n gevoel van normaliteit.

WERK SO MET KINDERS TUSSEN SES EN 10 JAAR

Kinders in hierdie ouderdomsgroep kan al uiting gee aan hul gevoelens. Maar hulle sal dalk hulp benodig om te verstaan dat alle emosies aanvaarbaar is – selfs dié wat hulle bang maak, sê Lisa.

“Dit is belangrik dat jou kind voel jy oordeel nie hul emosies nie,” sê sy. Moedig kinders aan om hulself besig te hou sodat jy kan werk, maar skep ook gehaltetyd waartydens jou kind jou volle aandag geniet.

En dit is ewe belangrik om ook tyd vir jouself te maak, “al moet jy hulle dan toelaat om te mors of televisie te kyk. Jy hoef nie heeldag vir jou kinders beskikbaar te wees nie.”

Jasmin sê daar is drie reëls vir ouers om te verhoed dat kinders in hierdie ouderdomsgroep oorweldig voel:

  • Reguleer. Help jou kind om ’n geskikte vlak van emosie te bereik. Gaan tot op hul vlak, hou hulle vas as hulle jou toelaat, en bly kalm en sag met lyftaal wat hulle laat weet dis ’n veilige en liefdevolle ruimte. Help hulle om diep asemteue te neem om hul asemhaling- en hartklopspoed te laat afneem.
  • Vind aanklank. Gebruik kort sinne en sê vir hulle jy verstaan wat hulle deurmaak. Sê iets soos: “Ek kan sien jy’s gefrustreerd. Dit moet moeilik wees om nie nou jou vriende te sien nie.”
  • Vra uit. Knoop ’n gesprek aan wanneer die kind kalm is en vind uit of hulle hul aksies en gevoelens verstaan. Vra dan wat hulle van jou benodig. Betoon empatie en gee erkenning aan dit wat hulle deurmaak.

TAKEL JOU TIENERS SE INPERKINGsKOORS

“Dis maklik om te vergeet tieners ontwikkel nog, veral die vermoë om goed na te dink oor wat hulle doen voor hulle dit doen. Jy moet realistiese verwagtings hê,” sê Lisa.

“Jou tiener is dalk in ’n grootmenslyf, maar hul brein ontwikkel nog. Impulsiwiteit en reaktiwiteit is moontlik. Dis belangrik dat jy kalm bly en hulle help om die gedagtes en gevoelens agter hul optrede te deurdink.”

Dis ook belangrik om seker te maak hulle kyk na die televisienuus oor die pandemie en om met hulle te gesels oor betroubare inligtingsbronne. Maar beperk die tyd wat hulle nuus kyk sodat COVID-19 nie allesoorheersend of ontstellend raak nie.

Tieners lyk dalk asof hulle alleen wil wees, maar hulle benodig ook gehaltetyd saam met jou – solank dit nie te oorweldigend is nie. “Die geheim is dat hulle nie moet voel asof hulle onder ’n mikroskoop is nie,” sê Lisa.

“Probeer om elke dag tyd vir positiewe interaksie met jou tiener te maak. Julle kan byvoorbeeld saam kook, bak of na ’n televisiereeks kyk. Hulle sal meer geneig wees om hul gevoelens met jou te deel tydens sulke daaglikse positiewe interaksies.” 

EKSTRA BRON: RAISINGCHILDREN.NET.AU