Dit klink soos ’n resep vir chaos: vier kinders jonger as 10 jaar in een huis. Maar die huishouding van Maureen van Helsen van Vanderbijlpark werk soos ’n goed geoliede masjien, met elkeen van die kinders wat hul kant bring met take in en om die huis.

“Almal het takies,” vertel Maureen oor haar kroos, onderskeidelik 9, 7, 4 en 2.

“Die oudste twee het hul eie kamers en maak soggens hul beddens op. Die jongste twee moet saans voor slaaptyd speelgoed wat rondlê, optel en bêre.”

Die kinders word van kleins af geleer om hul wasgoed saans met badtyd in die wasgoedmandjie te gooi en hul handdoeke op te hang. Die oudste kinders pak hul eie skoon wasgoed in hul kaste en help een maal per week om die vullis uit te vat, sê Maureen. Verder help almal met algemene opruimwerk.

“Ek kan sien die kinders is fluks en weet wat van hulle verwag word, en dit werk goed.”

Buiten dat dit haar nie ure vat om die huis op te ruim nie, lê die waarde eintlik in die lesse wat haar kinders leer, glo Maureen.

“Hulle moet verantwoordelikhede leer en weet dat iemand anders nie altyd jou vuilgoed gaan optel of agter jou skoonmaak nie.”

Huistake is inderdaad die ideale manier vir kinders om belangrike lewensvaardighede te leer, beaam Johanine Venter, ’n Suid-Afrikaanse arbeidsterapeut wat in die Verenigde Emirate praktiseer.

“Ons wil hê elkeen moet optimaal funksioneer in die samelewing. Dit beteken jy moet onafhanklik en selfstandig kan optree. Huistake is die ideale manier vir kinders om belangrike lewensvaardighede te leer,” sê Johanine.

Dit gaan eintlik minder oor die spesifieke take wat kinders doen en meer oor wat hulle daaruit kan leer, bevestig dr. Damon Korb, ’n Amerikaanse pediater en die skrywer van die boek Raising an Organized Child. Van hierdie lesse sluit in om uit te pluis watter stappe nodig is om ’n taak af te handel en vooruit te beplan.

“Ons probeer ook ons kinders leer dat daar dinge in die lewe is wat ons móét doen en ander goed wat ons wíl doen,” sê Damon.

Dis alles goed en wel, dink jy dalk, maar hoe kry ek my kinders so ver om my in die huis te help? Veral in hierdie tyd van die inperking waar almal meer as ooit tuis is en die huis dikwels ’n warboel is . . .

raad,huistake
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hier is raad

1. Moenie aandring op perfeksie nie

Wees realisties oor hoe goed jou kind ’n taak gaan kan afhandel – gebruik sy ouderdom en ontwikkelingsfase as riglyn. (Sien kassie vir leiding.)

Probeer ’n meer ontspanne houding hieroor handhaaf – help waar nodig en gee raad sover jy kan, maar moenie inspring en dit namens hulle doen nie.

Dit het geen opvoedingswaarde nie, en wanneer hulle ouer is, sal hulle weet as hulle iets half doen, gaan jy dit oordoen.

Jy sal geduldig moet wees, veral met jonger kinders waar jy weet jy kan iets in die helfte van die tyd – en beter! – afhandel.

“Onthou, dit gaan veral oor wat hulle leer – taakgerigtheid, deursettingsvermoë en doelgerigtheid,” sê Johanine.

2. Moenie uitstel nie

“Baie ouers wag te lank omdat ons dink kinders moet eers ‘reg’ wees. Maar dan benader jy dit verkeerdom,” sê Roger McIntire, ’n Amerikaanse sielkundeprofessor en die skrywer van Raising Good Kids in Tough Times.

Solank jy die regte take kies en realisties is oor jou verwagtings, kan kinders iets leer deur dit fisiek te doen, met jou raad en ondersteuning.

As ’n taak vir hulle “onmoontlik” lyk, kan jy hulle help om dit in kleiner, doenbare dele op te deel, sê Henriëtte Joubert-Pienaar, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria.

“Vra hulle om die eerste stap of twee te doen, en sê watter stappe jy dan daarna gaan doen wanneer jy by hulle oorvat.”

So kan jy hulle mettertyd meer verantwoordelikheid gee wanneer hulle meer selfvertroue met ’n sekere taak kry.

3. Wees opbouend

Gee opbouende terugvoer, sê Henriëtte. “Kinders voel trots as hulle kan bydra – en jy moet dit ook so aan hulle oordra.”

