Matrieks landwyd gaan binnekort juig oor hul skooljare wat eindelik verby is, maar nie almal is seker oor die pad vorentoe nie. 

Net so is daar baie jong mense wat klaar is met naskoolse opleiding en sukkel om werk te kry of 'n blaaskans wil neem voor hulle 'n loopbaan aanpak. Vir almal is dit 'n tyd van groot besluite.

Een opsie om tyd te wen voor jy finaal besluit watter rigting jy wil inslaan, is om 'n oorbruggingsjaar te neem en oorsee te gaan werk.

Daar is talle opsies om uit te kies. Ons het kenners raad gevra om jong mense en hul ouers te help met dié besluit.

“'n Oorbruggingsjaar was in 'n stadium 'n jaar om te ontspan en dalk 'n bietjie te reis,” sê Carol  Millar, 'n loopbaanafrigter van Kaapstad.

Maar sy meen dié neiging het verander. “Dit is nou 'n jaar wat deeglik beplan word en meer gefokus is. Jong mense begin agterkom hulle moet werk- en lewenservaring op hul CV hê. Hulle besef dat net 'n graad of 'n kwalifikasie nie meer genoeg is om jou van 'n werk te verseker nie,” sê sy.

'n Oorbruggingsjaar oorsee is ook 'n uitstekende geleentheid om geld te maak, sê Jessica Gould, projekbestuurder van Gap Year South Africa.

Wanneer moet jy dit doen?

Jessica het 'n oorbruggingsjaar gedoen nadat sy haar studie in die rolprentwese voltooi het. “Om die jaar ten volle te benut, moet jy dit doen voor jy gaan studeer,” is haar raad vandag. 

“'n Mens ontdek baie nuwe dinge oor jouself in daardie tyd weg van die huis af, en jy leer nuwe vaardighede. Dit help jou om vas te stel wat jy graag wil studeer. As ek my oorbruggingsjaar voor my studie gedoen het, sou ek eerder bemarking of vir 'n graad in sakebestuur studeer het,” sê Jessica.

Carol, daarenteen, meen daar is nie noodwendig 'n regte of verkeerde tyd nie. “Die eintlike vraag is: ‘Wanneer is dit juis vir my die beste tyd om 'n oorbruggingsjaar te doen?’ Jy moet verskeie faktore in gedagte hou, soos of die universiteit waar jy graag wil studeer dit sal toelaat dat jy jou studie vir ’n jaar uitstel.”

Sy sê dit hang ook daarvan af of jy geld moet verdien sodat jy vir jou studie kan betaal. “Besluit wat jou doelwit met die jaar is: Wil jy iets nuuts leer, wil jy uit 'n gemaksone kom, wil jy oor ander kulture leer of wil jy geld maak?”

Wat is die voordele?

'n Oorbruggingsjaar gee vir jong mense die geleentheid om meer volwasse te raak en hulle kry 'n nuwe uitkyk op die lewe, want hul ervaringswêreld verbreed, meen Carol.

“Jy kry die geleentheid om verskillende mense te ontmoet, onafhankliker te raak en meer verantwoordelikheid te hê.”

Dit kan voordelig wees om tydens jou oorbruggingsjaar iets te doen in min of meer dieselfde rigting as die beroep wat jy oorweeg. “Dan voeg die praktiese ervaring waarde toe tot jou CV. Dit kan nuttig wees as jy eendag vir werk aansoek doen,” sê Carol.

Wat is die moontlikhede?

Werk as ’n kinderoppasser

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wanneer jy as kinderoppasser (au pair) werk, woon jy minstens 'n jaar by 'n gesin. Jy word deel van dié gesin se daaglikse roetine.

Jy moet minstens matriek voltooi het en tussen 18 en 26 jaar oud wees, en jy moes al voorheen met kinders gewerk het, verduidelik Karen Pretorius, bestuurder van die werkendevakansies-afdeling van die reisagentskap STA Travel.

Die vereistes verskil van land tot land, maar jy hoef nie amptelike opleiding te hê nie, sê Carla Verster, hoof van Carla’s Au Pairs. 

Jy moet net ervaring hê, soos dat jy kinders opgepas het of vrywillige werk by ’n kleuterskool gedoen het, en geldige verwysings vir dié ondervinding.

