Jy het hulle albei ewe lief, maar hulle verskil hemelsbreed. Terwyl die een teruggetrokke en dikwels ingedagte is, is die ander op sy gelukkigste tussen vriende en reg om enige avontuur aan te pak.

Hoe hou ’n ouer huis met ’n introvert en ekstrovert in dieselfde kroos?

Nie net verskil hul voorliefdes en behoeftes soms hemelsbreed nie; ook hul reaksies verskil wanneer jy hulle dieselfde opdrag gee, aan ’n ervaring blootstel of dissiplineer. 

Vra maar vir Theresa Venter, ’n ma van drie van De Rust in die Klein-Karoo. “Dinge soos dissipline was maklik met ons middelkind,” gesels sy oor die introvert, Stephan (nou 26).

"Wanneer hy iets verkeerds gedoen het, kon ons met hom praat en sê dis verkeerd en ons is teleurgesteld. Dan het hy dit nie weer gedoen nie. Maar met ons ander twee moes ons kreatiewe strawwe uitdink.” 

In navorsing is bevind intro- en ekstroverte se brein het verskillende neurologiese weë en dra seine anders oor

Stephan was gek oor rekenaarspeletjies, terwyl Janneman (21) en Carla (28) liewer by maats wou kuier of winkel toe gaan.

“Dit was vir ons belangrik dat Stephan sosiale vaardighede aanleer,” vertel Theresa.

“Hy moes byvoorbeeld altyd gaste se blad skud wanneer hulle kom kuier. Die ander twee moes leer om soms rustig te wees en hulself besig te hou.”  

Theresa en haar man, Jan, die eienaars van ’n gastehuis, het ook toegesien dat die gesin dinge saam doen, selfs al het die een kind dit meer geniet as die ander.

“Dis was soms moeilik,” vertel Theresa, “want hulle sou kla of soos kat en hond baklei, maar vandag is ons steeds ’n baie gehegte gesin.

“Ek dink dis omdat ons soveel saam gedoen en verseker het elke kind se behoeftes word in ag geneem.” 

Dis nie net intro- en ekstroverte se persoonlikheid wat verskil nie; hul brein is as’t ware verskillend bedraad. “In navorsing is bevind intro- en ekstroverte se brein het verskillende neurologiese weë en dra seine anders oor.”

Huisgenoot het by kenners raad gevra oor hoe ouers kan sorg hulle tree konsekwent regverdig maar ook aanpasbaar op wanneer hul intro- en ekstroverte kinders uiteenlopende soorte aandag kort. 

INTROVERT OF EKSTROVERT?

Moenie bloot aanvaar ’n skaam kind is ’n introvert en ’n spontane een ’n ekstrovert nie, sê Alma de Wet, ’n arbeidsterapeut van Pretoria.

“Die verskil tussen intro- en ekstroverte is geleë in waar hulle hul ‘energie’ vandaan kry,” meen sy. Introverte voel verfris wanneer hulle tyd op hul eie deurbring en ekstroverte wanneer hulle deur mense omring word.

Foto: Gallo Images/Getty Images

In haar boek Kweek Kinders met Karakter verdeel die spraakterapeut Hettie Brittz kinders in vier persoonlikheidstipes aan die hand van boomsoorte: Die palm- en roosbome is die ekstroverte en die sier- en dennebome die introverte.

Roosbome is dinamies en het ’n sterk wil, terwyl palmbome energiek en positief is, verduidelik sy oor ekstroverte.

“Sierbome is perfeksionisties en sensitief. Jy kan gewoonlik sommer op hul gesig sien wanneer iets fout is.

“Dennebome is stil, aanpasbaar en tevrede,” beskryf sy die introverte.

JY EN JOU EKSTROVERTE KIND

Die ekstroverte kind het gewoonlik baie maats, geniet groepaktiwiteite, is geneig om impulsief te wees en gesels graag. Maar dit beteken nie hulle sal noodwendig oor hul gevoelens wil praat nie.

“Die een soort, ’n roosboom, het nie tyd vir emosies nie en sal geïrriteerd raak as jy hulle vra hoe hulle voel,’’ sê Hettie.

"Die palmboom sal maklik oor positiewe emosies praat, maar dalk sukkel om negatiewe emosies te verwoord omdat hulle so positief ingestel is.” 

‘Herinner jou kinders daaraan dat almal verskillend is’

As jou ekstroverte kind nie maklik sy gevoelens kan uitdruk nie, stel Hettie voor jy maak ’n stelling soos: “Ek sien jy wil nie speel nie,” pleks van om te vra: “Hoekom is jy hartseer?”

Alma beaam: “Ons moet hulle die geleentheid gee om met ons oor hul wêreld en emosies te gesels. Dis hoe hulle hul gedagtes orden en ook waaruit hulle energie put.”

Daarom moet ekstroverte onder ’n ouer se wakende oog die ruimte gegun word om die wêreld te verken en aan spansporte deel te neem.

Ekstroverte is soms geneig om ’n geselskap te oorheers, waarsku Hettie.