Gebruik woorde soos: “Dankie dat jy ons so mooi help in die huis” of “Mamma en Pappa waardeer dit”. Wanneer jy wil terugvoer gee oor hoe ’n taak gedoen is, is opbouende taal veral belangrik, verduidelik Henriëtte.

“Sê byvoorbeeld: ‘Ek weet jy kan volgende keer ’n beter plan maak’ of ‘Kom ons probeer weer’ .”

Sy beveel ook aan dat jy jou bes doen om nie dreigemente te gebruik om kinders te oorreed om huistake te doen nie – maak nie saak hoe moeilik dit is nie.

“Dreigemente op ’n jong ouderdom kan veroorsaak dat kinders minder belangstelling toon in hoe die huishouding werk, wat dit dan net nog moeiliker maak om hulle betrokke te kry – hulle het dan ’n negatiewe konnotasie daarmee,” sê Henriëtte. En moenie dink dis net jonger kinders wat geprys wil word nie.

“Ouer kinders het ook dié erkenning nodig en wil hoor hulle word waardeer en is ’n belangrike deel van die gesin.”

4. Maak dit pret

Kinders jonger as 10 sal byna altyd wil help as jy huistake met ’n prettige aanslag benader, sê Johanine.

“Maak opruim ’n kompetisie of ’n speletjie deur byvoorbeeld te sê: Kom ons kyk wie kan die meeste blokkies optel of die vinnigste hul wasgoed in die mandjie gooi.” Sy en haar kinders het ’n opruimliedjie wat hulle sing terwyl hulle opruim, sê Maureen.

Oorweeg iets soos ’n groot werkkaart in die kombuis of op die yskas waar elkeen se take aangedui en afgemerk word wanneer dit gedoen is – dit help kinders om te sien hulle is nie die enigstes wat take het nie; Ma en Pa bring ook hul kant deur byvoorbeeld die vullis uit te vat en kos te maak.

“Kinders moet voel hulle wil deelneem en help – en voel hulle is deel van ’n span,” sê Henriëtte.

As jou kind ’n bietjie ouer is, kan julle sy take saam in twee kolomme neerskryf: “Ek moet eers . . .” en “dan kan ek . . .”, verduidelik Johanine.

“Dan kan hulle in die tweede kolom invul wat hulle graag daarna sal wil doen.”

So iets help ook om ’n roetine te vestig – iets wat kinders veilig laat voel en help dat hulle presies weet wat van hulle verwag word.

raad,huistake
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Watter huistake kan ek van my kind verwag?

Hier is van die huistake per ouderdomsgroep wat die arbeidsterapeut Johanine Venter en die opvoedkundige sielkundige Henriëtte Joubert-Pienaar voorstel. Maar dit verskil van kind tot kind, en hierdie lys is net ’n riglyn, sê Johanine. “Hou jou kind dop – sommige kinders is vroeër of later gereed vir sekere take.”

Die belangrikste is om konsekwent te wees – moenie een week iets van jou kind verwag en dan die volgende week ’n hele ander lys vereistes hê nie.

2-3 jaar

  • Speelgoed opruim.
  • Vee op as jy gemors het.
  • Gooi klere in wasgoedmandjie.
  • Vat bord wasbak toe ná ete .
  • Afstof.
  • Boeke/tydskrifte op mekaar pak.

4-5 jaar

  • Help om wasgoed op te vou en weg te pak – begin met kouse/sokkies.
  • Kies eie klere en trek self aan.
  • Borsel hare.
  • Help om bed op te maak.
  • Help om snippermandjies leeg te maak.
  • Help om diere kos en water te gee.
  • Tafeldek/afdek.
  • Help ligte inkopies dra.
  • Blomme water gee.
  • Die skottelgoedwasser uitpak.

6-7 jaar

  • Maak self bed op.
  • Vou en pak wasgoed in die kas.
  • Handdoek ophang.
  • Help om inkopies weg te pak.
  • Help met kos maak en kan self ’n toebroodjie maak.
  • Help met skottelgoed was.
  • Help kosblik pak.
  • Help stofsuig/vee.

8-10 jaar

  • Pak skoon skottelgoed weg (mits hulle kan bykom).
  • Pak hul eie tas/sak uit ná skool/sport. Sorteer klere wat nie meer pas nie en speelgoed wat nie gebruik word nie.
  • Pak eie kas en laaie reg.
  • Tuin natmaak.

11+ jaar

  • Help met jonger broers en susters.
  • Help dinge regmaak om die huis.
  • Pak skottelgoed weg.
  • Help wasgoed was.