Dis een van daardie nuwighede waarvan jy dalk nog nie gehoor het nie, maar waarvan jou tiener jou als kan vertel: TikTok, die app waarop jong mense van oor die hele wêreld hul kort video’s met miljoene ander deel.

Danksy ’n rits funksies en filters kan gebruikers van die app hul eie kreatiewe slag met poptreffers wys – dis byna soos karaoke op jou selfoon, maar met ’n gehoor van miljoene mense. Terwyl dit vir die meeste gebruikers net vet pret is, kan dit vir sommige ook ’n aanlyn hupstoot na roem gee.

Vra maar die rapper Lil Nas X, wie se ­treffer “Old Town Road” vanjaar op treffer­parades geboer het.Die 20-jarige ster se doopnaam is ­eintlik Montero Lamar Hill, en as tienerseun van Georgia in Amerika het hy sy musiek op SoundCloud en Twitter gedeel – sonder veel sukses. 

TikTok

En toe, in Februarie vanjaar, deel hy ’n verkorte weergawe van sy liedjie “Old Town Road” op TikTok. Soos blits het miljoene TikTok-­gebruikers hul eie video’s begin deel met dié liedjie as klankbaan. 

Te danke aan dié gewildheid het Lil Nas X se liedjie ’n treffer geword en teen April vanjaar die eerste plek op die Amerikaanse Billboard-trefferparade behaal.Maar waaroor gaan die bohaai?

Waar kom dit vandaan?

TikTok is in 2016 onder die naam “Douyin” in China ontwikkel en bekendgestel as ’n app waarop mense video’s kan deel waarin hulle sing of iets snaaks of interessants doen.

In 2017 het die Chinese ­internetreus ByteDance die gratis app onder die naam TikTok buite China bekendgestel. Toe ByteDance die reeds gewilde app musical.ly oorkoop en die inhoud van dié app, asook sy bestaande 100 ­miljoen gebruikers, by TikTok voeg, het dit geblom. 

Die app is vandag beskikbaar in 155 lande, waarvan Amerika, Japan en Indië die grootste markte is. In Februarie vanjaar is dit al ’n miljard keer op Apple se iStore en Google Play afgelaai. Dit is ook in Suid-Afrika onder jong mense gewild.

Sowat 500 miljoen mense is maandeliks aktief op TikTok – meer as op Twitter, Pinterest en Snapchat. En die app groei vinnig: In minder as drie jaar het TikTok net soveel aktiewe gebruikers gelok as wat Facebook in meer as vier jaar vermag het.

Dit het Instagram ses jaar geneem om soveel gebruikers te kry as wat TikTok in net drie jaar gekry het. 

Hoe werk dit? 

Die app maak dit moontlik om ’n profiel te skep en dan jou eie video’s daarop op te neem. Dit bied ’n groot reeks klank­grepe, onder meer uit liedjies, asook ’n rits filters en spesiale effekte om by jou video te voeg en dit kreatief aan te bied.

Jy kan lipsing en dans op die klanke van poptreffers, komiese dinge en kulkunsies aanvang, die video vinniger of stadiger laat speel of snaakse memes maak. Die video’s is kort – gemiddeld 15 sekondes lank.Jy kan ook ’n profiel skep en dan net na ander se video’s kyk.

In hierdie prettige TikTok-­video wys die aktrise Reese Witherspoon van die reeks Big ­Little Lies hoe sy binne sekondes van in ’n japon tot in ’n swart nommertjie transformeer.
TikTok
In hierdie prettige TikTok-­video wys die aktrise Reese Witherspoon van die reeks Big ­Little Lies hoe sy binne sekondes van in ’n japon tot in ’n swart nommertjie transformeer.

Die miljoene grepe waarna gebruikers op die app kan kyk, is uiteenlopend: Daar’s byvoorbeeld ’n video van ’n meisie wat haar gesig goud verf en dan in ’n Oscar-beeldjie trans­formeer, ’n video van ’n seun wat in en uit sy selfoonskerm klim, en derduisende van jong mense wat op bekende treffers lipsing terwyl hulle te danke aan die filters van gedaante verander.

Die app het ’n “Discover”-blad met ’n ­indeks van gewilde hutswoorde wat gebruikers kan inspan en uitdagings wat hulle kan aanpak wanneer hulle opneem.Die “For You”-blad se algoritme monitor en ontleed jou gebruikersgedrag om te sien wat jy geniet en bied dan soort­gelyke video’s vir jou aan.

Die nuwe generasie se speelplek 

Facebook is hul ouers se geliefkoosde ­sosiale medium, hoor jy tieners dikwels terg. Dit lyk of TikTok die aanlyn tuiste geword het vir Generasie Z – vandag se tieners en kinders wat in ’n digitale wêreld grootgeword het. 

