Nou moet jy van voor af ’n verhouding met daardie onderwyser vestig sodat julle op die hoogte kan bly van wat in jou kind se lewe aangaan en belangrike dinge op ’n sinvolle manier kan kommunikeer.

Maar hoe benader jy dié kommunikasie – hoe skep jy ’n oop kanaal tussen julle sonder om dáárdie ouer te wees wie se WhatsApp-boodskappe die onderwyser teen die mure uitdryf? Wat is te veel, wat is te min, wat is genoeg? Jou kind se onnie is immers soos jou vennoot in jou kind se opvoedingsproses – hoe kan jy maak om te sorg dat jul verhouding een van wedersydse respek is?

Ons het by ’n opvoedkundige sielkundige en by onderwysers gaan aanklop vir raad oor hoe om dié belangrike kommunikasiebalans met jou kind se onderwyser te handhaaf.

Wanneer moet ek met hulle praat?

Selfs al het jy geen bekommernis oor jou kind nie, is dit goed vir die skool en onderwysers om te weet wie jy is, sê Inge Niewoudt, ’n opvoedkundige sielkundige van Krugersdorp. “As ’n onderwyser weet wie jy is, sal hulle jou makliker in kennis stel as hulle iets oplet voor dit moontlik ’n probleem is. Jy wil nie hê hulle moet dit los of eers in die vierde kwartaal vir jou vertel jou kind sukkel met iets nie,” sê sy.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daarom is dit belangrik om ’n kommunikasiekanaal tussen jou en die onderwyser te open. “Gaan stel jouself voor aan die begin van die jaar. Die meeste skole het ’n oueraand vroeg in die eerste kwartaal – gaan sien dan die onderwysers,” sê Inge.

As jy enige bekommernisse het of as jou kind leerprobleme het, moet jy al vroeër met die skool in aanraking kom. “Ek sien gereeld dat kinders sukkel, en wanneer onderwysers dan met die ouers praat, sê hulle: ‘Ja, ons het as gesin deur ’n moeilike tyd gegaan,’ ” verduidelik Inge.

“Sulke goed moet jy vooraf vir die onderwyser sê. As daar ’n traumatiese gebeurtenis is – ’n geliefde se dood, ouers wat skei, selfs ’n troeteldier se dood – enigiets wat jou kind emosioneel beïnvloed, moet jy die skool in kennis stel. Onderwysers kan dan ’n ogie oor jou kind hou en ook meer empatie hê as hulle nie hul werk doen nie of iets vergeet.”

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie kommunikasie is in die belang van jou kind, sê Annari Lingenfelder, ’n gr. 5-onderwyseres aan die Laerskool Garsfontein in Pretoria.

“Ons hoor eerder van jou en weet wie jy is as wat ons nie van jou hoor nie. Onderwys is vir byna almal van ons ’n passie. Ek belowe jou ek lê meer wakker in die aand oor die kinders in my klas en hoe ek hulle kan help as oor my eie kinders. Ek wil weet hoe ek hulle kan help,” sê sy.

Kommunikasie met onderwysers is net so belangrik met hoërskoolkinders, sê Inge.

“Dit gaan natuurlik minder wees. Maar woon steeds die oueraande by, selfs wanneer alles goed gaan. Indien daar enige emosionele uitdagings is wat jou kind erg ontwrig, moet jy die skool in kennis stel,” sê sy. Annemarie de Jager, akademiese hoof aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, beaam dit. “Enigiets wat leerders se akademiese vordering kan beïnvloed, asook emosionele uitdagings (behalwe die gewone tienergeite), moet aan die skool gekommunikeer word.”

‘As ’n onderwyser weet wie jy is, sal hulle jou makliker in kennis stel as hulle iets oplet’

Gebruik die regte medium – en praat met die regte onnie

Elke onderwyser en skool sal ’n spesifieke beleid hê oor hoe en wanneer ouers met onderwysers in verbinding kan tree. Vind uit wat dit is sodat jy nie ’n onderwyser op haar privaat nommer pla as sy dalk e-pos verkies nie – of iemand bel wat ’n WhatsApp sou verkies nie.

Annari gee self glad nie om as ouers haar tydens werkure WhatsApp nie. “Of stuur ’n e-pos en dan kan julle altyd besluit of dit nodig is vir ’n afspraak. Soms sal ouers vir my ’n WhatsApp stuur en sê ek het vir jou ’n nota in Pietie se dagboek geskryf, en dit werk ook,” sê sy.

Sy verkies e-pos pleks van WhatsApp, sê Vanessa Smeets, ’n Engelsonderwyseres aan die Lycée Jules Verne- internasionale skool in Pretoria.

