Jy wou al so ampertjies jou laaste versteekte bottel wyn nader trek en mismoedig daarmee op die bank neersak – ’n voorreg wat jou as die ouer én tuisonnie van ’n skoolkind deesdae nie meer beskore is nie.

Ná die laaste maande se frustrasie van tuisonderrig was die einde oplaas vir jou in sig: Jou kind kan weer terugkeer klaskamer toe . . .

Maar nadat pres. Cyril Ramaphosa op 23 Julie aangekondig het die skole sluit weer ingevolge die inperkingsmaatreëls weens die covid-19-pandemie – dié keer vir vier weke van 27 Julie tot 24 Augustus – sal jy maar weer die skoolboeke moet nader trek.

En moenie verkeerd verstaan nie, waarsku Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys: Die sluitingsperiode is helaas g’n vakansie nie.

“Skole moet reëlings met ouers van leerders tref om hul werk en bykomende materiaal te ontvang sodat die leerders tydens die pouse ten volle toegerus is en met skoolwerk kan voortgaan,” sê sy.

Matriekleerders sal ná 31 Julie weer kan terugkeer skool toe en gr. 7-leerders op 10 Augustus, maar die ander grade se leerders moet nou eers weer tuis leer.

Heimlik is baie ouers dalk bekommerd dat dit moontlik nie die laaste keer sal wees dat skoolkwartale onderbreek word nie – terwyl daar nog soveel vrae is oor die verspreiding van die coronavirus bly die toekoms onseker.

Miskien wil jy jou kinders die heen-en-weer van veranderende reëlings en die moontlike blootstelling aan die coronavirus spaar en hulle vir die afsienbare toekoms by die huis onderrig – of dalk oorweeg jy tuisonderrig nou selfs vir die eerste keer as ’n meer permanente opsie.

Dít is wat jy als moet weet.

WAT IS DIE OPSIES?

Die Suid-Afrikaanse Skolewet verplig elke ouer om elke kind tussen die ouderdomme van sewe en 15 jaar skool toe te stuur. Maar kommer oor die covid-19-pandemie word beskou as ’n geldige rede om jou kinders uit die skool te hou.

Motshekga het onlangs gesê ouers wat angstig voel om hul kinders terug skool toe te stuur weens vrees of oor komorbiditeite soos asma – wat hul risiko verhoog as hulle met covid-19 siek sou word – kan hul kinders by die huis onderrig, mits hulle geregistreer word vir tuisonderrig of inperkingsonderrig.

“ ’n Ouer is kragtens die Kinderwet verantwoordelik vir die welstand van hul kind, wat hul opvoedkundige welstand insluit,” beklemtoon Karin van Oostrum van die tuisonderrigorganisasie Pestalozzi Trust.

“Die verwydering van ’n kind uit ’n gevaarlike situasie is een manier om sy welstand te verseker.” Maar ouers wat hul kinders uit die skool haal, is verplig om toe te sien hul kinders se studie bly nie agter nie.

Tans het hierdie ouers twee opsies: Hulle kan vir inperkings- of tuisonderrig registreer.

  • Inperkingsonderrig is vir diegene wat van plan is om hul kinders net tydens die inperking tuis te onderrig tot die gevaar wat die virus kan inhou eindelik afneem.
  • Tuisonderrig is die meer permanente opsie, en dit geld vir ouers wat hul kinders onbepaald uit die skool wil hou en hulle vorentoe permanent tuis wil onderrig.

As jy jou kinders gaan terugstuur skool toe sodra die skole weer amptelik open, hoef jy hulle nie vir een van die twee te registreer nie en kan jy bloot tuis voortgaan met die skoolwerk wat tans deur jou kind se skool voorgeskryf word.

WAT BEHELS INPERKINGSONDERRIG?

Hoe doen ek aansoek?

Ouers wat hul kinders inperkingsonderrig wil gee, moet die skool waar die kind ingeskryf is, kontak en aansoekvorms hiervoor vra. Andersins kan vorms vir die verskillende provinsies op die departement van basiese onderwys se webtuiste gevind word: www.education.gov.za.

Hierdie aansoekvorm moet dan ingevul en vergesel word van die stawende dokumente, wat ’n motiveringsbrief insluit oor waarom inperkingsonderrig vereis word, en aan die onderwysdepartement gestuur word.