Daar moet ouers hulle leer om te luister en te praat wanneer dit hul geselsbeurt is.

Hoe gemaak as jy die introverte ouer van ’n aktiewe babbelkous van ’n ekstrovert is? Vir so ’n ouer kan ’n ekstroverte kind soms uitputtend wees.

Alma stel voor jy leer sulke kinders om soms tyd alleen deur te bring.

“Moet net nie aan hulle voorskryf wat om in daardie alleentyd te doen nie,” maan sy. 

JY EN JOU INTROVERTE KIND

Introverte kinders bring dikwels die meeste van die tyd alleen deur of saam met mense wat baie na aan hulle is, soos ’n handjie vol goeie maats. Hulle kan skoon meegevoer raak deur hul eie idees en drome en word dikwels beskryf as sensitief, skaam en menssku.

Maar dié kinders het nie noodwendig ’n swak selfbeeld of min selfvertroue nie, sê Alma. Wanneer jy met jou introverte kind oor sy of haar gevoelens wil gesels, moet jy liewer langs hulle gaan sit, stel Hettie voor.

’n Introvert sal ’n uitstappie na ’n pretpark moontlik minder geniet as ’n ekstrovert, maar doen dit nogtans saam as ’n gesin. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Moenie oorkant hulle sit of te veel oogkontak maak nie, want hulle kan geïntimideer voel. Waak daarteen om iets te sê soos: ‘Jy het niks om oor hartseer te wees nie.’

”As die ouer ’n ekstrovert is wat vinnig praat, moet hulle hulle daarop voorberei om rustig met ’n introverte kind te gesels. Begin met ’n stelling soos: 'Dit was nou ’n wilde dag, nè?' ” stel Hettie voor. As jou introvert nie daaroor wil gesels nie, los dit tot later. 

Wanneer jou introverte kind iets aanpak waarvan hulle dalk nie sal hou nie, soos om aan spansport deel te neem, berei hulle daarop voor.

“My reël is as jy met ’n spansport begin, moet jy minstens daardie kwartaal voltooi,” sê Hettie.

Sê dit vooraf vir hulle. Sommige introverte kan mismoedig raak wanneer ’n span verloor; hulle wil die ‘fout’ soek. As hulle nie aan spansport wil deelneem nie, stel iets soos tennis of gholf voor.”

As jou kind sukkel om maats in ’n nuwe skool of omgewing te maak, vra hom of haar om iemand te kies en reël dan dat die kind by julle kom kuier, is Alma se raad.

Betrek ook jou introverte kind by gesinsaktiwiteite. Sorg dat so ’n kind nie uitgesluit voel nie.

“Gee hulle ook ’n spreekbeurt aan die etenstafel. As hy sien die ander gesinslede praat maklik oor hul gevoelens, sal hy ook makliker daaroor praat,” sê Alma. 

SAAM ONDER EEN DAK

Gesels met jou kinders oor hoe hul behoeftes verskil sodat hulle hulself en die ander gesinslede beter kan verstaan, sê Alma. Die ekstrovert moet byvoorbeeld leer ander mense het dalk meer tyd op hul eie nodig.

Laat elke kind ’n lysie maak van die dinge waarvan hulle hou en nie hou nie, stel Hettie voor. “Sê dan: ‘Ons wil mekaar nie ongelukkig maak nie. Luister dus mooi waarvan jou boetie of sussie nie hou nie.’ 

“Herinner hulle daaraan almal is verskillend, maar omdat ons lief is vir mekaar, doen ons dinge vir die ander lede van ons gesin.”

Ouers moet gesinsuitstappies so reël dat dit nie ondraaglik is vir enige lid van die gesin nie, sê Alma, “maar moenie kwaad word as jou introvert nie mal was oor die dag by die waterpark nie”. 

WAT VAN DISSIPLINE?

Party introverte reageer goed wanneer jy met hulle praat en verduidelik wat hulle verkeerd gedoen het, maar met ekstroverte help praat nie altyd nie, meen Hettie.

Vat liewer jou ekstroverte kind se selfoon af vir ’n week – en nie net ’n aand nie – “as jy regtig wil hê die straf moet insink”, sê sy. Dit sal ook vir ’n ekstrovert ’n straf wees as hy of sy nie meer by ’n maatjie mag gaan speel nie.

Om kinders van voorregte te ontneem kan goed met introverte werk, meen Hettie.

“Sommige introverte se gemak is vir hulle baie belangrik. As hulle byvoorbeeld in die sitkamer mors, straf hulle deur te sê hulle mag nie op die bank lê nie, maar moet kiertsregop sit en TV kyk,” sê sy. 

Vir introverte is dit geen straf om bloot na hul kamer gestuur te word nie, sê Hettie, terwyl ekstroverte dit wel as ’n straf kan ervaar. As introverte die kamerdeur moet oophou sodat hulle nie privaatheid het nie, is dit wel ’n straf.

Sorg dat elke kind verstaan hoekom hy gestraf word en hoekom hy daardie straf kry sodat hulle hulself nie met mekaar vergelyk en dink jy tree onregverdig op nie.