Jy het baie bene in jou lyf. Ook maar goed so, want sonder bene sou jy soos ’n drillerige jellievis gewees het. Jou bene dien as ’n raamwerk of geraamte vir jou liggaam en gee jou lyf sy vorm.

Met behulp van jou spiere en gewrigte maak jou geraamte dit moontlik dat jy kan sit, staan, loop, hardloop en beweeg.

Wat bene doen

Bene gee jou nie net ’n menslike gestalte nie; dit beskerm jou ook. Jou skedel is soos ’n valhelm van been wat jou brein beskerm. Jou rugmurg is ook ’n belangrike deel van die liggaam omdat dit boodskappe tussen die brein en die res van jou liggaam heen en weer neem.

Daarom word die rugmurg deur jou ruggraat, ook bekend as die werwelkolom, beskerm. Jou ribbekas bied weer beskutting aan noodsaaklike organe, soos die hart, longe, lewer en milt.

Die bekkenbeen, oftewel pelvis, beskerm onder meer die blaas en derms. Jou bene is lig genoeg sodat jy maklik kan beweeg, maar sterk genoeg om beskerming te bied en jou hele gewig te dra. 

Wanneer jy jou arm breek, kry jy gips. Dit hou jou arm stil sodat dit kan herstel.
Wanneer jy jou arm breek, kry jy gips. Dit hou jou arm stil sodat dit kan herstel.

Samestelling

Jou bene leef. Dit groei en verander. Babas het by geboorte meer as 300 bene in hul geraamte, maar wanneer hulle volwasse is, is net 206 bene oor. Die bene gaan nie verlore nie.

Baie van ’n baba se bene bestaan uit kraakbeen wat mettertyd deur harder been vervang word. Kleiner bene groei saam en word een groter been. Bene bestaan uit kalsium, fosfor, natrium en ander minerale en die proteïen kollageen.

Kalsium maak die bene hard. Kinders se bene het groeisones bekend as groeiplate waar kraakbeen langer groei en dan in harde been verander. Jou bene sal so langer word tot jy ophou groei – teen ongeveer 25 jaar.

’n Vergroting deur ’n elektronmikroskoop van sponsbeen.

Die meeste bene het vier dele:

  • Die beenvlies is ’n dun lagie buite-om wat propvol senuwees en are is en die been voed. 
  • Kompakte been is net onder die beenvlies. Dit is glad en baie hard. 
  • Dieper in die been kom sponsbeen voor. 
  • Binne-in baie bene sal jy beenmurg vind. Dit lyk soos jellie en is waar nuwe bloedselle vir die liggaam vervaardig word.

Gewrigte laat jou litte roer

Jou gewrigte is op die plekke waar twee bene bymekaarkom. Dit maak jou geraamte buigbaar. Die spiere rondom daardie bymekaarkomplekke help die bene om te beweeg of te draai. Jou spiere is met senings aan die bene vas.

By die gewrigte is jou bene ook met ligamente aan ander bene vas. ’n Ligament is ’n band van sterk bindweefsel. Kraakbeen, wat ’n buigsame, rubberagtige stof in jou gewrigte is, steun die bene en beskerm dit waar dit teen mekaar skuur.

Danksy die kraakbeen in jou lyf sal jou bene nie wegslyt nie. Sonder jou gewrigte (en spiere) sou jy glad nie kon beweeg nie.

’n X-straal­foto van ’n gesonde kniegewrig.

Daar is twee hoofsoorte bewegingsgewrigte:

  • Skarniergewrigte werk soos ’n deur se skarnier sodat dit heen en weer kan beweeg. 
  • Koeëlgewrigte maak beweging in alle rigtings moontlik.

Kan jy raai watter van jou gewrigte skarniergewrigte is en watter koeëlgewrigte?

Roer ’n bietjie jou litte en kyk of jy kan uitvind. Jou knieë en elmboë het skarniergewrigte. Dit kan net heen en weer beweeg. Jou heupe en skouers het koeëlgewrigte, wat in alle rigtings kan draai.

Probleme en siektes

Al is bene sterk, kan dit ook breek. Gewrigte kan beskadig word wanneer jy beseer word of weens siektes. Artritis is ontsteking in die gewrig wat dit laat opswel en so seer is dat jy sukkel om dit te beweeg. Al kry meer ouer mense artritis, kan dit ook onder kinders voorkom.

Wanneer ’n been breek of kraak, noem ons dit ’n fraktuur. Nuwe beenselle vul die gaping by die breekplek op en herstel dit. Die dokter sal daardie gebreekte been gewoonlik in gips of ’n hangverband sit sodat die been in die regte posisie kan bly tot dit vasgegroei en gesond is.

Die grootte van die stiebeuel, ’n gehoorbeentjie in die mid­del­oor, vergeleke met ’n muntstuk.

’n Mens kan ook nie al jou gewig op daardie been plaas nie; dis hoekom jy dan met krukke moet loop as die fraktuur in een van jou twee bene is. Dit kan maande duur voor die been weer 100% reg is.

Osteoporose is nog ’n siekte wat die bene aantas. Dit maak die been bros, dun en sponserig. Die bene kan dan maklik breek. Dié siekte kom meer onder ouer mense voor, maar kinders met ’n eetsteuring kan dit ook kry.

’n Groep beserings wat voorkom wanneer te veel stres op ’n liggaamsdeel geplaas word, staan bekend as ooreisingsaandoening. Dit behels pyn en swelling. Dit gebeur gewoonlik wanneer jy dieselfde beweging herhaaldelik doen, soos om te boul, viool of tennis te speel. Selfs videospeletjies kan tot ooreisingsaandoening lei!

Die menslike voet bevat 26 bene.

Skoliose oftewel sywaartse ruggraatverkromming kom voor wanneer jou rugwerwel te krom raak. Die toestand kan oorerflik wees; dus het iemand met skoliose dikwels familielede wat ook daaraan ly. Jy het seker ook al jou enkel geswik of ’n spier verrek. Dit kan maklik gebeur wanneer ’n mens sport beoefen.

Soms kan ’n sening selfs breek. Gelukkig kan die dokter dit met ’n operasie regstel. Ons kan nie altyd hierdie soort beserings vermy nie, maar gelukkig het die liggaam ’n ongelooflike vermoë om te herstel. 

Pretfeite
  • Die bene van die menslike liggaam word voortdurend vernuwe. Jy het gevolglik elke sewe jaar ’n nuwe been.
  • Jou voet bestaan uit 26 bene.
  • Jou hand, insluitend die pols, bevat 54 bene.
  • Die femur (dybeen) is die langste en sterkste been in jou skelet.
  • Die stiebeuel, ’n gehoorbeentjie in die middeloor, is net 2,8 mm lank. Dit is die kleinste en ligste beentjie in die menslike liggaam.
  • Volwassenes breek hul arm die meeste van alle bene. Kinders breek hul sleutelbeen die meeste.
  • Die mediese afdeling wat te doen het met die studie van die menslike skeletstelsel staan as ortopedie bekend.

Die video van ’n singende geraamte sal jou nog leer oor die bene in jou lyf:

Bronne: BIDMC.ORG, CYH.COM, BBC.CO.UK, SCIENCEKIDS.CO.NZ, KIDSHEALTH.ORG, WIKIPEDIA.ORG
Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES