Aan die een kant kry jy die tennisster Serena Williams, wat deur die jare by die Amerikaanse Ope op skeidsregters skree, haar raket breek en selfs dreig om ’n bal in die lynregter se “f***** keel af te druk”.

Aan die ander kant is Novak Djokovic, wat ná ’n nederlaag in die eindstryd van verlede jaar se ATP-jaareindtoernooi oorstap na sy teenstander, Alexander Zverev, wat van blydskap op sy rug neer­geslaan het, hom ophelp en omhels.

Ons praat hier van sportmanskap – of die gebrek daaraan.

Ons Blitsbokkaptein, Philip Snyman, is volgens baie sportliefhebbers ’n uit­stekende Suid-Afrikaanse rolmodel van goeie sportmanskap.

Philip het byvoorbeeld verlede jaar in die Londense toernooi van die Wêreldreeks ná ’n eindstrydnederlaag teen Fidji eers eerbiedig staan en wag om Josua Vakurunabili – op sy knieë besig met ’n dankgebed – geluk te wens.

En toe Suid-Afrika daarna in Parys die eindstryd teen Engeland wen, het hy eers na sy teenstanders en die skeidsregter oorgestap om blad te skud voor hy die groot oomblik saam met sy span op die veld begin vier het.

“Dit verg niks om goeie sportmanskap te betoon en dankie te sê nie. Onthou, een span kan nie ’n wedstryd speel nie,” het hy gesê.

Tog, waarsku baie mense, in ’n era van beroepsport, waar geld eerder as karakterbou die dryfveer word, is sportman­skap iets wat ons ál minder sien.

Dit geld nie net vir professionele sport nie.

Dink maar aan die Kaapse ma wat verlede jaar weens haar gedrag ’n ruk lank by haar dogter se netbalwedstryde verbied is.

Sy het ’n vriendskaplike wedstryd glo versuur toe sy teenoor die skeidsregter uitvaar en daarna boonop die afrigters van die teenstanders per e-pos bykom. Haar kind se skoolhoof het aan haar geskryf dat sy “ ’n volwassene sonder enige selfbeheersing is”.

Hoe kweek jy goeie sportmanskap by jou kind in ’n era waarin selfs sport vir ontspanning mededingend geraak het?

Wat is goeie sportmanskap?

“Regverdige, respekvolle en beleefde gedrag teenoor jou mededinger, en grootmoedigheid al verloor jy of jou span,” is dr. Rosa Bredekamp, ’n beradingsielkundige van Stellenbosch, se definisie van sportmanskap.

Dit gaan oor die ingesteldheid dat sport allereers daar is om geniet te word en nie net om te wen nie. Sport behoort deelnemers se karakter te bou.

“Jou etiese beginsels en waardes moet ook deurskemer in die gees waarin jy jou mededinger as ’n kameraad beskou en behandel,” sê Rosa.

“Sportmanskap vereis ook dat jy die reëls van die spel nakom en jou aan die skeidsregter se oordeel onderwerp.”  

Maar hoekom is so iets belangrik? Gaan deelneem nie eintlik maar oor wen nie?

Sportmanskap leer jou ander mense sukses gun selfs wanneer jy nie self bo uitkom nie. Dit help jou om ’n sin vir regverdigheid aan te leer, sê dr. ST Potgieter, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

“Dis belangrik dat kinders van jongs af sportmanskap aanleer, want eindelik vind dit ook neerslag in jou vol­wasse lewe, huwelik, verhoudings en beroep.” Kortom, dit leer jou om later mede­dingend maar terselfdertyd grootmoedig en medemenslik te wees, en hoe om teleurstelling te verwerk.

Een van die belangrike lewenslesse wat jy op die sportveld leer, is dat uit­dagings deel van die lewe is, sê dr. Ewald Crause, ’n sielkundige verbonde aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.

“Hoe ons opstaan in tye van beproewing is deurslaggewend in sportsukses sowel as op beroepsvlak.”

Hoekom raak sportmanskap deesdae so skaars?

Deelnemers se fokus het die laaste jare verskuif weens beroepsport se klem op prestasie en wen tot elke prys – en dit kon tot ’n afname in sportmanskap gelei het, sê die sportsielkundige dr. Jannie Botha.

Hy was al betrokke by Wêreld­bekerrugby-, Junior Springbok- en Blitsbokspanne en is nou ook die Bulls se spelerontwikkelingsbestuurder.

Rosa beaam dit.

“Daar is groter druk om die beste te wees. En wanneer wen die allesoorheersende doelwit is, kan ons swak sportmanskap op sy ergste sien.”  

Ewald meen mense benader sport deesdae as iets wat hulle aansien moet gee eerder as iets wat hulle net wil geniet. Die sterk wenmotief stel jong mense ook bloot aan druk waarvoor hulle nog nie gereed is nie en wat emosioneel oorweldigend kan word, verduidelik Ewald.

Volgens Loffie Eloff, die rugbyafrigter wat die Suid-Afrikaanse o.19-span na twee wêreldtitels gebrei het, eindig dit nie by druk en onrealistiese verwagtings van ouers nie.

“Die kinders ervaar ook druk van afrigters, hul skool self, gemeenskapsdruk . . .  

“Maar die wenmotief kan oordryf word en kinders op die duur benadeel.”

Hoe kweek ’n mens sport­manskap by kinders?

Eerstens deur die voorbeeld wat jy aan kinders stel, benadruk ST.

“Ouers en onderwysers kan nie hulself swak op en langs die sportveld gedra en dan verwag die kind moet goeie sportman­skap toon nie.”

Leer kinders dat sport genotvolle ontspanning bied, mense bymekaarbring en spangees bou, noem Rosa.

“En dat daar altyd ’n wenspan en ’n verloorspan gaan wees. Jou span kan nie altyd wen nie, maar verloor kan jou help om jou spel, tegniek en strategie te ver­beter. So word jou karakter ook uitgebou en leer jy teleurstelling hanteer.

“Ouers behoort kinders ook te leer dat mededinging met jouself die beste soort mededinging is; dis gesonde kompetisie. Dan is die fokus op die uitbou van jou talente en prestasies.

“Daar gaan altyd swakker of beter deelnemers wees as jy. Wie is dan nou eintlik jou maatstaf? Dit behoort mos niemand anders as jyself te wees nie!”

Hoe maak jy as jou sportmal kind dikwels verloor?

“Die eerste ding wat ek my kinders geleer het, is dat betrokkenheid belangriker is as prestasie,” sê Jannie.

“Tweedens, as jy jou bes gedoen het en dit was nie genoeg nie, is dit vir jóú goed genoeg. Maak net seker jy veg tot die einde – trouens, in alles wat jy aanpak,” benadruk hy.

Rosa sê as kinders nie in sport uitblink nie, is dit ekstra belangrik dat jy hulle moet leer om dit te geniet. Dalk moet jy dit ook oorweeg om hulle te help om ander talente te ontwikkel. “Kyk na sterk punte pleks van fokus op swak punte.”

Help so ’n kind ’n gesonde balans tussen verskillende dinge soos akademie, vriende, stokperdjies, kuns en kultuur vind.

“In die praktyk het ek al ’n kind ’n alternatiewe sportsoort help aanpak nadat ek met die ouers gepraat het,” sê ST.

“Of ons het die kind eerder aan ander belangstellingsvelde blootgestel  soos kulturele aktiwiteite. En heel dikwels het die kind dan daarin begin presteer. Kommunikasie tussen ouer en kind is belangrik om die kind iets te help vind waarin hy kan presteer en gelukkig sal wees.”

Hoe help jy ’n kind wat dikwels wen om ook nederig te bly?

Gee jou uitblinkerkinders die nodige erkenning vir hul prestasies, sê Ewald.

“Maar praat ook met hulle oor hoe hulle hul vaardighede kan benut om byvoorbeeld ander by te staan wat nie so vaardig is nie.”

Die uitblinkers kan dus hul maats in die fynere kunsies van hul sportsoort help touwys maak en so ook vriendskappe uitbou.  

Ouers kan hul jong sportsterre ook help om nederig te bly deur hulle te herinner hoe veeleisend die pad na sukses was en hoeveel mense – ouers, vriende, afrigters, ondersteunings­personeel en ander – hulle gehelp het om uit te blink.

“Moedig hulle aan om die mense te bedank wat hulle in staat gestel het om hul drome en doelwitte te verwesenlik,” voeg Rosa by.

Wenke vir ouers op die kantlyn
Gee erkenning vir goeie spel, ongeag watter span w
Gee erkenning vir goeie spel, ongeag watter span wen of verloor. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ouers moenie hul eie ego met hul kind se sport laat inmeng nie,” benadruk die sielkundige dr. ST Potgieter.

“Byvoorbeeld: Ek’s eufories wanneer my kind wen en diep terneergedruk wanneer hy verloor. Moedig bloot jou kind aan om dit te geniet. Jy’s nie in ’n kompetisie met ander ouers nie; dit gaan oor die kinders.”

Die gedragskode vir Suid-Afri-­kaanse skolerugby, asook Mary-Ann Dove, prestasieafrigter en medestigter van Positive Sport Parent, bied dié riglyne oor toeskouergedrag:

  • Moenie ’n spektakel van jouself maak nie.
  • Moenie heen en weer langs die kantlyn hardloop en “raad” uitskree of jou kind van die kant af “afrig” nie.
  • Bly kalm en bedaard terwyl jy kyk hoe jou kind deelneem.
  • Wees ’n rolmodel vir ander ouers.
  • Gee erkenning vir goeie spel, ongeag watter span wen of verloor.
  • Respekteer wedstrydbeamptes se besluite.
  • Moet nooit beamptes, spelers, afrigters of medetoeskouers beledig nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.