Panyaza Lesufi, Gautengse minister van onderwys, sê skole in Gauteng kan namens ouers deur die distriksdepartement aansoek doen.

“Goedkeuring van die aansoek sal binne sewe dae gedoen word en ouers sal ’n leerplan kry om te volg,” sê hy.

Andersins kan ouers die onderwysdepartement se webtuiste raadpleeg om koördineerders vir inperkingsonderrig in hul distrik te vind om met die aansoekproses te help.

As ’n leerder egter weens ’n komorbiditeit of weerlose familielid wat saam met hulle woon, moet tuisbly, raai Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid- Afrikaanse Onderwysersunie, ouers aan om heel eerste met die skoolhoof te gesels voor ’n formele registrasieproses vir inperkingsonderrig gevolg word.

“Dis belangrik dat ons nie pedanties raak en alle ouers verplig om sulke leerders formeel te registreer nie – veral midde-in die pandemie,” sê Chris.

“Dit behoort ’n reëling tussen die ouer en die skoolbestuur te wees.”

Karin voeg by: “Dit is belangrik om kontak te hou met die skool waar jou kind geregistreer is rakende jou planne vir die komende maande. Maak dit duidelik aan die skool dat jy beplan om jou kind te laat terugkeer nadat die gevaar verby is.”

Panyaza sê ’n leerder wat inperkingsonderrig kry, word steeds as deel van die skool beskou en sal dus hul departementele inligtingsnommer (EMIS) behou en op al die databasisse vir skoolonderwys aangeteken bly.

Watter kurrikulum volg ek?

Vir inperkingsonderrig moet jy hou by die kurrikulum wat jou kind reeds op skool volg – die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV, of Caps soos dit bekendstaan) in die meeste gevalle.

“Ouers moet toesien dat kinders die nodige toets- of werkkaarte volgens die kurrikulumvereistes doen,” sê Deon.

As die kind nog tuis is wanneer die jaareindeksamen aanbreek, moet ouers ’n assessor (enige gekwalifiseerde opvoeder) kry om te help met die assessering van die kind.

Vra jou kind se skool om hulp oor hoe om ’n assessor te vind. Kry KABV-materiaal en ander aanlyn hulpbronne vir tuis- en inperkingsonderrig by www.education.gov.za.

Moet ek aanhou skoolgeld betaal?

Ouers wat inperkingsonderrig kies, moet voortgaan om skoolgeld te betaal terwyl hul kind by ’n skool geregistreer bly.

“Leerders met komorbiditeite bly steeds op die skoolregister nadat hulle reëlings met die skoolbestuur getref het,” sê Chris.

“Hierdie ouers bly dus verantwoordelik vir skoolgeld.”

Diegene wat as gevolg van werkloosheid sukkel om skoolgeld te betaal kan aansoek doen om ’n vrystelling – ongeag of hulle hul kinders skool toe stuur of by die huis onderrig. Om nie skoolgeld te kan betaal nie is dus nie ’n voldoende rede om jou kinders tuis te hou nie.

Dis ’n uitdagende tyd in jou kind se skoolloopbaan
Dis ’n uitdagende tyd in jou kind se skoolloopbaan, maar daar ís opsies om die spanning hok te slaan, selfs al wil jy jou kind glad nie vanjaar terugstuur skool toe nie. Foto: Getty Images/Gallo Images

WAT BEHELS TUISONDERRIG?

Hoe registreer ek?

Jy moet as’t ware kennis gee by die skool waar hulle tans is en ’n oorplasingsertifikaat vra, verduidelik Jacs Lemmer, voorsitter van die Gautengse Vereniging vir Tuisonderwys.

Jy kan die tuisonderrigaansoekvorm óf by die skool aanvra of andersins by www.education.gov.za bekom.

Maak seker jy kies die regte vorm vir die provinsie waarin jy woon.

“Elke provinsie het sy eie reëls en regulasies – en dis van kritieke belang dat jy seker maak jy het die regte aansoekvorm,” verduidelik Jacs.

Jou voltooide vorm en ondersteuningsdokumente moet op die departement van basiese onderwys se webtuiste gelaai word.

