Jy het seker al van Kleopatra gehoor. Stories oor haar word vandag nog vertel – selfs William Shakespeare het ’n drama oor haar geskryf. Sy was bekend vir haar skoonheid en liefdeslewe, maar feitlik alles wat ons van haar weet, is neergepen deur Romeinse skrywers wat haar wou afkraak omdat sy die vyand van die Romeinse keiser Augustus was. Kom ons probeer die feite en fiksie skei.

Wie was Kleopatra?

Kleopatra VII Thea Philopator was die laaste onafhanklike heerser van Egipte. Haar familie was egter Grieks en van die streek Masedonië. Sy was lid van ’n dinastie wat deur Ptolemeus gestig is. Hy was ’n generaal onder Alexander die Grote van Masedonië wat Egipte in 332 v.C. verower het. Kleoptara is in 70 of 69 v.C. gebore en was die derde kind van koning Ptolemeus XII, wat dood is toe sy 18 was. Omdat haar twee ouer susters voor hul pa dood is, het Kleoptara in 51 v.C. mede-heerser saam met haar 10-jarige broer, Ptolemeus XIII, geword. Sy het ook met hom getrou. Kleopatra wou nie die troon met hom deel nie en het sy naam van alle briewe en amptelike dokumente begin verwyder.

’n Griekse koningin en Egiptiese farao

Selfs as kind het Kleopatra in die Egiptiese tradisie, taal en godsdiens belanggestel. Haar Masedoniese familie, wat net Grieks gepraat en Griekse gebruike gevolg het, het al 300 jaar lank oor Egipte geheers toe sy gebore is, maar sy was die eerste een wat Egipties leer praat het. Sy het nege tale gepraat en is opgevoed in wiskunde, filosofie, redenaarskuns en sterrekunde. Sy het haar op godsdiensfeeste aan die Egiptenare voorgedoen as die godin Isis en het portrette in die tradisionele Egiptiese styl van haar laat skilder. So het sy haar posisie verstewig.

Rome se invloed in Egipte

In die 100 jaar voor Kleopatra se geboorte het Rome ál meer by die Egiptiese politiek betrokke geraak. Die Romeine wou hê Egipte moes deel van die Romeinse Ryk word omdat die land so baie vrugbare grond en water gehad het en sy ligging goed was vir handel. Die konflik tussen Kleopatra en haar broer het in 49 v.C. ’n hoogtepunt bereik en sy moes noodgedwonge na Sirië vlug. Die volgende jaar het sy met ’n leër teruggekeer. Intussen het die magtige Romeinse generaal Julius Caesar sy teenstander Pompeius na Egipte agtervolg. Ptolemeus XIII het toegelaat dat Pompeius vermoor word en het sy kop aan Caesar gegee.

Ontmoeting met Julius Caesar

Kleopatra het besef sy het Caesar se steun nodig as sy die troon wou terughê. Die generaal het in die koninklike paleis in Alexandrië gebly, maar Ptolemeus se soldate het die gebou omsingel. Kleopatra het toe ’n plan gemaak om haar te laat insmokkel om Caesar te sien: Haar diensknegte moes haar in ’n mat toerol en na Caesar neem. Sy het hom toe om hulp gesmeek. Caesar was beïndruk en wou ook hê haar pa se skuld aan hom moes terugbetaal word. Hulle het toe bondgenote geword. Nou was dit Ptolemeus XIII se beurt om te vlug en eindelik het hy in die Nyl verdrink. Caesar het van sy plan afgesien om Egipte te annekseer en het Kleopatra as leier gesteun. Sy is toe met haar 13-jarige broer, Ptolemeus XIV, getroud. Hulle het medeheersers geword.

Verhouding met Julius Caesar

Caesar en Kleopatra het ’n seun, Ptolemeus Caesar (met die bynaam Caesarion, “klein Caesar”), gehad. Caesar het die Romeinse burgeroorlog in 45 of 46 v.C. beëindig en Kleopatra is saam met haar seun en broer na Rome om hom te besoek.

Die Romeine was woedend, want Caesar was getroud en hulle het dit as skandalig beskou. Hulle het gedink die Egiptenare is dekadent en was bekommerd oor Kleopatra se invloed op hom. Toe Caesar in 44 v.C. deur sy eie mense vermoor word, het Kleopatra-hulle na Egipte teruggekeer.

Markus Antonius

Ptolemeus XIV is kort daarna dood en Caesarion het Kleopatra se medeheerser geword. Intussen was daar konflik in Rome tussen Caesar se bondgenote, onder wie genl. Markus Antonius, en sy moordenaars. Antonius en Caesar se erfgenaam, Oktavius, het saamgespan om die mag tussen hulle te verdeel.

Toe Antonius vir Kleopatra wou ondervra oor haar rol in Caesar se dood, het sy in ’n pragtige rok en versierde skuit opgedaag en Antonius so beïndruk dat hy ingestem het om Egipte te beskerm.

Oorlog teen Rome

Antonius en Kleopatra is getroud en Antonius het Caesarion tot Caesar se erfgenaam verklaar. Oktavius het die Romeinse senaat teen Antonius laat draai en hulle het oorlog teen hom en Kleopatra verklaar. In 31 v.C. het Oktavius hulle by Actium verslaan.

Toe Antonius gerugte hoor dat Kleopatra dood is, het hy sy eie lewe geneem deur op sy swaard te val.

Kleopatra se dood

Ná Antonius se dood het Kleopatra besef sy sou nooit vrede met Oktavius kon maak nie. Sy het besluit om liewer selfmoord te pleeg as om ’n slaaf te word.

Volgens legende het sy ’n giftige slang in ’n mandjie na haar laat bring en dit toegelaat om haar te pik.

Sy is in 30 v.C. dood. Sy was 39, het 22 jaar lank regeer en was 11 jaar lank in ’n verhouding met Antonius. Hulle is saam begrawe, soos hulle versoek het.

Val van ’n dinastie

Die Egiptenare het Cleopatra se seun by Caesar en haar medeheerser, Caesarion, ná haar dood tot farao verklaar, maar Oktavius het hom gevange laat neem en vermoor.

Haar drie kinders by Antonius se lewe is gespaar en hulle is na Rome geneem. Oktavius het keiser van Rome geword en homself Augustus (“die roemryke”) genoem.

Rome het eindelik volle beheer oor Egipte oorgeneem en die voormalige dinastie het ’n Romeinse provinsie geword.

Die ‘verleidster’

In Romeinse propaganda is Kleopatra uitgebeeld as ’n verleidster wat groot mans tot ’n val gebring het. Maar sy wou net haar mag beskerm en Egipte terselfdertyd onafhanklik van Rome hou – dis hoekom sy bondgenootskappe met Julius Caesar en Markus Antonius gesluit het.

Vanweë haar invloed op dié mans word dikwels geglo sy moes beeldskoon gewees het. Maar te oordeel na muntstukke uit dié tyd was haar voorkoms heel gewoon; dus glo baie biograwe vandag sy het haar intelligensie en charisma tot haar voordeel gebruik, pleks van haar voorkoms.

Bronne: britannica.com, history.com, historyextra.com, sjsu.edu, smithsonianmag.com, bbc.co.uk, biography.com, historyextra.com, ancient-egypt-online.com
Grafika: Huisgenoot-infografika