Weet jy hoe belangrik plante vir ons is? Sonder plante en die wonderlike werk wat hulle doen, sou die lewe op aarde soos ons dit ken nie kon bestaan nie. Deur ’n proses wat as fotosintese bekendstaan, gebruik plante sonlig om ’n gas, koolstofdioksied, en water in suiker te verander.

Hulle gebruik dan dié suiker om te groei. Terselfdertyd vervaardig hulle suurstof – waaroor ons baie bly is, want ons het suurstof nodig om te kan asemhaal.

Sonlig is plantkos

Alle lewende dinge het energie nodig om te leef, en energie kom van kos. Maar jy sien nie juis hoe plante ’n hamburger eet nie . . . Plante kry hul energie op ’n ander manier: Hulle gebruik fotosintese.

Dit is die proses wat plante gebruik om die energie van sonlig in voedsel te verander.

Tydens foto­sintese vervaardig plante ook stysel, wat op verskillende dele in die plant geberg kan word en ’n bron van voedsel is.

Verbeel jou fotosintese is ’n resep wat plante volg om kos te maak. Wat is die bestanddele in die resep?

Daar is ’n paar dinge wat plante benodig sodat fotosintese kan plaasvind:

  • Chlorofil: Dit is ’n spesiale groen pigment wat die energie vasvang wat die son na die aarde uitstraal. Sonder chlorofil sou plante nie sonligenergie in voedsel- energie kon omskakel nie. 
  • Sonlig: Dit is ’n soort energie. Plante gebruik dié energie om water en koolstofdioksied in glukose (suiker) te verander. 
  • Water: ’n Plant se wortels absorbeer water en voedingstowwe uit die grond. Die plante se “are” vervoer die water na die blare en vervoer weer die suiker wat in die blare vervaardig word afwaarts. Fotosintese kan slegs plaasvind as plante genoeg water het om die voedingstowwe te vervoer. 
  • Koolstofdioksied: Dit is ’n gas wat die plant deur die huidmondjies op sy oppervlak uit die lug haal. Plante het koolstofdioksied nodig om “asem te haal”, nes mense suurstof nodig het. 
  • Grond: Die minerale, voedingstowwe en water wat plante vir fotosintese benodig, kom alles uit die grond.
Groen plante is die hoofbron van suurstof op aarde. Sonder hulle sou lewe soos ons dit ken nie moontlik wees nie.

Hoe werk fotosintese? 

Fotosintese vind plaas in die groen dele van ’n plant, meestal in die plant se blare.

Die proses werk so: Wortels help die plant om water uit die grond op te suig, die hele pad na die plant se blare. Blare het almal klein openings, wat huidmondjies genoem word, waardeur koolstofdioksied bedags die plant binnegaan.

Wanneer die son skyn, absorbeer die chlorofil sonlig in die plant se blare. Met behulp van dié chlorofil word die water en koolstofdioksied omgeskakel in glukose, ’n soort suiker, en suurstof. Die suurstof word dan weer deur die huidmondjies op die blare van die plant vrygestel.

Die water in die plant se are vervoer die suikers na ander dele van die plant, waar dit geberg word. Dan word die suikers in stysel verander.

Plante kan stysel op verskillende plekke bêre: in blare (soos spinasie en blaarslaai); in vrugte (piesangs, appels en bessies); in die stingel (suikerriet); in sade (mielies, koring en neute); in blomme (broccoli en blomkool); en in wortels (soos geelwortels en beet). Die eerste deel van die proses, wanneer die chlorofil sonlig absorbeer, kan net gebeur wanneer dit lig is.

Die tweede deel, wanneer plante sonlig en koolstofdioksied gebruik om suikers te vervaardig, kan enige tyd gebeur – selfs in die nag.

Eenders, maar uniek 

Alle plante gebruik fotosintese om vir hulself voedsel te vervaardig. Hoewel alle plante sonlig en water nodig het om te leef, gebruik verskillende plante verskillende hoeveelhede van elkeen.

Plante gebruik die koolstofdioksied wat mense uitasem en omskep dit in voedselenergie en suurstof, wat ons weer nodig het om asem te haal.

Party, soos vetplante, het byvoorbeeld min water nodig, terwyl ander weer baie nodig het. Sommige plante hou daarvan om heeldag in die son te wees, maar ander verkies die koelte. As jy elke plant se unieke behoeftes leer ken, kan dit jou baie help om te weet hoe om vir hulle te sorg.

Siklus tussen mens, dier en plant

Waar kom die koolstofdioksied vandaan wat plante vir fotosintese benodig? Mense en diere neem suurstof uit die lug en vervaardig koolstofdioksied wanneer hulle asemhaal. Ons stel hierdie gas ook vry wanneer ons bosse afbrand of fossielbrandstof soos steenkool en olie verbrand.

Die huidmondjies, klein openinkies op blare se oppervlak, is amper soos porieë op jou vel.

Plante herwin dié koolstofdioksied en vervaardig suurstof tydens fotosintese. Hulle is die hoofbron van suurstof op aarde – sonder hulle sou daar nie dierelewe op aarde kon wees nie. Die stysel wat plante tydens fotosintese berg, verskaf ook weer kos vir mense en diere.

Plante is die vervaardigers van stysel; daarom is hulle uiters noodsaaklik om kos vir mense en diere te voorsien. 

Hoekom is chorofil groen?

Chlorofil absorbeer al die rooi en blou lig wat van die son af kom en weerkaats die groen lig; daarom lyk blare en plante wat vol chlorofilpigment is vir ons groen.

Fotosintese

Die woord “fotosintese” kom van die Griekse woorde “phos”, wat “lig” beteken, en “synthesis”, wat “om saam te sit” beteken.

Fotosintese beteken dus om lig te gebruik om iets te maak

Bronne: Biologywise.com, Easyscienceforkids.com, Edenproject.com, Ducksters.com; Foto's: Gallo Images/Getty Images