“Dit is meer professioneel, en ek het gevind ouers respekteer nie altyd werkure nie. Ons is nie net ’n onderwyser nie; ons is ook ’n sielkundige en ’n mediator, maar dit is nodig om ’n kind se opvoeding as ’n span te benader.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons probeer baie keer ’n kind ook tydens ’n afspraak daar hê sodat hy of sy ook kan sê wat hulle pla, wat hulle wil bereik en dat almal dan op dieselfde bladsy is.”

Volgens Annemarie is e-pos die beste manier om ’n hoërskoolonderwyser te nader.

“Sluit dan ’n senior bestuurslid by die e-pos in (deur hom of haar te cc) sodat daar nog iemand is wat van die kommunikasie bewus is – verkieslik nie die hoof nie, maar ’n departementshoof, graadhoof of akademiese hoof.”

Die skool of betrokke onderwyser sal ook waarskynlik ’n beleid hê oor hoe vinnig jy ’n antwoord kan verwag – dit is dikwels dat onderwysers binne 24 uur sal antwoord, maar nie oor naweke nie.

Vind uit wat jou kind se onderwyser se benadering is sodat daar nie onnodige misverstande is nie. Met kinders in die grondslagfase – en in ’n mindere mate laerskoolkinders – is dit dikwels eenvoudig om te weet wie jy moet nader met enige probleme: jou kind se klasonderwyser.

Maar wanneer daar verskillende vakonderwysers, ’n graadhoof, ’n departementshoof en verskeie buitemuurse afrigters is, is ’n mens soms onseker wie die regte mens is. Kontak dan die skool se ontvangspersoneel om jou in die regte rigting te stuur. 

Oppas vir dié slaggate
  • Jy benader die onderwyser sonder respek. Onthou dat onderwys ’n professionele beroep is, sê Inge. “As jy bekommernisse het, bespreek dit met hulle en vra hul professionele mening. Sê byvoorbeeld: ‘Ek wil graag weet hoe jy dié toets of projek geassesseer het’ pleks van: ‘Ek dink jy was onregverdig.’ ” Erken dat die onderwyser die kenner op dié gebied is, en benader enige gesprek so.
  • Jy kry inligting namens jou kind. Wees versigtig dat jy nie bloot die onderwyser kontak vir huiswerk of inligting wat wel in die klas gegee is maar waarna jou kind nie opgelet het nie, sê Annemarie. “Leerders moet ook luister na aankondigings en opdragte, want dit is net te maklik as Mamma ’n oproep moet maak.” Inge beaam dit. “As jou kind nie geluister het in die klas nie en nie weet watter huiswerk om te doen nie, moet hulle die gevolge dra.”
  • Jy raak te emosioneel. “Ons kinders is natuurlik vir ons ’n emosionele saak,” sê Inge. “Maar probeer om nie jou emosie by die gesprek te betrek nie. Wees professioneel en hou die gesprek informatief.” So kan jy ’n konstruktiewe gesprek hê en nie net ’n afpaksessie nie – iets waarby jou kind nie eintlik gaan baat vind nie.
  • Jy is te knaend. Hou by die kommunikasie- raamwerk wat die onderwyser of skool daargestel het, en gee genoeg tyd vir die onderwyser om te antwoord. “Hou ook altyd by werkure, veral as jy bel of ’n WhatsApp stuur,” sê Inge. Dink ook altyd mooi of daar nie ’n maatjie se ma of pa is wat jou vraag sal kan beantwoord nie. 
  • Jy is ongeduldig. Ouers moet besef onderwysers se roosters is bitter vol, sê Annari. “Ons gee dalk skool net tot eenuur of tweeuur, maar daarna het ons dikwels sportafrigting en ander verpligtings. Dan moet daar voorberei word vir die volgende dag en ingehaal word met enige merkwerk. “Ek sit en vang op met e-pos in die aand wanneer my eie kinders in die bed is. Verstaan asseblief as ons nie dadelik ’n boodskap terugstuur nie en respekteer die feit dat ons ons eie kinders en gesin het.” 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Skryf in vir ons My Graadeentjie-kompetisie

Is jou kind vanjaar in Gr. 1? Indien wel, kan jy in aanmerking kom vir kontantpryse ter waarde van R12 500 asook verskeie geskenkpakke. 

  • Die eerste prys is ’n R6 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Tweede prys: R4 000 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Derde prys: R2 500 kontantbewys geborg deur Freedom Stationery.
  • Vir die oulikste glimlag is daar 10 Pritt-geskenkpakke beskikbaar ter waarde van R1 000.
  • En vir die beste houding kan jou kind een van 10 pare Toughees-skoolskoene ter waarde van R239.95 – R269.95 wen. 

Besoek die My Graadeentjie-webtuiste om in te skryf en vir die volledige bepalings en voorwaardes