“Wanneer jy in Amerika as au pair werk, kan jy sowat R2 800 per week verdien.

En onthou, jou lewenskoste word gedek; daarom kan jy basies die geld gebruik soos jy wil,” sê Karen.

Suid-Afrikaners kry geleenthede om in lande soos Nederland, Italië, Frankryk, Duitsland en België as kinderoppasser te gaan werk. Au pairs in Europa kan tussen R5 000 en R7 000 per maand verdien, sê Carla, maar dit hang ook af van waar jy werk.

Verskeie au pair-agentskappe in Suid-Afrika kan jou help om uit te vind oor geleenthede. Van die agentskappe bied ook 'n oriënteringskursus aan voor jy as au pair begin werk. 

Een van die voordele is dat jy in sommige lande by 'n gemeenskapskollege kan studeer terwyl jy as au pair werk. “Jy beleef 'n nuwe kultuur deur deel te wees van 'n gesin en jy is deel van iemand se grootwordjare, wat baie spesiaal is,” sê Carla.

“Jy kry ook geleenthede om te reis, en van die gesinne vat die au pairs saam op luukse vakansies,” sê Carla.

Een van die grootste nadele is dat jy huis toe kan verlang wanneer jy vir so ’n lang tyd weg is en in 'n nuwe kultuur woon en werk.

“Dit is belangrik om nie die verkeerde verwagtings te hê nie. Jy gaan reis en geld verdien, maar jy gaan ook hard werk – en om met kinders te werk kan baie moeilik wees,” maan Carla.

Werk op 'n seiljag

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Dit is ’n baie winsgewende geleentheid. Volgens mense wat dit al gedoen het, kan jy tot €10 000 (sowat R165 000) in drie maande verdien,” sê Karen.

Jou take wissel van skoonmaak en instandhoudingswerk op die seiljag tot om na gaste om te sien.Om dié soort werk te kry kan 'n duur en moeilike proses wees, want jy moet vooraf sekere opleidingskursusse voltooi, soos 'n basiese matrooskursus oor arbeid op 'n seiljag. 

Van die vereistes is ook dat jy tussen 20 en 29 jaar oud is, Engels kan praat, goed kan swem en fiks en “goed versorg” is, lui een advertensie.

Volgens Karen klim 'n mens gewoonlik in Nice, Frankryk, op 'n seiljag nadat jy die nodige kursusse voltooi het. 

“Daarna is die geleenthede eindeloos. Van die seiljagte reis tot by die Karibiese Eilande; ander vaar in die Middellandse See aan die kus van Spanje, Griekeland of Noord-Afrika.”

Jy kan by 'n reisagentskap of plaaslike seiljagagentskap nog inligting kry oor werkgeleenthede op seiljagte en die nodige kursusse.

Besoek ook statravel.co.za of southafricanyachties.co.za. 

Werk as 'n passasierskipfotograaf

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

As jy van fotografie hou, kan jy as fotograaf op 'n passasierskip tot R16 000 per maand verdien, sê Karen. Maar jy moet eers 'n fotografiekursus van twee tot drie weke voltooi voor jy op skepe kan begin werk.

Volgens Karen is een van die voordele dat jy nuwe kulture gaan ervaar en dikwels nuwe lande besoek.

“Die res van die bemanning gaan jou tweede familie word. Boonop sal jy lewenslange vriendskappe vorm omdat jy ses maande lank saam met daardie mense gaan werk.”

Sy waarsku wel die lang tye ter see kan uitputtend wees. 'n Mens kan by 'n reisagentskap navraag doen oor geleenthede.

Gee Engels

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dis baie gewild en ál meer Suid-Afrikaners gaan doen dit eerder in Asië as in Europa, volgens Juli Horvath-Levington, bestuurder van die Tesol Suid-Afrika (Teaching English to Speakers of Other Languages) opleidingsinstituut in Kaapstad, wat studente oplei om in ander lande Engels te gee.

“Omdat so 'n groot vraag bestaan, is dié lande toegeefliker met vereistes vir Engelsonderwysers,” sê Juli. “Lande soos China, Thailand en Viëtnam raak baie gewild onder mense wat 'n oorbruggingsjaar ná skool wil doen,” sê Juli.