Hulle is die selfgemaakte sterre van TikTok, want daar kan hulle na hartelus hul kreatiwiteit uitleef en deur hul eie tyd­genote vermaak word. Danksy die reusagtige aanlyn gehoor stort adverteerders nou ook baie geld in TikTok deur sosiale bemarkers.

Onder die grootste geldmakers is die getroude Amerikaanse paartjie Cole (23) en Savannah LaBrant (26), wat eers op ­YouTube bekend geword het.

Cole is na raming R40 miljoen sterk en Savannah sowat R30 miljoen. Die paartjie se TikTok-blaaie is vol video’s oor hul gesins­lewe saam met hul dogters, ­Everleigh (6) en Posie (10 maande). 

En nes Lil Nas X het verskeie ander opkomende jong musikante reeds platekontrakte gekry nadat hulle deur die TikTok-gemeenskap ontdek is.

’n Ster op eie bodem 

TikTok
Een van die groot plaaslike TikTok-sterre is Kelly Erns­tzen, ’n dansafrig­ter van Kaapstad.

In Suid-Afrika is die app al meer as 5 ­miljoen keer deur Android-gebruikers afgelaai – meestal deur mense tussen 18 en 24 jaar oud.

Een van die grootste plaaslike TikTok-­sterre is Kelly Ernstzen (27), ’n dans­afrigter van Kaapstad. Sy het 544 000 ­volgelinge op die app.

Kelly het in 2016 op die oorspronklike musical.ly-app pretvideo’s gemaak. Ná die oorgang na TikTok het sy meer begin skep en het haar aanhang toe­geneem.

 “Ek skep dans-, komedie- en leefstyl­video’s, asook video’s met ’n cross­over-element. My gunsteling is om die gehoor te laat kopkrap oor hoe ek ’n video gemaak het – soos wanneer ek myself in een raam verdubbel of towerkunsies doen,” vertel sy.

 “TikTok het soveel deure vir my oop­gemaak. Ek is al deur internasionale ­kunstenaars soos Major Lazer en San Holo gevra om hul musiek deur my dansvideo’s te bemark.” 

Sy word ook ­gereeld deur firmas genader om promosievideo’s vir hul produkte te doen – dit is nou vir haar ’n inkomstestroom.

“Nog ’n manier om geld te verdien is deur regstreeks op die app te stroom,” vertel Kelly. “Jy ontvang dan ‘geskenke’ van kykers waaraan verskillende monetêre waardes ­geheg word. Die geskenkpunte kan dan van jou TikTok-beursie onttrek en na jou PayPal-­rekening gestuur word.” 

Is dit veilig vir jou kroos?

Soos ander sosiale media kan TikTok deur ongure karakters en misdadigers misbruik word.

As jou kind se profiel nie geslote is nie, kan enigiemand na sy of haar video’s kyk en kommentaar lewer.

Dit maak dit makliker vir boelies, teisteraars en ander gevaarlike mense om met jong mense kontak te maak of onvanpaste kommentaar te lewer.

TikTok het ’n minimum ouderdoms­be­perking van 13 jaar. Die app vereis egter nie van voornemende gebruikers om hul ouderdom of identiteit te bevestig nie.

Dis moontlik vir bekruipers en teisteraars om vals profiele of meer as een profiel te skep.

Daar is ook gebruikers wat inhoud met vloekwoorde of geweld oplaai – en TikTok het nog nie ’n manier gekry om sulke inhoud van jong gebruikers weg te hou nie. 

TikTok het ook sy boelies. Hulle maak samestellings van ’n klomp video’s wat ­hulle as lagwekkend beskou en laai dit dan op YouTube om die spot te dryf met die skeppers daarvan. Dit word “cringe”-­same­stellings genoem.

Op hul webtuiste sê ByteDance dit is hul prioriteit om TikTok ’n opbouende en veilige ruimte te maak en dat die maatskappy voortdurend maniere probeer vind om onvanpaste inhoud vinniger te identifiseer en te verwyder.

TikTok het streng maatreëls oor onvanpaste kommentaar en gebruikers wat ander uitlok of kan bedreig. Oortreders kan geblok word. 

  • ’n Belangrike stap om kinders veilig te hou is om te verseker dat hulle die liggingsfunksie op selfone afskakel en hul ­rekening privaat stel.

Dit beteken hul profiel is dan geslote en verseker dat net die persone wat jou kind toelaat na die video’s op hul profiel kan kyk.  

  • Ouers kan ook nagaan wie hul kinders op TikTok volg en enige verbruikers wat verdag lyk van hul kinders se volglyste afhaal. 
  • Die beste is om jou kind bedag te maak op die gevare en seker te maak hulle sal dit met jou bespreek as hulle enigiets op die app teëkom wat hulle ongemaklik maak