Die departement verlang dokumente soos ’n gesertifiseerde afskrif van jou ID, ’n afskrif van jou kind se laaste skoolverslag, ’n weeklikse rooster, ’n leerprogram en ’n uiteensetting van die jaar se beplanning.

Jou aansoek is gratis, maar kan tot en met 30 dae neem om verwerk te word.

Jacs sê dis belangrik dat ouers hulself vergewis met die inhoud van art. 3 en art. 51 van die Skolewet (op die departement se webtuiste).

Art. 3 het te make met die prosesse en regulasie van tuisonderrig, en art. 51 handel oor die standaarde en kriteria vir so ’n aansoek.

Die registrasieproses kan ingewikkeld wees, waarsku Jacs.

“Die wet wat tuisonderrig betref, is in die proses om te verander, en die nuwe beleid wil die beheer oor tuisonderwys strenger maak. Die oogpunt is eenderse uitkomste vir alle onderwys in Suid-Afrika.”

Jacs stel voor ouers sluit by die Pestalozzi Trust aan, wat tuisopvoeders help om kinders se belange te beskerm. (Sien kassie onder)

Watter kurrikulum volg ek?

As jy jou kind permanent tuis onderrig, kan jy self ’n kurrikulum kies. Klop aan by organisasies soos Pestalozzi of Facebookgroepe (sien kassie) vir hulp hiermee.

Wat gebeur as ek my kind nou uit die skool haal vir tuisonderrig en ná die pandemie weer by ’n skool wil registreer?

Kinders wat gederegistreer word en later weer vir skoolonderrig geregistreer moet word, sal behandel word soos elke nuwe leerder wat aansoek doen om ’n plek in ’n skool, en jy kan dus sukkel om by jou voorkeurskool plek te kry.

“As jy beplan om jou kind volgende jaar of ná covid-19 te laat terugkeer, kontak die skool direk om uit te vind wat presies nodig sal wees vir hertoelating,” sê Karin.

JOU PLIGTE AS OUER EN ONNIE

Dit is ’n groot verantwoordelikheid vir ouers om hul kinders te onderrig; maak dus seker jy het die tyd en hulpbronne om hulle te gee wat hulle nodig het.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat die onderrig wat ’n leerder tuis ontvang minstens aan die minimum vereistes van die kurrikulum by openbare skole moet voldoen, en jy moet voortdurend bewyse lewer dat jou kind op koers is.

Ná die registrasie van ’n kind vir inperkings- of tuisonderrig sal ouers die volgende pligte moet uitvoer:

  • Bekom alle opleidingsmateriaal (boeke, ensovoorts) op eie koste.
  • Hou ’n rekord van bywoning en van die assessering van jou kind se werk.
  • Hou ’n portefeulje van die leerder se werk sowel as bewyse van ingryping en ander onderwysondersteuning. Sulke rekords moet beskikbaar gestel word vir inspeksie deur die provinsiale onderwysdepartement.
  • Kontak ander leerkragte om in voeling te bly met die jongste ontwikkelings in die onderwys. As jy jou kind vir inperkingsonderrig registreer, moet jy kontak hou met sy skoolhoof of onderwyser.
  • As jy op inperkingsonderrig besluit, volg jy steeds die kurrikulum van die skool en sal jou kind volgens die skool se maatstawwe geassesseer word.
  • As jy kinders in gr. 9 en ouer het en besluit om hulle permanent tuis te onderrig, moet jy hulle steeds by ’n openbare of onafhanklike skool registreer om vir die nasionale seniorsertifikaateksamen te kwalifiseer.
  • As jou kind in gr. 3, gr. 6 of gr. 9 is en jy hulle permanent tuis onderrig, word daar van jou bewyse verwag wat aandui of die kind die uitkomstes vir hierdie grade bereik het. Die departement het volgens Jacs nie tans spesifieke regulasies vir die “tussengrade” nie. Leerders in dié grade kan teen hul eie tempo werk, maar moet steeds die minimum vereistes behaal – in dié grade word dit deur die kurrikulumverskaffers nagegaan en nie deur die departement nie.
Tuis- en inperkingsonderrig is moontlikhede vir ou
Tuis- en inperkingsonderrig is moontlikhede vir ouers wat voel hul kinders kan dalk sukkel om die enorme agterstand met hul werklading in te haal. Foto: Getty Images/Gallo Images

HOE MOET ONS SAKE TUIS INRIG?