Volgens Karen kan jy in Thailand tussen R10 000 en R20 000 per maand verdien.

Juli sê ook die salarisse wissel van R4 000 (met gratis verblyf en etes tydens werkure) tot R35 000 per maand. “Maar dit hang af van jou kwalifikasie en die land waar jy werk.

“Mense wat reeds 'n graad het en 'n bietjie meer geld wil verdien, verkies om in Suid-Korea en die Midde-Ooste te gaan Engels gee,” sê Juli. Dan kan jy tot R35 000 per maand verdien, maar dit wissel ook na gelang van die land en jou kwalifikasie.

Ál meer Suid-Afrikaners verleng hul Engelsonderrigkontrakte in die buiteland omdat hulle baie geld verdien.

Moontlike nadele is dat sommige mense swaarkry omdat hulle voel hulle het nog nie genoeg lewenservaring om direk ná skool onderwys te gee nie of hulle voel dalk oorweldig deur die kultuurskok.

Volgens Juli kan mense Tesol Suid-Afrika kontak as hulle in die kursusse belangstel.

Vir werkgeleenthede is reisagentskappe of 'n agentskap soos GoldKey Education ’n goeie plek om aan te klop.

Werk by 'n somerkamp in die VSA

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die program om by somerkampe in Amerika te werk raak volgens Karen ook ál gewilder. Dié program, waar jong mense help om na kinders by dié kampe om te sien, strek gewoonlik van Mei tot einde Augustus, en daarna het jy 30 dae om deur Amerika te toer. 

Jy moet minstens 19 jaar oud wees en moes verkieslik al met kinders gewerk het, soos as afrigter, onderwyser of jeugwerker.

“Somerkampwerk betaal nie vreeslik baie nie, maar jy sal genoeg verdien om te oorleef terwyl jy daar is. Die kans dat jy met ’n wins gaan huis toe kom, is skraal omdat jy waarskynlik die meeste van die geld gaan gebruik om ’n bietjie van Amerika te sien,” sê Karen.

Van die voordele is dat jy mense van oor die wêreld heen ontmoet en baie tyd in die buitelug deurbring. Volgens Karen is dit harde werk om by so 'n somerkamp diens te doen.

“En ongelukkig is dit 'n korttermynkontrak van drie maande,” sê sy.

Reisagentskappe kan jou met inligting oor somerkampe in Amerika help.

Pasop vir dié slaggate

“Moenie jou oorbruggingsjaar sonder 'n doelgerigte plan aanpak en op die ou einde min bereik nie. Dit kan daartoe lei dat jy selfvertroue verloor omdat jy toekyk hoe ander rondom jou sukses behaal,” waarsku die loopbaanafrigter Carol Millar.

“Maak seker jy het 'n begin- en einddatum vir jou oorbruggingsjaar. Jy kan ná jou eerste jaar nog 'n jaar aanpak en nuwe doelwitte stel, maar moenie in 'n tweede oorbruggingsjaar indryf net omdat jy nooit doelwitte vir die eerste jaar gestel het nie.”

Hoewel jy dalk nie dadelik ná matriek gaan studeer nie, moet jy nie vergeet van universiteite en ander tersiêre instellings se spertye vir aansoeke nie.

Jy moet steeds aansoek doen vir jou kursus en te kenne gee jy wil in die jaar waarvoor jy die oorbruggingsjaar beplan, gaan studeer.

“Jy moet alles doen soos wat jy sou as jy wel gaan studeer het, soos om toelatingseksamens te skryf of ’n portefeulje in te lewer,” sê Carol. Jy kan daarna versoek dat jou aansoek uitgestel word.

“Dit beteken wel jy gaan meeding met die nuwe aansoekers vir die volgende jaar.

“Maak ook voor jou vertrek seker jy het al jou inentings gekry, en reël goeie mediese versekering,” sê Carol.

Net so moet jy oor die algemeen behoorlik vir jou oorbruggingsjaar begroot.

“Dit is sinvol om 'n noodfonds beskikbaar te hê vir wanneer onverwagte uitgawes opduik,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.