Ouers wat hul kinders by die huis onderrig, hetsy met inperkings- of tuisonderrig, word aanbeveel om na hierdie tydsduur vir onderrig te mik:

  • Gr. R-2: 23 uur per week
  • Gr. 3: 25 uur per week
  • Gr. 4-12: 27 uur en 30 minute per week

Die ouer moet ’n toepaslike onderrig- en leerruimte binne die huis toewys volgens die departement van basiese onderwys se tuisonderrigbeleid.

So ’n ruimte moet die volgende basiese minimum vereistes insluit:

  • ’n Deel wat dit vir die leerder maklik en moontlik maak om sy of haar skoolwerk te doen.
  • ’n Deel vir (of toegang tot ’n ruimte vir) liggaamlike opvoeding of sosiale speeltyd binne die omgewing van die huis of gemeenskap.

Kry hier nog raad

  • Ouers wat inperkingsonderrig wil doen, kan by die Facebookgroep Lockdown Schooling@Home SA aansluit vir gratis wenke van veteraantuisskoolouers.
  • Die Facebookgroep Educate@Home SA bied leiding aan ouers wat permanent tuisonderrig wil doen.
  • Sluit aan by die Pestalozzi Trust (pestalozzi.org) as jy tuisonderrig wil doen. Dit kos R1 200 per jaar en gee jou toegang tot kundige raad oor alle tuisonderrigaangeleenthede.
  • Kry inligting oor registrasie vir tuisonderrig op die departement van basiese onderwys se webtuiste, www.education.gov.za.
  • As jy permanente tuisonderrig oorweeg of daarmee worstel, sluit op 15 Augustus by Huisgenoot se aanlyn webinaar aan. ’n Paneel kenners sal al die aspekte van tuisonderrig tydens die kursus bespreek.

EN AS EK WAG VIR DIE SKOLE OM WEER OOP TE MAAK . . . SAL MY KIND KAN INHAAL?

’n Sogenaamde opvangprogram gaan dit vir leerders moontlik maak om die agterstand in te haal, sê Chris. Daar kan nie van leerders verwag word om vanjaar die hele leerplan te voltooi nie, sê hy.

“Die vraag word gevra: Watter aspekte van die kurrikulum is broodnodig sodat ons ’n leerder na ’n volgende graad kan skuif? Dís waarop leerders tot die einde van die jaar sal fokus, en die res van die kurrikulum vorm deel van die opvangprogram.”

Leerders sal dus die noodsaaklike deel voltooi, maar die res van die werklading sal in die daaropvolgende jaar by die leerder se werklading gevoeg word. Prakties beteken dit ’n gr. 9-leerder sal byvoorbeeld nog dele van vanjaar se kurrikulum in sy of haar gr. 10-jaar voltooi.

“Leerders sal met ander woorde twee jaar gegun word om in te haal – en dit sal verseker dat die werklading nie te veel is nie.”

Dis nog “heeltemal moontlik” om die kritieke komponente van vanjaar se kurrikulum te voltooi, sê Chris.

“Daar is natuurlik uitdagings. Maar assessering en toetsing moet gedoen word in die lig van heersende omstandighede – dit gaan nie op die tradisionele maniere plaasvind nie. Daar sal aanpassings wees in lyn met die volgende jaar se opvangprogram.”

Hy sê die oorspoel van die akademiese jaar tot in volgende jaar sal fyn beplanning verg, maar dit moontlik maak vir leerders om nie ’n agterstand te behou nie. 

EKSTRA BRONNE: TIMESLIVE.CO.ZA, STARTINGHOMESCHOOLING.CO.ZA, WESTERNCAPE.GOV.ZA, GOV.ZA. ENCA.CO.ZA, CAPETALK.CO.ZA, PESTALOZZI.ORG.ZA, SOUTH-AFRICAN-HOMESCHOOL-CURRICULUM.COM, EWN.CO.ZA, GOV.CO.ZA, BUSINESSTECH.CO.ZA, ELRC.ORG.ZA